Krieket en politiek

  • 1

’n Britse oud-premier, John Major, het ’n boek oor krieket gepubliseer, naamlik More than a game (London: Harper Perennial, 2008, 433p). Die aanduidings is dat hy die teks self geskryf het. Van die inligting is deur navorsers ingesamel. Soos die gebruik is, is die teks deur die uitgewer geredigeer. Dit lyk gepas dat Major oor hierdie onderwerp geskryf het, want krieket word met gentlemen geassosieer. Toe Major eerste minister was, was Nelson Mandela die staatshoof van Suid-Afrika. Mandela het in sy jeug geboks. Hy sou moontlik iets oor ’n ongesofistikeerde sport soos boks of sokker kon skryf, maar seker nie oor krieket nie. Mandela se lewensbeskrywing word soos ’n outobiografie ingeklee, maar die werklike skrywer van die teks is Richard Stengel.

Dat Major ’n politikus is, blyk bv uit die volgende: "In the late twentieth century it was fashionable to decry the Empire. Foolish politicians, pandering to prejudice, even apologised for it. There is no doubt that there were individual acts which should be regretted. But, of all empires, the British was the most benevolent and bequeathed the most enduring legacies" (p 357).

In hoofstuk 10 skryf Major oor krieket in lande wat voorheen deel van die Britse Ryk was. In Indië kon Indiërs nie lid van ’n krieketklub vir Europeërs word voor Indië se onafhanklikheid in 1947 nie (p 194). Dit volg dat apartheid nie in 1948 uitgedink is toe die Nasionale Party in Suid-Afrika aan die bewind gekom het nie. Apartheid was wesenlik ’n uitvloeisel van die Britse koloniale segregasiebeleid en die voortsetting daarvan na Uniewording in 1910. Indië wat so dikwels beswaar teen apartheid aangeteken het, is glad nie vry te pleit van rassediskriminasie nie. Major skryf: "Inter-racial rivalry was fierce ... Both Parsees and Hindus restricted membership of their clubs to the upper-classes. Low-caste Indians were not welcome. Snobbery and exclusivity were not solely the prerogative of the British" (p 195). ’n Uitsondering is met Baloo Palwankar, ’n onaanraakbare, gemaak omdat hy ’n uitstekende draaibalbouler was. Hy is as ’n lid van ’n Hindu-klub toegelaat, "although caste taboos meant that he was left to eat and drink outside the pavilion. Indian caste retrictions mirrored Victorian social exclusion in an extreme form" (p 198).

In die Wes-Indiese Eilande is krieket van die begin van die 19de eeu deur klubs gespeel wat eksklusief vir wittes was (p 204). Dit is deur ’n kritikus "illiberalism" genoem (p 206). Hulle eerste buitelandse kriekettoer was na Amerika en Kanada in 1886. Die Wes-Indiese span het uit net wit spelers bestaan (p 205). ’n Aktivis, Pelham Warner, het daarop aangedring dat "any touring side going to England must include ’four or five’ black players" (p 206). In 1900 is vyf swartes (p 207) en in 1906 ses swartes (p 208) in die toerspan ingesluit. Deesdae is die span heeltemal swart. Major veroorloof hom die volgende opmerking: "Warner’s brave and far-sighted advocacy of racial inclusion is a refreshing example of the kind of enlightened attitudes that allowed Britian to rule its Empire with dexterity, and to give up its colonial possessions so deftly when the time arose" (p 206).

Wat in Wes-Indië gebeur het, word in die nuwe Suid-Afrika vordering met transformasie en die kwotastelsel genoem. In volgende rondtes moet daar elke keer meer (en in elk geval nie minder nie) nie-wittes in die span wees, anders word dit ’n terugwaartse stap genoem. Demografie word gou bygesleep, wat in die nuwe Suid-Afrika beteken dat alle sportspanne 80% swart moet wees. Hieruit moet nie afgelei word dat spanne 20% nie-swart moet wees nie. Die openingswedstryd in die Wêreldbeker-sokkertoernooi is gespeel sonder ’n enkele wit Suid-Afrikaanse speler op die veld. Daar word ook geredeneer dat as die Springbok-rugbyspan een keer ’n nie-wit afrigter gehad het, dan mag die volgende een nie wit wees nie, want dit sal ’n ramp vir transformasie wees.

