
Foto: Canva.com
Laaste reis
Wanneer ek eendag die doodsvallei betree
Sal ek my na my komvandaan toe haas
Oor die Piekenierskloof en
langs Algeria se afdraai verby,
tot by Sanddriff en die Wolfberg.
My gedagtes sal verby
Klawer kronkel
en by Vanrhynsdorp vir ’n lafenis stop
voordat ek die Knersvlakte aandurf …
Die Knersvlak sal ’n blommetapyt voor my uitrol
met malse gousblom- en botterblomkleure.
Ek sal verby Nuwerus en Bitterfontein kronkel,
vir ’n oomblik onder ’n doringboom gaan rus
voordat ek die laaste grens oorsteek
Die Groenrivier.
My oë sal die pers vygies teen die rante streel,
Ek sal teen die klipplate uitdans
saam met die koggelmanders en dassies;
ek sal uintjies grawe en bokhorinkies en koenebies pluk
en roosterkoek bak in ’n asbosskerm.
My vuurtjie se gloed sal die aandlug weghou
Wat ’n swart kombers oor Okiep se rante vou
terwyl ek vir die laaste reis
my teen die koue opkrul
in ’n matjiesgoedhuis.
Dan sal ek slaap.
Ek sal wakker word en dink,
die wêreld lyk vir my dan half-bekend …
Ek sal in ’n plaat blou sporrie gaan lê
en ek sal weet:
Die hemel was nog altyd net hierso
In Namakwaland gewees.
Kommentaar
Een van die mooiste gedigte wat ek nog ooit gelees het!!!
Hoe mooi . Ek sien in my geestesoog die pragtige wêreld wat so mooi beskryf word. Dankie.
Absoluut skitterend en aangrypend.
Ryk, Baie spesiaal, jou woorde tref diep. Ek hoop ons lees meer van jou
Sulke mooi waar woorde vol van hartsgoed en onthou
Goeie leesstof, gemaklike ritme, raak beskrywing en gebruik van ’n bekende verwysingsraamwerk. Sterk en verrassende afsluit. n Lekkerlees, weerlees
Ek beleef in my gees die hemel in die woorde van die besig. Besonders treffend.
Ons was saam op reis .Dankie
Soe, dit is aangrypend mooi!
Ai, ai ons woordeskat wat so vernuftig gebruik word. Bedank.
So uitstekend gedoen, baie geluk.