kruger-standbeeld

  • 0

op die skouer en keil van
die bedonderde boerepresident
skyt die duiwe al jare lank
boemelaars lê en roes afslaap
pendelaars haas verby
regslui huiwer verveeld op die hoërhof-trap
onbewus van sestig jaar se baklei
en duisend pond se stry
om die vier boerebeelde terug te kry
van die bloody engelse amptenary

as jy aan die brons en tin raak
'n boerekryger wag saam, gereed ...
oor die eelte en are op sy hande streel
sien jy van wouw in rome
swetend, dalk swetsend, gips beitel en kerf
die bronsgiet senuagtig gadeslaan
en dalk grazie a dio! skree
met obsessiewe sammy marks wat brief na brief
ongeduldig na die vordering vra
en die stryd in pretoria o pretoria!
oor wáár die groot stewels
van dié staatsman met sy keil
sy vierstuks man met roers
op twee ton skotse graniet
(transvaalse klip was glo te cheap)
hul staan moes kry

as jy opkyk na sy statige postuur
van vyf en 'n half meter hoog
sy oë geskadu deur sy hoed
(mens kan dié son nie kaalkop verduur!)
sien jy lyne van vasberadenheid
ons veg vir geregtigheid
moenie my vereer maar eer my god:

"Vraagt naar den Heere en zijne sterkte;
zoekt zijn aangezicht geduriglyk.
Gedenkt zijner wonderen,
die hij gedaan heeft, zijner wonderteekenen,
en der oordeelen zijnz monds."*

oorlog het afrikanerbloed verdik
en habitat in kuns en woord verbeeld
met wrewel draai jy nóú die nekband te styf
my bru
as jy my erfenis impulsief verkrag
verf en vuil smeer oor ons beeldeprag
kwaad word nie deur bloedlaat verlig nie
of territoriaal jou been te lig nie

los my beeld waar hy hoort
los kruger op die plein
in pretoria

*psalm 105, vers wat paul kruger gekies het vir die hoeksteen, wat nooit aangebring is nie as gevolg van al die gebeure rondom die oprigting van die standbeeld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top