Laaste kommentaar op Roger Scruton

  • 0

Hierdie keer lewer ek kommentaar na aanleiding van my aanvanklik laaste skrywe oor Scruton (SêNet, 11 deser). 'n Mens kan sê dat Scruton hom op natuurlike of rasioneel-empiriese teologie verlaat omdat hy hom nie op gesagsbronne of bonatuurlike kennis beroep nie. Daar is deesdae al hoe meer die neiging om godsdiens van sy bonatuurlike ankers te ontneem of om sodanige metafisiese verwysings ten minste af te skaal. Oor die ortodokse hemel word minder gepraat en die hel het heeltemal uit die mode geraak.

Die taak van die Kerk word toenemend as die skepping van hemel op aarde beskou. Die gevaar hiervan is dat mense wat in die teologie opgelei is, hulle met talle sake bemoei waaroor hulle geen grondige kennis of insig het nie. Oorweeg in hierdie verband die dikwels afbrekende rol wat bevrydingsteoloë speel. Scruton se natuurlike teologie, daarenteen, is van 'n konstruktiewe aard.

Scruton het dit enersyds teen daardie natuurwetenskaplikes wat meen dat hulle alle kennis wat van belang is, in pag het. Wetenskaplike resultate is in werklikheid kennis wat voorlopig as die waarheid aanvaar word, dus totdat beter gefundeerde kennis beskikbaar kom. Sulke kennis is onvolledige of gedeeltelike kennis, veral wat die mens se gees betref. Andersyds het Scruton dit teen militante, dogmatiese of fundamentalistiese ateïste, soos die Nuwe Ateïste, waarvan Richard Dawkins die sprekende voorbeeld is. Hierdie ateïste baseer hulle oordrewe, aanmatigende en vir gelowiges kwetsende uitsprake op wetenskaplike resultate.

Waarna Scruton hunker, is die behoud van wat goed in die verlede was en steeds waardevol in die hede kan wees. Vanweë die onguns waarin religie na die Middeleeue en sedert die Verligting en die opkoms van die natuurwetenskappe verval het, het daar geestelike vervlakking en morele verval ingetree. Tereg meen Scruton dat teen sodanige agteruitgang gewaak moet word. As die hel nie bestaan nie, volg dit nie dat mense hulle maar sleg kan gedra nie. Die moontlikheid en wenslikheid om tussen goeie en slegte gedrag te onderskei, bestaan steeds.

Wat nodig is, is om die norme vir aanvaarbare en onaanvaarbare handeling anders te fundeer. Pleks van die Bybel of die priester te raadpleeg, kan rasioneel besluit word watter dade goed en watter sleg is, soos bv Immanuel Kant gedoen het. In die praktyk is die probleem dat baie mense nie die vermoë het om hulle moraliteit rasioneel te fundeer nie. In onderontwikkelde gemeenskappe is dit veel makliker om moraliteit op tradisionele gesagsbronne te baseer. Dit is sulke mense wat die ergste ontreddering ervaar as die gesag van bv die Bybel en die Kerk ondermyn word.

Scruton aanvaar nie sonder meer die oerknalhipotese nie. Die oerknal word deur wetenskaplikes as die aanvangsgebeurtenis van die heelal veronderstel. Afgesien daarvan dat dit eerder op spekulasie as kennis berus, is die oerknal eerstens nie noodwendig nodig. As alles in die heelal 'n oorsaak het, volg dit nie dat die geheel 'n oorsaak moet hê nie. Dit is so omdat wat vir dele van 'n geheel geld, nie noodwendig vir die geheel geld nie. As al die dele van 'n motor blou is, sal die hele motor noodwendig blou wees. Maar as al die dele van 'n motor goedkoop is, volg dit nie noodwendig dat die hele motor goedkoop is nie. Die heelal hoef dus nie noodwendig 'n oorsaak of begin te hê nie.

Tweedens is daar die probleem dat as die heelal letterlik alles insluit, daar per definisie niks buite die heelal is wat ingevolge kousaliteit (oorsaak en gevolg) die heelal kan veroorsaak nie. In die konteks van kousale verklaring kan 'n mens ook nie God buite die heelal as oorsaak van die heelal veronderstel nie, want dan kan om die oorsaak van God gevra word. Pleks van die spekulatiewe bestaan van God te veronderstel en tog nie daarin te slaag om alles (God en heelal) kousaal te verklaar nie, skyn dit verkieslik te wees om met 'n moontlik onveroorsaakte heelal te volstaan. Daarmee oorstyg ons dan nie ons sintuiglike ervaring nie.

Derdens, as daar 'n oerknal was, was dit nie noodwendig die oorsaak of begin van alles nie. Dit is moontlik dat die oerknal een van 'n (sikliese) reeks is; dat een knal mettertyd 'n volgende knal veroorsaak; dus dat die voorvoegsel "oer" liewer weggelaat moet word. Sodanige spekulasie het die voordeel dat die heelal nie eensklaps uit niks ontstaan het nie; die begin van wat die oerknal genoem word, kan met 'n vorige knal as oorsaak verklaar word.

Wat vir Scruton belangrik is, is dat alles nie aan kousale determinisme onderhewig moet wees nie. Hy is oortuig daarvan dat mense, veral wat hulle geestelike dimensie betref, ten minste in 'n mate vry is; dat mense dikwels hulle opsies oorweeg en dan besluit wat om te doen; dat al ons handelinge nie outomaties of refleksief is nie.

"Only what is knowable can be truly loved." In die konteks van wetenskaplike kennis beteken dit dat God net in soverre hy, ten minste in beginsel, sintuiglik-waarneembaar is, liefgehê kan word. Moontlik verduidelik dit die groot aanhang wat Jesus (eerder as 'n metafisiese God en selfs Christus, as die vergoddelikte Jesus) deesdae as rolmodel in 'n gesekulariseerde samelewing geniet. Daar is die bykomende oorweging dat mense net 'n vermenslikte God maklik of met oorgawe kan liefhê. Daar is al beweer dat as driehoeke 'n God gehad het, dit 'n driehoek sou wees.

Die Britte of Engelse word dikwels met (oordrewe) sentiment geassosieer. Scruton distansieer hom hiervan. Maar hy ontken nie 'n hunkering na die verlede, dus nostalgie oor wat was, nie. Een van die waardevolle tradisionele dinge wat in groot mate verdwyn of in die agtergrond beland het, is religie. Hy het tereg waardering vir minstens sommige kunswerke wat as uitdrukking van religieuse verering geskep is.

Scruton het na 'n kortstondige huwelik in sy jeug, wat hom twintig jaar lank ontwrig het, weer getrou, in sy vyftigerjare die vader van twee kinders geword en hom en sy gesin op die Engelse platteland gevestig. Hy is die orrelis van sy plaaslike Anglikaanse kerk en geniet die pragtige komposisies van bv Bach en Bruckner, asook die samesyn met gemeentelede. Dit is vir hom hemel op aarde. 'n Ander hemel kan hy hom nie voorstel nie en hy begeer dit ook nie. Dit gaan vir hom om die bevrediging wat hy uit sy huidige geestelike belewing put.

Hiermee is ek vir eers klaar met Scruton.

Johannes Comestor

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top