Toe Basil D’Oliveira (4.10.1931-19.11.2011) onlangs oorlede is, is tot vervelens melding gemaak van hoe sleg hy deur die "apartheidsregime" behandel is. Hy was van Indies-Portugese afkoms, het in Kaapstad krieket gespeel, maar in 1960 na Engeland uitgewyk. In 1968 is hy as ’n plaasvervanger vir die Engerse toerspan na Suid-Afrika gekies. Die Vorster-regering het hom egter toegang geweier en die Engelse het toe die toer afgelas. In die nuustydskrif Time (4.12.2011) het Trevor Manuel na D’Oliveira se dood uitgevaar teen die "oppressive apartheid regime" en die UDF se slagspreuk herhaal: "No normal sport in an abnormal society."

Die vraag kan gevra word: Is die nuwe Suid-Afrika ’n normale samelewing? Is dit waar, soos die ANC so graag en so dikwels beweer, dat ons nou ’n nie-rassige samelewing het? Is swart bevoordeling en die gevolglike wit benadeling normaal? Is sport- en ander kwotas normaal? Die hoofdoel van mededingende plaaslike en internasionale sport is om te wen en nie om te help met nasiebou nie. Hierdie doel word verydel wanneer minder verdienstelike swart spelers suiwer op grond van ras of kleur bo meer verdienstelike wit spelers gekies word. Dit is ’n waarheid soos ’n koei dat mense as indiwidue en as groepe verskil. Waarneming dwarsoor die wêreld toon dat party groepe in sommige sportsoorte beter as ander vaar: swartes in bv hardloop en boks, wittes in bv tennis en swem. Dui die sosiale ingenieurswese van die ANC op normaliteit of ideologiese irrasionaliteit?

Oor die Indiese deel van D’Oliveira is daar meer te sê. In Engeland was daar ’n Indiese krieketspeler, KS Ranjitsinhji (1872-1933), wat in 1896 uit die Engelse span vir die eerste toets teen Australië gelaat is omdat geredeneer is dat hy nie ten regte Engeland kon verteenwoordig nie (p 318). In hierdie opsig was daar ook druk van die Britse regering. Toe hy wel vir die tweede toets gekies is, het Ranji sportief verklaar dat hy sal speel mits die Australiese span nie beswaar het nie. Hulle was tevrede en hy het vir Engeland gespeel. Hierdie billikheid het in die geval D’Oliveira ontbreek. In 1899 was daar weer ’n poging om Ranji uit die Engelse span te hou. Major noem die voorsitter van die keurkomitee "pig-headed" (p 328).

Oor die Kaapse deel van D’Oliveira is daar ook meer te sê. Charles Lawrence het in 1868 ’n krieketspan bestaande uit uitsluitlik Australiese inboorlinge na Engeland gebring vir wedstryde teen klub- en graafskapspanne. Hulle "amused spectators with exhibitions of how to throw a boomerang" (p 221). In 1878 het die eerste amptelike Australiese krieketspan Engeland besoek. Die toeskouers was verbaas dat dit ’n eksklusief wit span was (p 226). Vir Suid-Afrika se eerste kriekettoer na Engeland in 1894 is Krom Hendricks, ’n Kaapse Maleier-snelbouler, as spanlid gekies. Die Britsgebore eerste minister van die Kaapkolonie, Cecil Rhodes, het Hendricks se insluiting geveto "on the spurious grounds that he didn’t want Hendricks to be subjected to insulting native stereotyping, such as the endless requests for demonstrations of spear-throwing that had beset the Australian Aboriginal tour of England a quater of a century before. He was quoted as saying, ’They would have expected him to throw boomerangs during the lunch interval’ ... Rhodes’s real intention was to enable an all-white team to travel, and Hendricks was excluded" (p 202).

Wit Suid-Afrikaanse rugbyspanne was nie in Nieu-Seeland welkom nie, maar eksklusief Maori-spanne word in die nuwe Suid-Afrika toegelaat. Die verskil is glo dat eersgenoemde politiek- en laasgenoemde kultuurgebaseer is. In die vorige eeu het internasionale sportliggame venynig met woord en daad teen wit Suid-Afrikaanse sportspanne te velde getrek. Deesdae is daardie selfde liggame stil oor diskriminasie teen wit sportmanne. Daar word met verskillende mate gemeet.

Die voorafgaande toon dat daar heelwat skynheiligheid in die politiek en sport is, dat rassesegregasie nie ’n Afrikaner-uitvinding is nie, dat rassediskriminasie nie net by wittes voorkom nie, asook dat raskwotas in sport en die geval D’Oliveira nie uniek is nie. As aktiviste oor meer agtergrondinligting beskik het, kon hulle verkieslik minder oor ’n geval soos D’Oliveira gekraai het. In die bedryf waarin aktiviste hulle bevind, word woord en daad egter nie maklik deur feite gekniehalter nie.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Johannes, sulke geskiedenis lees soos Asterix en Obelix se verhaal in Britanje ... lekker ... hoe kan ek dit anders seg ... Baie dankie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top