
Titel: Sir David Pieter de Villiers Graaff, die erfridder van De Grendel
Skrywer: Ebbe Dommisse
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624053033
Prys: R225.95
Die voormalige redakteur van Die Burger (1990-2000), Ebbe Dommisse, se naam verskyn vanjaar op sy vierde boek: Sir David Pieter de Villiers Graaff, die erfridder van De Grendel. Dommisse het twee boeke (Broedertwis en Leierstryd) saam met die vermaarde joernalis Alf Ries geskryf en in 2005 Anton Rupert ’n lewensverhaal, in samewerking met Willie Esterhuyse. Die nuwe boek, oor Graaff, is ’n verwerking van sy DPhil (Geskiedenis), Universiteit Stellenbosch, 2011.
Dat Dommisse bevoeg is om die verhaal van die Graaffs te vertel, is nie te betwyfel nie: hy kan in die tradisie van die “gesoute verslaggewer” relevante inligting identifiseer, versamel en verwerk. Hierdie vaardighede word ook met geskiedenisnavorsers verbind. Beide die joernalis en die historikus is veronderstel om objektief te bly jeens die onderwerpe waaroor hulle skryf. Hier voel mens dat Dommisse in sy doel geslaag het, maar mens verlang tog meer, juis omdat die outeur die leser geïnteresseerd kry in die onderwerp. Maar, besef jy dan, hier gaan dit daaroor om ’n spesifieke integriteit, een van akademiese afstandelikheid, te handhaaf, en so ook die geloofwaardigheid van die werk te onderskryf.
Verdere raakpunte tussen die twee genoemde dissiplines waarin die outeur deurentyd gemaklik vertoon het, is navorsingsvaardighede – die soeke na “die waarheid” deur elke moontlike klip op te lig en elke skat of skerpioen daaronder aan die helder daglig te ontbloot.
Daar is egter ook verskille tussen die werkwyses van historici en joernaliste: terwyl die joernalis daagliks met een oog op die horlosie werk en dus, soos die gesegdes lui, “history in a hurry”, of “the first draft of history”, skryf, kan die historikus meer metodies en hopelik selfs deegliker as sy haastiger mediamaat te werk gaan. In die geval van Erfridder word diep gegrawe in etlike bronnesentra, en Dommisse staan met sy bene stewig in beide wêrelde geanker – hy kan put uit ondervinding van beide: die kontakte en konteks wat die wye mediawêreld bied, asook die gefokuste, afgebakende werkswyse van die historikus, onder leiding van Albert Grundlingh van die Stellenbosse Geskiedenisdepartement. Dommisse kyk dus na Graaff met beide ’n verkyker én ’n mikroskoop. Wíé was Graaff as mens in sy talle fasette, máár as produk van sy samelewing (in tyd én geografiese milieu)?
Teen hierdie agtergrond lees mens Erfridder:’n verwerking van ’n proefskrif; ’n historiese studie. Deur ’n oudjoernalis. Dit is natuurlik die ideaal van sowel die joernalis as die historikus om so deeglik as moontlik en met soveel inagneming van tydsgees en omstandighede, plaaslik en globaal, ’n woordprent te skilder van die lewe van die gekose onderwerp. Die joernalis is geleer om ekonomies met woorde om te gaan en die historikus is meer gesteld op pynlike, tydsame deeglikheid, veral wat sy verwysingsraamwerk betref. Voetnote en bronnelyste is dus vir laasgenoemde van groot belang. Maar om hierdie massa inligting uit uiteenlopende bronne aan te bied sodat die algemene publiek dit interessant vind, is die uiteindelike uitdaging waarvoor hierdie outeur staan.
Wanneer mens so ’n boek evalueer, is die betroubaarheid van die navorsing dus ’n belangrike oorweging – máár die finale toets bly steeds leesbaarheid. Selfs die beste navorsingstukke se nut word beperk indien hulle min aftrek kry (al is die meeste nuwes reeds op die internet aflaaibaar). En hier het die outeur dan die volgende stap gedoen: die publieke arena betree, maar die “skare” is nie noodwendig akademies onderlê nie. Vir húlle is die boek geskryf, vir die akademici is daar reeds die proefskrif.
