In hulle poging om Engels te stoot en Afrikaans te sink, ’n proses wat nou sterk by US manifesteer, beweer die taalkoeie dat Afrikaans ander taalgroepe uitsluit. Afrikaans alleen as onderrigmedium by Stellenbosch sal dus ongrondwetlik wees want dit sluit ander taalgroepe uit. Let wel, ander taalgroepe, dus nie spesifiek Engelssprekendes nie.
Die Afrikaanssprekende prof Pierre de Vos stel dit so: "Using a language policy that would exclude many black South Africans from accessing the excellent education at Stellenbosch is therefore not permitted by the Constitution as it infringes on section 9(3) of the Constitution, read with section 30."
Nie een van die taalkoeie kon nog die vraag antwoord oor hoekom Afrikaans nou ander taalgroepe sou uitsluit maar nie Engels nie. Afrikaanse oom, op SêNet so paar dae terug, stel die vraag so aan een van die taalkoeie: " Gee my asb ’n verduideliking waarom ’n Afrikaanse US eksklusief is en ’n Engelse UK inklusief is. Hoekom sou jy sê, ’n suiwer Engelse UK is ’n multikulturele kampus?" Doodse stilte; niemand rep ’n woord nie.
Neem nou ’n land waar, sê daar 11 amptelike tale is naamlik tale A, B, C, D, E, F, G, H, I, J en K. Die grondwet sê, volgens prof De Vos, dat al hierdie tale regverdig (let wel regverdig nie gelyk nie beklemtoon die prof) behandel moet word en hierdie regverdigheid sal geskied aan die hand van a) billikheid, b) doenlikheid en c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.
Nou werk hierdie beginsels van a, b en c só dat dit in die haak is dat taal E as, sê ’n onderrigtaal by ’n universiteit, gebruik word maar nie taal A nie; dit sal die ander taalsprekers uitsluit. Hoekom; dis mos nie logies nie?
Die verklaring lê daarin dat a, b en c wawyd oop is vir verskillende interpretasies en raai wie is die interpreteerders n’D’ (na ’Demokrasie’)? Die sprekers van taal A is nare mense en hulle moet gestraf word en wel tot so’n mate volgens De Vos dat, behalwe taal E, tale B tot K voorrang bo taal A geniet. Die Afrikaanssprekende prof De Vos stel dit so: " Other indigenous languages might well — very legitimately — be preferred above Afrikaans in this language policy, the latter being a language who had been very much affirmed and promoted for 50 years during the apartheid rule."
Hierdie kamtige grondwetlike rede vir die verwaarlosing van Afrikaans is vergelykbaar met die volgende analoog: Aparte toilette vir mans en vrouens is seksisties, vroue mag voortaan manstoilette en ablusieblokke gebruik. Mans mag egter nie vrouetoilette gebruik nie want mans het voorheen teen vroue diskrimineer. Dis billik en regverdig want dis soos Me Precious Mabala die grondwet interpreteer.
Ek dink prof De Vos moet inskryf vir ’n kursusse in Wiskunde (spesifiek meetkunde), Termodinamika en Makro-ekonomie, al is dit vir nie-graaddoeleindes. Die blootstelling aan hierdie vakgebiede kan bydra dat gevolgtrekkings (stellings) logies voortvloei uit feitelikhede, dat dit nie wilde menings wat losweg op aannames of leuens baseer is nie. En terloops, voor iemand vra, ek het nie hierdie kursusse bygewoon nie want ek het dit nie nodig nie.
Laat ek die volgende maar in Engels sê sodat die Afrikaanssprekende De Vos mooi kan verstaan: So much for the wonderful far king constitution. Wat ’n skande. Wat ’n verleentheid is die taalkoeie nie vir die Afrikaanssprekendes nie.
Jan Rap

