Op hierdie Donderdagoggend in Februarie sit ek en luister na die nuwe CD wat ek pas van Stef Bos ontvang het.
Ons leef in vreemde tye. Tye van vreemdelingehaat, beurtkrag, parlementêre chaos, bedreigings teenoor die vrye pers, rassisme van alle kleure en geure, plaasmoorde, werkloosheid, toenemende polarisasie en algemene pessimisme.
In hierdie tye bring Stef Bos sy eerste volledige Afrikaanse album uit, en hy noem dit Kaalvoet.
Op die omslag pryk Stef ordentlik kaalvoet, met sy tone wat behoorlik vir mens loer.
Hy lyk gelukkig.
Op die album klink hy meestal gelukkig.
Hy is duidelik in ‘n goeie plek in sy lewe. Meer ontspanne as ooit tevore, soos iemand wat weet waar hy hoort en wie hy is.
Waar is hy?
Hy is in Afrika. Hy woon in Kaapstad.
Hy is ook dol daaroor om deur die lengte en breedte van ons land te toer.
Van sy gunsteling-bestemmings, bestemmings wat al liedjies by hom geïnspireer het, is dorpies soos Naboomspruit, Drie Susters, Nelspruit; provinsies soos Mpumalanga; bergpasse soos Die Hel; en vele meer.
En wie is hy?
Hy is ‘n splinternuwe Afrikaner.
Uit die boks uit.
Die nuutste een wat ek ken. Pas gebore.
In ‘n tyd wanneer Afrikaners dikwels gehaat word, in ‘n tyd dat Afrikaners dikwels self soms bedruk voel en negatief ingestel word teenoor hul eie kultuur, het Stef ons volk as sy eie omhels, en verlief geraak, nie net op ons taal nie, maar sommer letterlik op ‘n fisieke Afrikaanse nooi, met wie hy nou getroud is en twee kinders verwek het, kinders wat hy met alle mag oor ‘n paar jaar na ‘n Afrikaanse skool wil stuur.
“Ek is ‘n wit ou van die noorde,/ Ek het gereis na hierdie land,” sing Stef op Kaalvoet.
Hy sing ook: “Jou volk is my volk/ Jou God is my God.”
Dit beteken nie dat Stef ‘n ver-regse heethoof is wat “Die Stem” sing en rassistiese grappe om die braaivleisvuur vertel nie. Hy omhels nie die clichés van Afrikanerskap nie. Inteendeel, sy album is stampvol etniese invloede en inheemse Afrikaklanke.
Sy liefde vir Afrikaans is ‘n liefde vir die taal binne die konteks van ‘n multikulturele opset.
Hy hou nie net van ons nie, hy hou ook van die plek waar ons woon, die mense tussen wie ons ons bevind.
Dit is nie my tyd en plek om hier ‘n resensie van Stef Bos se album te doen nie. Daarvoor is ek natuurlik nie objektief genoeg nie. Ek is veels te naby aan hom. Hy is een van my beste en oudste vriende. Hy is die peetpa van een van my kinders. Ek het ook die afgelope twee jaar byna voltyds saam met hom getoer en sy werk opnuut intiem leer ken.
Maar ek wil graag ietsie vertel van die dinge wat ek by hom geleer het, die idees wat hy oor die jare aan my afgegee het terwyl ek tyd met hom gespandeer het.
Om saam met hom te toer was louter plesier. Sy brandende optimisme, sy humorsin, en sy sin van persoonlike vryheid was vir my ‘n inspirasie.
Om eerlik te wees – en ek besef dit nou eers, hier waar ek nou sit met my koppie koffie en die klanke van Stef se musiek wat uit my computer spoel – my persoonlike en professionele verhouding met Stef Bos was tien teen een een van die groot redes waarom ek in die loop van die afgelope paar jaar besef het dat ek, ten spyte van ‘n uitspraak wat ek eenmaal in die verlede gemaak het, na alles tog ‘n Afrikaner is.