In die voorwoord van die boek oor Rupert noem Dommisse aspekte van sy werk wat ook van toepassing is op die Graaff-boek, soos dat die opdrag om die boek te skryf aan hom gegee is, wat daarop dui dat daar vertroue gestel word in sy vermoë om ’n deeglik-nagevorste én leesbare boek te skryf. Broedertwis en Leierstryd het klaarblyklik toe reeds ’n goeie indruk gemaak. In Rupert se geval het Tafelberg vir Dommisse gevra om die skryfwerk te onderneem. In Graaff se geval was dit Graaff se kleinseun, die huidige sir David Graaff, se versoek aan die outeur.
Die outeur stel dit duidelik dat hy “poog om ’n beeld van Graaff in sy tyd [1859-1931] te gee, nie ’n relaas van die man en die tyd waarin hy geleef en gewerk het nie” (8). Daarmee gee hy erkenning aan die belangrike beginsel van Zeitgeist, asook aan die nodigheid vir toeganklikheid – vir die leser, ook die “algemene publiek”, teenoor akademici. Die outeur het beslis hierin geslaag, want om hierdie boek te lees, is om baie oor die geskiedenis van sir David se tyd te leer. En om te verstaan hoe ingewikkeld die lewe aan die Kaap kon wees, met lojaliteitsgewys veel meer as om te besluit of jy die WP, Stormers én Bokke gaan ondersteun. Kaapse Afrikaners het die Britse juk geken, en geïnternaliseer, lank vóór en nadat hulle noordelike broers dit sou afwerp. En Kaapse Afrikaners, wat soveel langer aan anglisering blootgestel is, het in ’n sekere mate geleer om tydens interkulturele interaksie ’n neutrale front voor te hou.
Destyds is selfs van die “verskillende wit rasse” gepraat – wat die leser laat besef hoe sekere opvattings mettertyd verander het, en ander ook maar bloot bolangs. Soos lojaliteite en fasades daarvan ... vandag stuur talle Afrikaanssprekendes ook hulle kinders na Engelse skole, soos sir David, hoewel etlikes nie soos hy steeds lidmate van die NG Kerk gebly het nie. Afrikanerskap word tans tot niet gedekonstrueer, gereduseer en uiteindelik weg gewens, maar sir David het, soos sy politieke leiers Botha en Smuts, “Afrikanisme” aangehang, wat geheel ’n ander doel gehad het. Hieroor leer die leser ook heelwat.
Die outeur wys op verskeie interessante aspekte van daardie tydperk, soos entrepreneurskap wat veral weens nywerheidsontwikkeling ontstaan het – en die leser mag dan herinner word aan hoe staat-“voogdyskap” minstens een generasie Afrikaners in getroue werkermiere omskep het, terwyl die opheffing daarvan redelik onlangs hernude entrepreneurskap aanhelp. En daarteenoor ’n nuwe generasie burokrate die staatsdiens begin lamlê. Is dit, soos algemeen beweer word, ’n bewys dat die geskiedenis hom herhaal? Nog nooit: dit bewys wel weer eens dat (al sedert die Verhaal van die Mens opteken word) niks aangaande ons optrede verander het nie; dat die geskiedenis hom nie herhaal nie, maar dat die mensdom wel, menslik en dus dom, foute herhaal. En sulke waarhede kan die leser uit hierdie boek haal - nie net een persoon se merkwaardige storie inneem nie.
Erfridder is dig verpak met feite, soos verwag kan word, maar lees maklik en bevat boonop fassinerende, byna romanagtige insidente: die geval van die kas met die kosbare inhoud in geheime laaitjies; die verbode romanse van sir David se ouers; ’n noue ontkoming tydens die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog; al die toegeeflikhede van die noodlot jeens die hoofkarakter; die intrige rondom die erfridderskap; manteldraaiery en dolkstekery in die politiek, wat vuiler is as die afloopwater van die slagpale ... Soms herinner dit aan ’n Wilbur Smith-familiesage. Sir David takel weliswaar nie maanhaarleeus nie, maar bots wel met titane van sy dag, soos Cecil John Rhodes. En hy leer nie soos ’n Smith-held om gou-gou ’n vliegtuig te loods nie, maar bestuur en besit wel een van die eerste motors in Suid-Afrika – word selfs president van die Outomobiel Assosiasie in Suid-Afrika. Maar hierdie flikkerende juweeltjies moet die leser liefs self ontdek en geniet te midde van die wye en soms wilde landskap waaroor sir David onverskrokke marsjeer het, met die tafereel wat geleidelik, byna onstuitbaar, uitrys tot ver anderkant ons kuswaters.
