stadsvaders hou mos familie virrie gek,
Krotoa Havgard, iewers onbekint laat lê,
eerloos, Mevrouw Havgard, in gat gegooi,
stories van Groote Kerk-graf, Eiland, net’t,
“stories” wat selfs stadvaders mislei, verlei,
wie nou, in Ingils, nogal, u stadstatus skenk,
met u eie plek in Kasteelstraat, langs porno,
langs Barclays Bank se Afrika-tak, “f*k Eva”,
heel presies onhistories, onfeitlik, onsimpatiek,
vér van waar u alleen sou sit en ween, Mevrou,
Krotoa Havgard, Eva, tolk, kultuur-omverwerper,
u interpretasie, vertolking, assimilasie, integrasie,
gaan tog nie Eerste Mens-aktiviste, neo-Afrikaniste,
sommer net so ongesiens verby, hayibo, Moeder
Moeder Havgard, u’t vir versoening, nasiebou, gestry,
al u smart op Strandstraatsypaadjie uitgestort, gely,
gesien hoe Kompanjie van snaar verander, u verklaar,
tot persona non grata, ongewensde, oud-spioen, tolk,
soos ’n swartskaap uitgeskuif, onsubtiel, u moes swerf,
toekyk hoe /Xam uitgewis word, gevangenes-in-kettings,
goed genoeg om Kompanjie se ekspansionisme uit te bou,
vol vrees vir u, half-Khoi, half-Kasteelbaas-vrou, Mevrou,
Prinses vannie Overberg, wat te erg was, was darem erg,
vir inheemse bevolking, “Bossiesmans”, “Hottentots”, eish
selfs slaaf se kind het hom of haarself bo “Bossiesmens”,
bo Brenda Fassie se Madiba-Khoisan, geag, inderdaad,
daad by die woord gevoeg, saam’t Baas gat “Boesman” jag,
saam’t Stellenbosse boys Eerste Mens se grondreg verkrag
kanti, President Kommandeur Jan het mossie gewetie,
wassie van u blou bloed bewussie, bewus gemaak nie,
waarheid nie altijd in almal se spesifieke smaak nie,
nog minner kleurgrens-transgressie, anti-rassifikasie,
opperbevelhebber was immers u pleegvader, voog,
half-’n-half verlief ook, op u, ja, hartseer toe u trou
volgende Kommandeur stuur u summier Eiland toe,
helaas, helemaal nog te veel Eerste Mens, astrant,
uitdagend, Uncle Harry would say: “Such a coy Khoi”,
Autshumato’t goed geweet u pa was Khoikhoi-koning
nou wil Moederstad vir Krotoa, Eva,
“Hotnot”-meid, haar eigene Plek gee,
al weet hul nie waar’s u rusplek,
al hou hul u nageslag virrie gek,
drup u gene in u stam se bloed,
miljoene “Afrikaners” uit u lende,
eerste Strandstraat-bergie, eish,
al meer as drie eeue gelede, ja,
van vooraf weer “Adult Entertainment”,
ons Khoisan-dronkie, Moeder Krotoa
u fondament, pionierswerk nie erken,
Eerste Mens se status misken, ontken,
pseudo-revisie begin vinnig veld wen
Moeder Krotoa, Skepper Alleen, Hy Weet,
hoekom Eerste Mens so ver-“Bosjesman”,
tot struktuurgeweldsprooi verklaar word,
hoekom “ras”,”klas”, “isiBhulu”, “Slams”,
so netjies in minderheid se kraal inpas,
hoekom paradigma, ideologie, NDR,
m’t kapitaalmodel moet amalgameer
hul nie veel wil weet van u kom, u vertrek,
hoekom Eerste Mens so oor status aangaan,
net u, Moeder Eva, Mevrouw Krotoa Havgard,
net u sal Goeie Hoop, Eerste Mens, Afrikaans,
noodsaak vir Geregtigheid, Khoisanlik, verstaan
u afstam-stam, miljoene van hulle, nes u,
meesal Euro-Indo-Khoi, baie mooi, nes u,
lynreg-direkte familie vannie San, nes u,
wil u familie ook nie sommer gou vergeet,
deur onkundiges in ’n straatsteeg ingepers,
onnodig onmenslik, uiters onmenswaardig,
deur “Duiwelspiek”-dissipels, neo-strategies,
tot een of ander onbekendheid reduseer,
deur struktuurgeweld oorweldig word,
nie terwyl Hoop nog Skepper-gerig is,
Mens en mede-Mens, bloedverwante,
soos elke Afrikaner uit u Khoi-skoot,
nie daaroor deur ander weggestoot,
sosio-ekonomies uitgesluit, verban,
tot wel en wee van Ekonomie Twee
o nee, Moeder Krotoa, vóór God,
u Plek is heel voor in ons stamboek,
al moet ons nog u grafsteen soek,
diegene wie u bloed in hul are dra,
nes u, geneties verbind, aan Moeder,
hart en siel van Gondwana, Afrika
Jacobus Faasen