Hoekom het ek daardie dag, jare gelede, uit die Afrikanerdom bedank?
Oukei, ek was moeg van die stereotype beeld wat ander en onsself van ons gehad het.
Ek was ook sielsmoeg van dit wat ek gesien het as eng denke, paranoia en rassisme.
(Ek was ook ‘n bietjie gatvol vir die meeste Afrikaanse musiek, so tussen ons.)
Deur al die negatiewes – negatiewes wat weliswaar vandag nog bestaan – het ek versuim om die goeie raak te sien, die dinge van my volk wat puik en voortreflik en oulik en wonderlik is.
Ek het vergeet wat ‘n lekker klomp mense ons eintlik is.
My terugkeer was stadig. Ek dink dit het begin toe ek eendag deur die FAK-bundel blaai en my vrou my betrap dat ek in trane uitbars. Ek dink ook die idee het al meer by my posgevat toe ek kort daarna vir Die Taalgenoot, mondstuk van die ATKV, begin rubrieke stuur het.
Maar dit het ‘n buitelander gevat om my régtig al die positiewe dinge van my land en nasie te help raaksien.
“Jy kla oor dit en jy kla oor dat …/ Kry jou gat in rat!” sing Stef op Kaalvoet.
Eenvoudige raad, maar ons kan dit gerus ter harte neem.
Ek hét dit ter harte geneem.
Natuurlik is dit nie altyd maklik nie. ‘n Positiewe uitkyk is moeilik. Dit verg soms baie moed. En om te ontken dat ons in uiters gevaarlike en beklemmende tye leef, sou gekheid wees.
As ons ‘n positiewe houding wil aankweek soos Stef ons aanraai, sal ons dit moet doen in volle bewussyn van die probleme waarmee ons worstel. ‘n Mens kan nie ‘n vrolike deuntjie neurie of fluit terwyl jou kop in die sand begrawe is nie.
Ons moet die lelike dinge en die onaanvaarbare gebeure en die aakligheid reguit in die oë kyk – soos Maimane met Zuma gedoen het daardie onvergeetlike dag in die parlement, skaars twee dae gelede hier waar ek nou sit – en jy moet steeds kan sê, met selfvertroue, regop en fier: “Ek is ‘n Afrikaner, en ek glo in ‘n toekoms van my land, Suid-Afrika, en in die toekoms van al my mede-Suid-Afrikaners.”
Natuurlik sal dinge beter raak. Dalk nie dadelik nie. Dalk gaan dinge slegter raak voordat dit beter raak. Dalk gaan dit báie slegter raak voor dit beter raak. Ek weet nie. Ek hoop nie so nie.
Eintlik het ek hierdie stuk begin skryf vanoggend om as voorwoord te dien vir ‘n bundel van my eie Afrikaanse rubrieke wat later vanjaar by Penguin verskyn. Ek besef nou eers dat dit dalk op die ou end meer is as net dit.
Tye verander, en tye verander soms vinnig, teen ‘n verstommende tempo, soos ‘n handomkeer.
Dis moontlik, in ‘n “worst-case scenario”, dat beurtkrag sal plek maak vir ‘n volslae duisternis. Dis moontlik dat ons wankelende strukture heeltemal in duie sal stort. Dis moontlik dat die tientalle slaggate wat ons nasionale paaie versier, sal vergroot en verdiep tot reusagtige dongas wat alles insluk en vernietig, soos die universele kloof van die volksdigter se ou apartheidbeiteltjie.
Ons is, selfs nou, met die skrikwekkende moontlikheid dat die fenomeen van xenofobie (op subtiele wyse aangemoedig deur die ANC, ten spyte van die feit dat hulle voorgee om die aanvalle op Somaliërs en Malawiërs te veroordeel) kan groei tot 'n Nuwe Apartheid, en tot 'n felle haat van die regerende elite teen alle minderheidsgroepe.
