Kruispad
Kyk na jou kruispad, is
dit regs of links of kies jy
die wapad en die hings, hoe
sal ek vir jou kan sê waar
die blou-blou berge lê, die
liefde wat daar eens was, is
nou gebêre in ‘n tas, die keuses
wat jy maak, waar pas dit alles
in, wat maak dit tog alles saak,
wat het van ons geword, waar’s
ons drome heen?
Kyk na jou kruispad, is
dit regs of links of kies jy
die wapad en die hings, eendag
sal ek die tas uitpak en dit
uitstal op ‘n rak, alles het
verdwyn en alles was net skyn,
die kruispad wink daar voor
want ons het mekaar verloor
kan nie ‘n huis bou op sand, eendag
sal jy dalk weet, eendag sal jy dalk
verstaan, jy sal altyd by my spook
die vuurtjie en die rook.
Kyk na jou kruispad, is
dit regs of links of kies jy
die wapad en die hings, hoop
dit gaan jou goed, want my
hart is bittersoet, het ons
keuses gemaak ons eie paaie
om te volg, is dit vorentoe
of agteruit, jy’t gegroet deur
die ruit, jy’s altyd deel van my
hart, daardie kamer is ‘n skat,
die maan sal vir my sê waar
my kruispad lê.