Vir die genealoë en heraldici is daar heelwat familiegeskiedenis oor die Graaff-bloedlyn (wat eers Graf was), oor die De Villiers-familienaam wat ’n voornaam sou word, oor die versoek aan die Britse koning aangaande die familiewapen, en dies meer. Vir diegene wat belangstel in die geskiedenis van ons plaaslike politiek rondom die groot militêre en gepaardgaande ekonomiese en politieke krisisse – die twee (sogenaamde) Boereoorloë en twee (eintlik dan ook sogenaamde) Wêreldoorloë en die Groot Griep, Groot Depressie, magsverskuiwing van Britse kolonialisme na Afrikaneroorheersing – al hierdie aanleidende oorsake vir apartheid, die Struggle en selfs daarna, word bygewerk om ’n verstaanbare begripsgreep op hierdie periode te bied. En vir diesulkes wat die boek optel, wik en weeg, hink tussen los en lees, wat dalk oorweeg om eerder die naaste Clive Cussler op te neem, wees gerus dat Erfridder sy eie soort opwinding waarborg. Ek sou wel aanbeveel dat nie probeer moet word om dit in een sitting deur te lees nie, en ek sal verderaan sê hoekom.
Uiteindelik gaan dit oor waarde – waarde vir geld, waarde in leersaamheid. Die grootste waarde van hierdie boek is dat dit mens laat dink, nie net laat terugsit en jou verwonder oor hoe David Graaff, die arm Afrikanerseun, sy pad na ongekende hoogtes, selfs die adelstand, gevind het deur telkemale geleenthede te identifiseer en aan te gryp nie, maar ook hoe hierdie verhaal ’n studie is van menslike karakter. Inderdaad, watter pryse het die hoofspelers in die verhaal betaal – beide vriend en vyand? Intriges, toetse vir integriteit, die reguitmaak van krom paadjies deur geldmag, dis die goue draad deur die storie van sir David. Die draad wat Dommisse, soos Perseus van ouds, geleidelik afrol tot die leser die ontwykende wese ontmoet wat eens een van die rykste mense in Suid-Afrika en ’n uiters invloedryke openbare figuur was. Of tog nié – dit moet die leser self ontdek.
Ek wonder wel: Wat sou Machiavelli uit hierdie verhaal kon haal? Dalk ’n ekstra gevallestudie vir sy strategie-handleiding Die Prins (1515)?
Tog skyn dit asof die Graaffs besonder goed uit hierdie maalstroom van mag en wissellende lojaliteite gekom het. Dít alleen is al ’n besonderse prestasie. En Onze Jan Hofmeyr, Louis Botha en Jan Smuts was slegs enkele persone wat hiervan getuig het, hoewel daar baie moes gewees het wat Graaff as ’n uiters lastige struikelblok beskou het, en daar talle moes gewees het wat hom sy en sy familie hul suksesse beny het. Die kapitalis Sammy Marks was maar een van diesulkes, en nogtans is daar aanduidings dat die Markse in sir David se lewe kwalik hulle respek vir hom kon verbloem.
Graaff se swaarkry-kinderdae moes die vernaamste dryfveer agter sy buitengewoon doelgerigte bestaan gewees het – of liewer, neem een persoon met ysere selfdissipline, plaas hom in hierdie spesifieke milieu, en kyk wat gebeur: hy werk nie net bitter hard nie, hy gaan verder – hy is meer as die bouer van ’n sakeryk, hy is ook die argitek wat dit haarfyn beplan het. Ja, daar was ’n stewige fondament vir hom hier in die Kaap wat nie in Villiersdorp was nie – Kaapstad was sy “Land of Opportunity”, en soos talle jong manne van sy tyd het hy weswaarts migreer, maar nie tot in Amerika nie, wel tot teenaan Tafelberg. En wat uitstaan, is dat hy wyer dink as net David Pieter Graaff – hy ontwikkel en hy hef op: Kaapstad, toe hy burgemeester was (en daarna), sy familie en ander hulpbehoewendes (dink veral aan die skrikwekkende konsentrasiekampe).
