John Major, die Britse eerste minister van 1990 tot 1997, het altyd ’n netjiese indruk gewek en soos ’n krieketspeler gelyk. Tot 1966 was hy ’n krieketspeler: "I was no cricketing prodigy, but nor was I a complete mug" (p 5). Dit is ’n aanhaling uit sy boek: More than a game: the story of cricket’s early years (London: Harper Perennial, 2008, 433p). Die titel is ontleen aan Thomas Hughes se roman, Tom Brown’s schooldays (1857), waarin Tom van krieket sê: "It’s more than a game. It’s an institution" (p 174 ).
Major het ’n onblusbare entoesiasme vir krieket: "It delights the eye and touches the soul" (p 3). "It is a team game made up of individual contests" (p 15). Robert Mugabe het in 1991 van krieket gesê: "It civilises people and creates gentlemen" (p 8). Die oorsprong van krieket kan tot ongeveer 1550 nagespeur word, maar dit het eintlik eers van 1700 af momentum gekry. Dit moes om toeskouers meeding met sportsoorte soos haangevegte en boks en selfs met openbare teregstellings. Krieket was aanvanklik gesetel in Engeland suid van die Teemsrivier in die Weald (Kent, Sussex, Surrey) en is later soos die Engelse taal dwarsoor die wêreld, maar veral in die Britse kolonies, versprei. "Cricket is an English invention - an export as potent as the English language itself" (p 16).
"Cricket is of the very essence of England" (p 15); "part of the English way of life" (p 79). "English cricket was the benchmark to which others should aspire" (p 255). "Runs, wickets and catches are all very well, but they don’t capture the fun of it all, the camaradie, the hopes, the mini-triumphs and disasters, the wins, defeats and close finishes, the sunny days and the wet ones, all memories every cricketer locks away for the dark months when the summer game is in hibernation" (p 5).
Aanvanklik was die kolfblaaie glad nie so gelyk soos deesdae nie. Daar was nie masjiene om die gras op die veld kort te hou nie. Die oplossing was om vee op die veld te jaag en hulle daar te laat wei. Rollers en meganiese grassnyers deur perde getrek, het eers teen die middel van die 19de eeu in gebruik gekom. Krieketvelde het nie grense gehad nie, gevolglik moes alle lopies gehardloop word. Paviljoene en tente het mettertyd gevolg, maar aanvanklik net vir gebruik deur klublede; dus nie vir die gerief van toeskouers nie.
Aan die begin is onderarm geboul. Die bal is gerol soos in rolbal ("bowls", vandaar die term "boul") of het laag gebly. Die aflewings kon dus nie baie vinnig wees nie en vir die kolwer was die gevaar van beserings gering. Geen beskerming is gedra nie. Die eerste kolwe het soos hokkiestokke gelyk en die paaltjies was kort. Daar was net twee penne en ’n dwarsbalkie. Om te verhoed dat die bal tussen die penne deur gaan, is ’n derde pen en ’n tweede dwarsbalkie later bygevoeg.
Die boulers het met al hoe vinniger aflewerings vorendag gekom deur hulle arms al hoe hoër deur te swaai, totdat besluit is dat die boularm so hoog bokant die skouer kan wees as wat die bouler verkies. Maar die boularm moet reguit bly; die bal mag nie gegooi word nie. Langer penne, ’n gelyker baanblad en beskerming vir bv die kolwer se bene en hande het ’n regverdiger stryd tussen kolwers en boulers tot gevolg gehad. Die paaltjiewagter ("stopper") het ook by broodnodige beskermingstoerusting gebaat. Veldwerk was die stiefkind van die spel. Die ontwikkeling van veldwerktegnieke en afrigting daarin het later as dié vir kolf- en boulwerk gekom. ’n Veldwerker as "longstopper" was baie lank ’n noodsaaklike aanvulling vir die paaltjiewagter.
