Simoné du Plessis is elf en in graad 6 by CVO, Pretoria.
Dit het gevoel soos ‘n ewigheid, asof dit nooit sou end kry nie. Ma se histeriese gille eggo nog deur haar kop. Haar kop, dit is so seer. Haar blou oog en stukkende wang vertel ‘n treurige verhaal.
Die aand was rustig; sy en haar ma het lekker voor die televisie gesit. Skielik word die voordeur met ‘n woeste geruk oopgemaak. Dis haar pa – hy het ‘n kwaai blik en mens kan sien dat hy soos ‘n menigte ander aande saam met sy vriende by die kroeg uitgehang het. “Waar’s die kos? Wat eet ons vanaand?” bulder hy met sy sleeptong.
“Het jy die boodskap gekry wat ek vir jou gestuur het?”
“Ek het jou boodskap gekry, maar waar dink jy gaan ek die geld kry om iets by die kafee te koop?” Hy brom onderlangs n paar woorde wat onaanvaarbaar is en skuifel vorentoe. Hy sak in sy leunstoel neer. “Gaan jy nou kos maak of gaan jy net hier sit en na dié gemors kyk?”
“Ek sal vir ons ietsie bestel, want daar is niks meer in die huis nie.”
“Met geld wat jy waar kry, gaan jy vir ons ‘n ‘ietsie’ bestel?”
“Ek sal vir ons ‘n ietsie klein kry, Marius.”
Die swaar man trek homself op en gaan staan voor haar ma. René se gesig is vol vrees. “Kom hier!” bulder hy, en gryp haar ma aan haar arm. Hy pluk haar op. René weet wat gaan kom; haar oë is groot en vol vrees.
“Moenie Pappa, moenie, asseblief nie,” smeek René en draai haar kop weg, maar haar pa se vuis maak in elk geval kontak met haar ma se angsbevange gesig. Haar ma trek oor die teëlvloer soos ‘n vloerlap. Hy gaan nader om haar op te tel en weer te slaan. “Asseblief Pappa, los net vir mamma, sy het ‘n bietjie geld waarmee sy vir ons kos kan bestel en ek kan als uit my spaarvarkie uit gooi.” Sy voel hoe die trane in haar oë opdam.
Hy stop in sy spore en draai om. “Hou jy jou neusj uit my sjake uit, wat maak jy ooit nog hier, ek het jou ma gesjê om jou weg te sjtuur.”
“Sy sal my nooit wegstuur nie, sy is lief vir my.”
“Wie kan nou lief weesj vir ‘n sjtuk gemorsj soos jy – jy moesj nooit gebore geweesj het nie, want dan het onsj nie nou geldprobleme gehad nie, want jy wil mosj altyd alsj hê.”
Intussen het haar ma opgekom en langs haar kom sit. Sy vou haar arm om haar fyngeboude dogtertjie. “Los tog net my kind uit Marius, asseblief!”
Die groot man kom so stadigaan nader. “Losj jý die kind uit, sjy moet darem sjo bietjie opoffer as sjy sjo lelik met haar pappie wil praat.” Hy gryp vir René ook aan die boarms en pluk haar op. Haar voete lig van die grond af op, hy gooi haar agtertoe, en stap brullend nader. Sy groot hande is in vuiste gebal, en René knyp haar oë toe en draai haar gesig weg. Die hou tref haar op haar oog, sy val teen die bank. Hy kom nader en tel haar op, die woede op sy gesig is duidelik sigbaar. Hy slaan haar weer sodat sy na haar ma se kant toe val en skielik is als donker.
Nou, hier, waar sy op die pier sit, breek die branders teen die pilare en die skuim dans vrolik op die strand langs haar. Skielik vang haar oog iets in die golwe beweeg. Sy trek haar smal skouertjies op – dalk is dit net haar verbeelding. Sy kyk weer. Nee, daar is dit nog. Sy trek haar hartseer blou oë op skrefies en sien dit dan: dis ‘n dolfyn. Maar hy’s alleen? Dis vreemd, dink sy by haarself. Kom hulle nie gewoonlik in groepe voor nie? Die dolfyn kom nader, hy begin in sirkels voor haar swem. Haar oë word klein soos ‘n glimlag oor haar pynvolle gesig ontwikkel. Haar gesig is seer en brand waar die vel stukkend is. Die lekker gevoel om weer te glimlag spoel oor haar klein lyfie. Die dolfyn swem en duik heen en weer voor haar, dan hou hy sy kop uit die water en fluit vir haar – dis asof hy vir haar iets wil sê. Hy verdwyn in die blou water, maar oomblikke later is hy terug met twee maats. Hulle speel en baljaar in die branders.
René se aandag word afgetrek toe die gids begin praat.
“As all of you can see, these dolphins in this picture are two shades of grey. They are known as the bottlenose dolphins and are known for helping fishermen catching fish with nets, can you all see?” Almal knik hulle koppe, maar is gefokus op die dolfyne wat om die pier baljaar.
“Probeer jy iets vir my sê?” vra René sonder klank. Sy vorm net die woorde met haar mond en draai haar kop kant toe. Die dolfyn doen dieselfde. Sy draai haar kop anderkant toe en weer doen die dolfyn dieselfde. Sy staan op en draai in die rondte. Die dolfyn lig homself uit die water en tol. Sy kry lag, seker omdat dit so onwerklik voel. Die vreugde is oorweldigend, dit laat haar voel asof sy in ‘n ander wêreld is.
Dag na dag gaan besoek René die pier en vind troos by haar nuwe vriende. Dié ander wêreld is ‘n wonderlike plek, anders as haar werklikheid.
“Mamma, kan Mamma asseblief môre saam strand toe kom, assebblliieef?” vra René toe sy by die huis kom.
“My skat, ons moet môre begin pak.” Haar ma vou haar arms oor mekaar.
“Pak?” vra René met groot oë.
“Ja, my skat, ons kan nie langer by daai man bly as hy ons so verniel nie, ons gaan Pretoria toe trek.” Die trane kom lê vlak in René se oë. Sy wil nie nou trek nie – sy het nou net beste vriende gemaak, ‘n ander wêreld ontdek. Haar hart is seer.
“Mamma, kan ons in die vakansies hierheen kom, by tannie Marietjie kom kuier en strand toe gaan?”
“Ja natuurlik,” sê haar ma met ‘n glimlag.
“Het jy alles, Neitjie?” vra haar ma die dag toe hulle Pretoria toe gaan vertrek. Hulle moes vroegoggend vertrek terwyl Marius nog slaap. Hy was gisteraand weer kroeg toe en het nie eens die gepakte tasse opgemerk toe hy inkom nie.
“Ja, Mamma. Mamma, kan ons net gou afry strand toe, asseblief?”
“Vir oulaas. Ja, my skatjie.”
René klim by die strand uit en stap af. Sy trek haar skoene uit en loop in die sand, en die sand peul deur haar tone. Sy gaan staan voor die water en dit spoel liggies oor haar voete terwyl die wind haar hare saam met hom vat. In die verte sien sy haar vriende. Dit lyk asof hulle op die branders ry en elke nou en dan uitspring om te spog.
“Ag, ek gaan nou weg van julle af, maar julle het my darem baie vreugde en troos verskaf en my in ‘n ander wêreld ingelei,” sê sy, asof hulle haar kan hoor. “Dankie daarvoor.”
“Kom René, ons moet ry.” Sy draai vir ‘n laaste keer om na haar vriende en waai. O, sy gaan hulle mis.