Dog hy keer telkens terug na sy wortels – die skool wat hy skaars van binne geken het op Villiersdorp. Mens wonder of dit meer was as “ek gee aan andere leergeleenthede wat ek ontbeer het” en of dit nie ook ’n mate van genoegdoening verskaf het om te wys dat hy, die amper ongeskoolde, aan ’n skool geld kan bewillig nie. Maar wat daarvan?
Mense doen in elk geval weldade om goed te voel net soveel as om ander te help – om dán goed te voel bewys juis (mede)menslikheid; jou normaliteit. Solank jy poog om deur elke daad méér as jou eie ego te streel, is dít veel belangriker as dat mense hoef te wonder wat jý daaruit wen. Soos Graaff se suksesvolle pogings om ’n hoër status aan die burgemeesterskap van Kaapstad te gee – die skenking van die ampstekens – al het hy dalk geweet hy sou herkies word op daardie stadium (“eenparig en met toejuiging”, sy jeug ten spyt), het hy ’n positiewe, prysenswaardige stap gedoen wat al vroeër gedaan moes gewees het, een waarby al sy opvolgers sou baat. Hierdie optrede blyk tekenend te wees van sir David se houding dwarsdeur sy lewe. Al sou dit byvoorbeeld sy ambisie gewees het om onthou te word as Kaapstad se beste burgemeester, het die stad geweldig gebaat (minder misdaad, meer handel: o, die lesse vir die latere politici!) by die verskaffing van ’n verbeterde, uitgebreide infrastruktuur – elektrisiteit vir strate, die dreineringstelsel, ’n vismark, ’n nuwe stadsaal, ’n nuwe reservoir, ’n promenade en uitbreidings aan die hawe, ens.
Wat sir David se lewensuitkyk en die daadwerklike uitvoering daarvan betref: die outeur haal destydse kommentators aan (byvoorbeeld op p 53) wat beweer het dat Graaff ’n “self-made man” was. Dat hierdie boeiende relaas wel ’n “rags to riches”-verhaal is, is ooglopend – die Graaffs was, soos baie mense destyds, erg, eintlik vernederend, verarm, maar ek is nie so seker wat die kriteria vir “self-made” is nie. Anton Rupert was ’n goeie kandidaat vir so ’n titel, maar die vraag het telkens by my opgekom: ten spyte van sir David se onbetwiste talente en verbysterende deursettingsvermoë, hoe ver en vinnig sou hy gevorder het sonder sy vermoënde oom Jacobus Arnoldus Combrinck? Combrinck het aan die Graaff-kinders fantastiese geleenthede gebied, wat jong David aangegryp het en in klinkende suksesse omskep het. Maar só het sy broers en suster ook ver bokant die gemiddelde persone van hulle tyd gevorder weens Combrinck se onderskraging. Sir David het die hoogste uitgestyg weens sy werklik uitsonderlike vermoëns.
Dus: word ’n paar mense ’n gulde geleentheid gegee, kan een heelwat ryker en bekender word as die ander begunstigdes – vergelyk veral vir sir David en sy eksentrieke broer Jan alias John, wat glo nie juis gewild was nie. Maar tóg, “gulde geleentheid” bly flikker soos ’n neonlig in ’n groot skemer kamer. Nie dat die outeur Combrinck se onbaatsugtigheid jeens sy familie (en ander minderbevoorregtes) begrawe of ontken nie. (Terloops, wat hulpverlening betref, sou sir David ook Combrinck se voorbeeld volg. Asook dié van Andrew Carnegie, wat beweer het dat suinige rykes gou vergete raak, onbemind en onbesonge.)
Beide wat hulle sake- en hulle politieke loopbane betref, het die Graaff-broers ongetwyfeld geweldig baie baat gevind by Combrinck se invloed: soos sir David wat op Combrinck se parlementêre stoel ingeskuif het kort ná die ouer man se afsterwe (1891). En sy broers John en Jacobus sou waarskynlik nie óók politieke loopbane gehad het as dit nie eers vir Combrinck en toe vir sir David was nie.
