“Kry jou vir koffie” ... dit is een van die mees gesegde uitnodigings, groete en beloftes tot weersiens, wat ek kan onthou. Daar is mense wat ek al van moes vergeet het, wat keer-op-keer met die gedagte aan hierdie woorde, steurend opduik.
Maar, kom ons deel eers ‘n ander “kry jou vir koffie”-storietjie of twee.
In die beroepsbegindae doer in die onder-Bellville, was daar altyd die een of ander navraag wat ek as bron van “kosbare” inligting, moes probeer beantwoord of moes insamel. Om die orde van die samelewing nie te veel agterdogtig te maak nie, sou my kontak ’n ontmoeting by ’n koffiehuis reël. Die inligtingspakkies wat ek hierna sou saamstel, sou dan ook by ’n volgende koffiehuis-afspraak gelewer moet word. Die geheimsinnige inhoud van hierdie gesprekke, was sonder uitsondering altyd oorskadu deur my kontak se liefde vir uitermate warm koffie. Terwyl ek aan ’n enkele koffietjie tydens ons afspraak suig, sou hy drie koppies met witwarm melk in daai blikkeel afspoel. Die kontak en die bron het later vriende geword en na 20-jaar, is ek steeds ’n bron van nuttelose inligting en hy ... wel hy drink nogsteeds sy koffie kokend!
In die dae van hierdie koffie-verhouding was die einde van ’n week soms vergoedingstyd en natuurlik, die lekkerte om ’n boodskap of oproep te kry wat sê-vra: “kry jou vir koffie ...”
Moeder is so gaande oor ’n koffiehuis, soos die duiwel oor ’n siel.
Ons gesinnetjie, as enigste wat sy het, kuier gereeld en met elke geleentheid by my Weskus-ouers. Alhoewel, Moeder nie wil glo dat sy na al die jare ’n Weskusser is nie. Bokkoms, kreef, snoekkuite en vis oor die algemeen, is nie haar gunsteling-spyskaartgeregte nie. Vir Moeder en die seuns is die grootste bederf van alle bederwe, om ’n “koffietjie te gaan drink”. Gewoonlik is dit nie net koffie wat geniet word nie, maar kry die tandemanne en die spysvertering ook werk. Sonder om oordrewe of skindertong te wees, is dit so dat Moeder altyd iets oor die koffie te sê sal hê. “Die goed is ekstrak” of “Die melk is nie warm nie” of “Die koppie se wand is te dik” of “Ek haat ‘n beker” ensovoorts, ens. Daar is op dees aarde nog nie ’n aansitplek wat koffie net reg kan maak nie.
Volgende keer, of selfs die volgende oggend, sal jy egter weer hoor ... “gaan ons ’n koffietjie drink?”
Soms drink ek eerder tee, want om net daar in my geliefdes se nabyheid te wees, maak alles die moeite werd.
Toe, so onverwags, gebeur daar iets wat my lewe ingrypend verander het.
“En wanneer gaan julle koffie drink?” Vra my geliefde bemoerde vroutjie so ’n paar somers gelede. “Donderdagmiddag,” het ek versigtig geantwoord.
Ek het die onvergeeflike gedoen! Ek het met ’n vriendelike meisietjie uit die verlede kontak gemaak. Ja, die Facebook-ding het bykans nog ’n skipbreuk-statistiek opgelewer! Ek, die onskuldige niksbedoelende liefdevolle eggenoot, het bloot en toevallig ‘n oppervlakkige gesprekkie of twee met ‘n meisie-uit-die-verlede gehad. Die een meisietjie vir wie my vroutjie geen plek op die geskape aarde as vêr genoeg van ons sal kan vind nie. Maar, my smeek en verduideliking dat daar geen verleidelike uitnodiging of hartstogtelike verlange gedeel was nie, het geen indruk gemaak nie. Ek kon vroutjie darem later sover kry om in te sien dat die kern van die geselsies, slegs ‘n dun boekie opsomming van die afgelope 20-jaar, die doen en late van haar dogters en ons seuns was. Niks meer nie.
Ai. Natuurlik, net tot sy daardie onhebbelike voorstel gedoen het: “… we should go for coffee.”
Tot op hierdie dag, is ek onseker of dit die gedagte aan my vroutjie se gekneusde en bakleilustige ego, óf dalk die stille binne tinkeling van opgewondenheid was, wat my effens skrikkerig vir die koffie-afspraak gemaak het. Gelukkig het daar in die verloop van die week ’n gees van wysheid deur my bewussyn gewaai en die Dondermiddag het gekom en gegaan. Sonder koffie, sonder tee, of enige ontmoetings van watter aard ook al. My kommer of skrik was so groot, dat ek nou vreemde of bekende meisiemens geselsies vermy en wanneer daar sprake van ’n “kry jou vir koffie” is, spat die klippies soos ek hakke in die teer slaan!
Behalwe natuurlik as dit Moeder of Mevroutjie is wat vra.
Hennie Fritz


Kommentaar
Oulik geskryf met wyse lewensles in.
Dankie.