KykNET se Ons mense – Maandag 7 November

  • 0

Wat ’n wonderlike ineenweef van persoonlikhede vind mens nie op hierdie program nie. Max die rebel, Antjie die wyse en André die intellektueel. Met besondere konsentrasie kan mens nogal die gesprek volg. Hoe hartseer is dit dan nie dat nie die ANC- nog die SWAPO-leierskap (waarskynlik) nie die gesprek volg/kyk/luister nie!

Ons mense is ’n hele drie Afrikane (in my taal Afrikaners of Boere) wat met alle opregtheid die huidige politieke, ekonomiese, sosiale, armoedige Suider-Afrikaanse gemors wil uitpluis, verstaan, sin maak daarvan en oplossings wil vind. Erg en diep opwindend, soms selfs ’n effe tragies.

Veral omdat ons geslag nooit regtig die gemors begin het nie! Maar die tyd stap aan en nou is ons in ons laat veertigs, vyftigs of vroeë sestigs – EN ons sit getoebroodjie in ’n groot onverstaanbare moeras tussen ou dogmas en ’n jong, oproerende spul. Sonder enige werklike mag. Here help ons, want om uit te wyk na Kanada, Australië of Engeland is (en was nog nooit) enige antwoord nie.

En nie een van die drie praat reguit oor die liefde nie, terwyl dit ons heilige opdrag is. Liefde vir alle mense op hierdie aarde. Laat ons asseblief tog ’n forum vind en vanuit alle faksies bymekaar kom om verantwoordelike besluite te neem. Die ou voorvegters aan beide kante is klaar of amper dood, ons kinders is te dom, te honger, te onseker, te onverskillig – ons staan in die voorste linies en MOET nou besluite neem.

Ons mense se drie moet asseblief tog eers Windhoek toe kom – julle is welkom in my huis. Behalwe vir die groot eer wat dit sal wees, kan Namibië dalk ’n voorbeeld in die kleine wees van groot toekomstige moontlikhede.

Dannyboy

NS1: Me Krog se taal bly so uitmuntend suiwer, terwyl beide Max en Andre soms sukkel om by te hou. Ek erken dat “die Struggle” byvoorbeeld nie verstaan sal word as “die Stryd” nie, gegewe die politieke konnotasies – maar regtig manne, dit is en bly ’n Afrikaanse program.

NS2: Ek is nou skoon bewerig geskrik om Antjie Krog so op die naam te noem. Doer in 1983 is ek op erg seremoniële wyse, brandende kerse en al, ernstig afgesê deur my werklike lewensliefde op die maat van ’n gedig; “Ek is moeg vir jou nat neus in my lies” wel, of so iets … Sedertdien is ek nog aldeur ’n groot aanhanger van me Krog se literêre meesterstukke. En die lewe stap maar aan en maak die seer mettertyd minder.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top