Kroes

  • 3

Foto: Canva

Kroes

My hare’t stories wat jy nie ken nie.
Krulle draai in tales van veghou en wen,
elke string ’n herinnering
van wie ek is,
van wie ek wíl wees.

Ek het grootgeword met mense wat fluister:
“Daai kroes? Dis wild, dis woes ...”
Hulle oë meet my krone
soes iets wat geknip moet word,
veranderd, stilgemaak.
“Go relax djou hare”
asof dit moeg is,
asof ek moeg is.

Maar my hare is nie moeg nie.
My hare is wakker.
Dis ’n vlam,
’n vuurwerk op my kop.
Dis die ritme van my mense
die beat van my bloodline
wat dans sonder skaam
in die wind van die Kaap.

Ek’t geseëvier oor kammetjies wat gebreek het,
oor die see wat my hare laat spring
soes dit net wil.
En ek het begin verstaan:
Hierdie kroes is nie ’n las nie.
Dis ’n laslap van trots,
’n lap van lewe.
Dis styl sonder toestemming,
mode sonder filter.

Nou dra ek my kroes
soes ’n koning sy kroon,
en elke krul sê:
Ek’s genoeg.
Ek’s mooi.
Ek’s magtig – net so.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top