As hierdie regering nie daarin slaag om Suid-Afrika te verdeel sodat hulle meer effektief oor ons kan heers nie, sal die sotterny wat deur verlede jaar se Malemas en Hofmeyrs begin is, eindelik tot ‘n tweede Serbië lei. Ons wil dit nie glo nie, en ons hoop dit gebeur nie, maar dis moontlik.
Bereik ons ‘n sekere “tipping point”, kan so ‘n ondenkbare situasie feitlik oornag ontwikkel. En dan sal die spreekwoordelike “nag van die lang messe”, deur soveel paranoïese volksvaders in die vooruitsig gestel, ‘n selfvervullende profesie word.
Ergste van alles, dit sal ons eie skuld wees. Nie ten volle nie – ons is nie verantwoordelik vir die waansin van die Zuma-kaders nie – maar ons sal skuldig wees aan die sonde van versuim, die sonde van te veel blaam en te min aksie toe dit nog kon tel, toe dit nog kon help om mense saam te snoer en bewus te maak van hul gemeenskaplike identiteit as Suid-Afrikaners, hul bolwerk teen die banale, hul skild teen die skande en die skrik van die dreigende diktatuur.
Hierdie is moeilike tye.
Maar dis nie noodwendig nie. Wie weet, selfs binne-in die ANC is daar dalk manne en vroue van integriteit wat op hierdie oomblik agter die skerms hard werk om die skip om te draai en in die regte rigting te stuur.
Hierdie is ook tye van hoop.
Daarom luister ek vanoggend na Stef Bos. Ek luister na hom, want soos Paulus van ouds wil ek my lendene omgord met sy kommensens-waarhede, wil ek myself klee in die volle wapenrusting van humor en liefde en versoening en selfrespek en wedersydse aanvaarding en moed en optimisme, ja optimisme en geloof teen alles wat venynig, flagrant boos, vieslik en plein simpel is.
Ek luister vanoggend na Stef Bos. Ek luister na hom, en ek hoor hom sing:
Want hierdie land is nie die hemel
En al kak jy soms af
Sal ons kuier tot die einde
Sal ons sing tot in die graf
Moenie huil nie, moenie treur nie
Daar’s nuwe dag vir elkeen wat jy verloor
Moenie huil nie, moenie treur nie
Kyk noord, gaan voort …
Lees ook 'n onderhoud met Stef Bos betreffende Kaalvoet.
| Hierdie bydrae sal gedeeltelik dien as voorwoord tot Koos Kombuis se rubriekbundel Ver in die wêreld, sushi wat later vanjaar by Penguin Random House verskyn. |


Kommentaar
Beste Koos
Heel gawe bydrae. Ek het al in baie bekgevegte betrokke geraak oor die situasie in ons land en oor die algemeen net argumenteer omdat ek lus is. Ek het al paar ouens moerig gemaak. Selfs in my vorige lewe (bedeling) het ek al met die "sisteem" gestoei en stoei met die huidige een ook. My ma wou my reg moer omdat ek altyd stroom-op was en die laaste sê wil inkry.
Jy skryf dat Stef Bos gelukkig is. Dit is seker een van die beste ervarings gevoeltes wat mens kan hê en dit is om in vrede met jouself te leef. Geen gemoedsbekakkings van enige aard nie. Ek sê altyd ek is nou op die stadium van my lewe dat ek nie my steur aan wat ander oor my skinder nie. Skinder hulle wys dit hulle het nie van my vergeet nie. Ek is bly mnr Bos het die land sy tuiste kom maak. Ek dink hy sal gelukkig hier wees. Dit is nie te goor plek nie, net jammer hier en daar kry jy 'n lieplapper wat jou opklits. Ek het net een hoop en wens vir die land. Ons moet ons gesindheid reg kry. Dit is nie net van een kant af nie maar oor die algemeen. Met 'n regte gesindheid kan jy vêr kom en nie net altyd wil veg en baklei nie.