Vroeër was daar nie ’n vasgestelde getal spelers in ’n span nie. Mettertyd is dit op 11 vasgestel, maar swakker spanne is soms toegelaat om tot dubbel soveel spelers te gebruik (soortgelyk aan die voorgee in gholf) sodat die spanne beter teen mekaar kon opweeg. Vier balle per boulbeurt is afgestuur, wat later tot ses vermeerder is, hoewel boulbeurte bestaande uit agt balle ’n tyd lank in Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland gebruik is. ’n Lopie is aanvanklik gerekordeer as ’n meskerf in ’n stok. Daarna het die era van geskrewe tellinghou aangebreek. Daar was twee skeidsregter aangewys deur die twee spanne. Reëls dateer terug tot die 18de eeu. Anders as in baie sportsoorte was daar van taamlik vroeg af vrouespanne.
Die Kerk was teen krieket gekant. Dit is ’n "hellish pastime" genoem (p 45); nie net vanweë Sondag-wedstryde nie, maar ook omdat weddenskappe aangegaan en drank, veral bier, tydens en na wedstryde gedrink is: "Punch to make hair curl" (p 90). "Betting was one of the prime motors for the growth of the game in England for over a century" (p 396). Van vroeg af het geld en borge ’n groot rol gespeel: "For cricket, money was to be the root of all progress" (p 37). Spanne het mekaar uitgedaag om prysgeld en die publiek het weddenskappe oor die uitslag aangegaan.
Daar was sowel amateur- as beroepspelers. Die anomalie was dat die amateurs na vergoeding vir hulle "uitgawes" finansieel beter daaraan toe as die beroepspelers was. Laasgenoemdes was dikwels verplig om gedurende die winter ander werk te doen ter verligting van hulle materiële nood. Tot in die 20ste eeu was daar skeiding tussen die amateur- en beroepspelers in dieselfde span: hulle het in verskillende hotelle tuisgegaan, apart geëet, aparte kleedkamers gehad en deur aparte ingange op en van die veld gestap. In 1963 is alle verskille tussen die twee groepe afgeskaf.
Die Sackvilles (SêNet, 23.11.2011) was van die vroegste ondersteuners en borge van krieket. Te Knole, die Sackville-landgoed naby Sevenoaks, "was the first ground to be regularly mown, rolled and cosseted" (p 50), danksy Lionel Sackville (1687-1765). In die opstal is daar steeds ’n portret van Charles Bennett, 4th Earl of Tankerville (1743-1822), wat ’n entoesiastiese bevorderaar van krieket was (p 77). John Frederick Sackville (1745-1799) het geskryf: "What is human life but a game of cricket?" (p 85). Samuel Johnson het in 1755 krieket in sy woordeboek gedefinieer as "a sport of which the contenders drive a ball with sticks in opposition to each other" (p 66).
Die Lords-krieketveld is genoem na Thomas Lord (1755-1832) en is in 1787 geopen. Die Marylebone Cricket Club (MCC) het terselfdertyd ontstaan: "The first reputed cricket society in the Kingdom" (p 109). "It is a historical oddity that the most famous ground in cricket retains the name of the man who wished to develop it for housing, rather than that of one of the benefactors who saved it, William Ward and James Dark. Perhaps this is fortunate: ’Lord’s’ does have a finer ring to it than ’Ward’s’ or ’Dark’s’" (p 145).
Britse soldate het reeds in 1808 krieket in Kaapstad gespeel. Van die eerste velde was in Groenpunt. Die eerste Engelse span het in 1888 in die Kaapkolonie aangekom en die eerste toetswedstryd is in 1889 in Port Elizabeth gespeel. In 1894 het die eerste Suid-Afrikaanse span in Engeland getoer. Teen 1900 was daar nog net drie toetsspelende lande: Engeland, Australië en Suid-Afrika. Major maak nie melding van die vriendskaplike wedstryd wat ’n Engelse toerspan in 1896 op Matjiesfontein teen ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan gespeel het nie. Die hoteleienaar, James Logan (1857-1920), het dit gereël. Een van Engeland se spelers, George Lohmann (1865-1901) het later met die oog op herstel van tering na Suid-Afrika teruggekeer maar is op Worcester oorlede. Hy het so baie van Matjiesfontein gehou dat hy daar begrawe is.
Soos so baie dinge het krieket ook politieke gevolge. Daaroor skryf ek volgende keer.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dankie Johannes, ek sien uit na jou volgende beurt op die veld ...