kykNET-Rapport-prys vir niefiksie 2023: Die Kaapse slawe (1652–1838) deur Eunice Visser

  • 0

Wenner: Eunice Visser vir Die Kaapse slawe 1652–1838 (Protea Boekhuis)

Commendatio: Jeremy Vearey

Eunice Visser se kultuurhistoriese perspektief op die Kaapse slawe van 1652 tot 1838 is ’n rare werk van geskiedskrywing oor ’n onderwerp wat soms eensydig belig word. Dis ’n boek wat sy plek kan volstaan as ’n inklusiewe komvandaanstorie van die groter ons in Suid Afrika, met al sy uiteenlopende, maar tog saamvloeiende kwaste en greine. Sy vermag dit in toeganklike Afrikaans met die nodige diepgang sonder om in intellektuele hoogdrawendheid of anakronismes te verval. 

Deur die prisma van haar besonder vars kulturele invalshoek belig die skrywer die lewenswêreld van die slawe met seminale pitkos oor wat ons in Kaaps bedoel met die uitdrukking “alles-en-wat-wat”. Dit beteken nie dat sy lukraak veralgemeen en versamel het nie. Sy het forensies tot op die hibriede substraat van die slawewêreld gedelf.

Hierdie boek se alles-en-wat-wat strek van outentieke resepte en eiesoortige argitektuur en boukuns tot onderlinge verskille in arbeidspraktyke en subkultuur – iets wat generiese geskiedskrywing soms ahistories oorveralgemeen. Die besonderhede van verskille in taalgebruik, woordbou, geskiedenis en hibridiese geestelikheid onder Kaapse slawe word genuanseerd hanteer. Dit skryf nuwe ruimtes oop vir navorsing en geskiedskrywing oor dié onderwerp. Om aan ons slawevoorouers te ontleen: boenting met vars insigte vir die sekolah van die toekoms.

Tamaai – dis die enigste gepaste Kaapse slawewoord wat reg laat geskied aan die bronnestudie waarop hierdie boek berus. Dit geld die omvang soveel as die diepgang daarvan. Dis beslis veel meer betekenisvol as bloot magistraal.

Die gebruik van skilderye en sketse uit die periode 1652 tot 1838 dien ’n veel groter doel as die verheldering van die teks. Dis ook nie net blote kunswerke ter versiering nie. Met sinvolle opskrifte versterk dit die hoofteks doeltreffend, en verhelder dit ons begrip van die tydsgees wat bespreek word. Dis die spreekwoordelike koloniale blik, in sy volle multidimensionele glorie.

Die meesterlike hande agter die boek verdien ook vermelding – dié verantwoordelik vir die uitleg, die sorgvuldige redigering en die gehaltedrukwerk. Die fisiese boek is sy inhoud waardig.

Dis nie aldag dat mens in ’n commendatio die skrywer se loopbaan buite die boek loof nie, maar in hierdie geval is daar iets te sê oor die skrywer se atipiese profiel vir ’n geskiedkundige. Kultuurgeskiedenis is maar een terrein waarop sy haar sedert haar voorgraadse jare besig gehou het en waarin sy meer onlangs haar meestersgraad met lof verwerf het, juis oor die geskiedenis van die Kaapse slawe. Maar volgens die flapteks moet dramakunde genoem word, asook haar betrokkenheid sedert 2012 by verskeie aspekte van die rolprentwese. Sy was ook die sameroeper van die eerste Nasionale Jeugkoor in Namibië.

Onbetwisbaar veelsydig, dus, maar tog ook ’n baanbreker op haar spesialiteitsterrein. Net soos die slawe oor wie sy skryf, het sy met hierdie boek meer bygedra tot die kultuur van die groter ons as wat ons soms in algemene geskiedskrywing erken. Haar opgetekende geskiedenis van die slawe sal beslis ons insig in en bewustheid van ons gemeenskaplike komvandaan verbreed en verryk. 

’n Waardige wenner van die kykNET-Rapport-prys vir niefiksie.

Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2023.

Lees ook:

Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief by Eunice Bauermeester: book review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top