Ek wil geensins voorgee hulle was nie almal eersteklas mense met talle navolgenswaardige eienskappe nie, maar mens hoef nie Ryk Neethling te wees as iemand ’n reddingsboei na jou gooi nie. Deure is oopgemaak wat vir talle ander geslote sou bly – veral as jy nie onder een van die paar elite-families in die Kaap getel het nie, byvoorbeeld Cloete, De Waal, Hofmeyr, Merriman of Schreiner. Dit het gegaan om die benutting van kanse. (Daar is twee dinge wat mens in jou later jare goed onthou: dom foute en verspeelde kanse, aldus die skrywer Stephen King.)
Sir David Graaff se hulp aan sy familie skyn nie ten koste van ander te gewees het nie - en daarom kan die hedendaagse politici ook baie leer deur hierdie boek te lees. By Graaff was dit ’n geval van “pay it forward” – iemand wat sy seëninge deel – eerder as “pay me up front”, verkieslik in ’n bruin koevert.
Monopolistiese tendense, ook nepotisme, was voorheen redelik algemeen, dog sekere morele kodes was hoog opgegee. Skandale het maklik tot bedankings gelei, want dit was die “regte ding” om te doen. Daarom het sir David vroeg geleer wat die waarde van ’n simpatieke pers is – maar hy het daarvoor gewerk. En sy akkolades verdien.
Heerlike, rasegte ironie is ook opvallend in sir David se lewensverhaal: dalk is die beste voorbeeld juis Combrinck se strewe om tot die politiek toe te tree en daarom die jong David toe te laat om sy (Combrinck se) sakeryk te bestuur. Combrinck word wel parlementslid, maar Graaff vorder uiteindelik veel verder as Combrinck (Graaff is selfs as premier oorweeg). Weer eens ironies probeer Graaff toe later ’n vertroueling verhoed om dié se tyd tussen sake en politiek te verdeel, skynbaar omdat hy wat sir David was, uit eie ondervinding geleer het dat dit net te veel van een mens vereis. Sy bomenslike werketiek het roem en rykdom verseker, maar die duur prys wat hy sou betaal, was die finale aftakeling van sy gesondheid.
Die Franse skrywer André Gide (1869-1951) het in sy drama Saul (1903) geskryf dat mens se reg afhang van jou vermoë, maar dan antwoord die hoofkarakter (Saul self) dat sy waarde eerder lê in sy verwikkeldheid (aldus Jan Rabie in sy Paryse dagboek). Lees mens Erfridder, kom dit by jou op: Watter een van hierdie skynbaar botsende stellings is toepaslik op David Graaff? En dan tref dit jou: albei, soos met die meeste mense. Maar soveel te meer in die geval van uitsonderlike mense soos Louis Botha en Jan Smuts. En hulle vertroueling, sir David Graaff. Sir David, entrepreneur, magnaat, gedrewe dinastiebouer, filantroop, boer én Boer (“one of those Afrikaner upstarts”) wat meer fasette as een van Marks of Rhodes se diamante gehad het, en nou opnuut skitter in die hande van ’n vakman. Die storie van die koelstoorpionier kan mens nie koud laat nie. Ek sal sy wonderlike lewensreis onthou elke maal as ek die kabelkarretjie sien - op die sweefspoor wat hy help oprig het – en dit as metafoor vir die bereiking van sý hoë hoogtes beskou.
Aan die outeur: ek verbeel my sir David sou, uit beskeidenheid, gesê het die boek was dalk onnodig, maar hy sou net so trots daarop gewees het as op die burgemeesterstoga en die (byna unieke) erftitel. En lesers sou met hom saamstem: hierdie boek vertoon ’n voortreflike balans – dis deeglik nagevors, maar is ook “a good read”. Wat die inhoud betref, kan mens beswaarlik méér in hierdie genre verwag. Die boek is esteties aantreklik, die omslag en bladsye voel lekker glad teen mens se vingerpunte, en die ink ruik lekkerder as ’n nuwe motor se bekleedsel. Al wat my gepla het, was die beskeie lettergrootte op die spierwit papier: ná 268 bladsye het my oë erg gesukkel om déúr die glans te sien. Dit is hoekom g’n mens, nie eens sir David nie, hierdie boek sal gaan sit en dwarsdeur lees nie. Nietemin, as ’n boek net op ’n tegniese puntjie kritiek ontlok, is dit eintlik ’n kompliment aan die outeur.
Bowenal: om hierdie boek te lees was ’n plesier en ’n ontdekkingstog. Een waaroor mens nie ’n breukdeel kan sê van wat jy graag sou wou nie.

