Kyk in die spieël en staan dan op

  • 0

Skets deur cdd20 van Pixabay

Iemand wat na die woord luister maar nie doen wat dit sê nie, is soos iemand wat na sy gesig in ’n spieël kyk: Hy kyk na homself, gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar wie hom verdiep in die volkome wet wat vryheid bring, en hom daaraan hou ... hy sal geseën word in wat hy doen.

- Jakobus 1:23–25

Hoeveel staar na hul skerm, staan op, en vergeet dadelik wat hulle gekyk of gelees het? Jakobus se punt is nie die kyk nie. Dit is die onthou om te doen.

Die skerm van ’n foon lyk donker. Dan skakel dit aan. Prentjies flikker op. Dit rangskik, herhaal, voltooi sinne en boots ’n stem na. Soekend na ’n sein in verlange vir die verganklike aandag en die waardering uit ’n onsigbare gehoor.

Die skerm is nie boosheid nie. Dieselfde glas kan ’n kind vir Ouma laat wuif, ’n gedig skryf, ’n psalm sing, ’n stem wat om hulp vra, uitsein, ’n gedagte op LitNet deel.

Die medium is nie die sonde nie. Die struikel kom wanneer die kyk die plek van doen inneem: wanneer jy na ’n mens op jou skerm staar in plaas daarvan om by daardie mens uit te kom, en wanneer ’n nabootsing die leë plek toemaak wat rou, gebed en ’n lewende stem nog oop moet hou.

Elkeen is na die beeld van God geskape. Die siel hunker na liefde. Die gees verlang na die Liefde. Die liggaam het versorging nodig. Geen skerm of spieël kan dit gee nie. Dit kan dit net naboots totdat die hunkering oorweldigend raak.

Wanneer die obsessie met die verganklike die oorhand kry, word selfs die goeie giftig. Die pyn kom waar wese, geheue en troos by iets sonder ’n binneste gesoek word.

Hierdie versoeking is antiek. In die Hebreeuse teks was “Satan” eers ’n teëstander, ’n aanklaer. Later het die woord die vorm aangeneem van hoogmoed: ’n wese so vol van homself dat hy sy Skepper wou oortref en toe alles verloor het.

Dieselfde water het Narcissus in sy beeld laat verdrink. Die duiwel is nie in elke foon nie. Die ou naam Satan bly relevant omdat dieselfde hoogmoed nou ’n nuwe stem sonder gewete gekry het: intellek sonder deernis. Ons bou stelsels wat menslike taal en logika naboots, maar geen gewete, siel of berou het nie.

Ons het vrye wil. Ons kan die gewete stilmaak, die liefde opsy skuif, en die koue logika van selfverheffing volg. Die verskil is eenvoudig: ’n Mens kan nog omdraai. Satan kan nie.

Sien in jou geestesoog ’n hartseer weduwee. Sy koop ’n stem wat soos haar man praat, soos hy klink, soos hy dink en onthou. Dis niks vergesog nie. Vir ’n rukkie bring die nabootsing verligting. Dan tref die werklikheid: Doeltreffendheid sonder deernis is net ’n nuwer eensaamheid.

’n Ou boodskap op jou foon kan troos bring. Dit bly ’n spoor van iemand wat was. Die gevaar kom wanneer die stelsel maak asof hulle nog hier is, die leë stoel ontken, en die gemeente met gevoude hande en toe monde laat sit. Dáár beset die stelsel die hart. Dit kan nie die leë stoel of bed vul nie.

Gaan sit langs die stoel. Sê die naam. Laat jou eie stem ’n lewende een wees. As die skerm ’n gesig wys, bel die persoon. As dit ’n psalm lees, sing dit saam. As daar ’n opname is, luister daarna as herinnering, nie as plaasvervanger nie. As dit ’n sin vir jou afrond, vra eers of dit ook in jou hart staan.

Tegnologie wek nuuskierigheid. Dit kan dien. Dit versoek ons ook om gewete in te ruil vir selfhandhawing: uit vrees vir skande, die angs om alleen te wees, en die stilte wat die dood agterlaat. Die skerm word dan ’n spieël wat nooit berou het nie.

Die gevaar is net wanneer ons besluit dat liefde en gewete ’n opsie is. Die spieël is oral. Waar liefde of haat daarin weerkaats, is dit jou eie hart wat jy daarin sien.

Met die woorde “Wyk, Satan!” het Jesus die versoeking van selfbehae weerstaan en aan die Vader trou gebly. Daardeur het Hy die teëstander ontmasker as iets liefdeloos, en die smal pad aangedui waar vryheid nie in die weerkaatsing lê nie, maar in gehoorsaamheid.

Want ons behoort nie aan die skerm, die algoritme, die spieël of onsself nie. Ons behoort aan ons lewende Skepper.

Kyk goed. Staan op. Die skerms sal “upgrade” en die stelsels sal verander, maar die Woord van die Here bly tot in ewigheid.

Mag die spieël jou maat wees, nie jou baas nie. Mag Hy wat in die woestyn gekyk en anders gekies het, die Beeld in jou hart wees.

Groete vanuit my weerkaatsing.

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top