Daar is protes op die rooiplein, briewe in die koerant, video’s op YouTube. Die Maties is kwaad.
Hierdie woede in Matieland oor die golf van misdaad wat oor die dorp spoel, is geen verrassing nie.
Eerstens is dit ’n voortslepende probleem wat met die jare opgebou het. Dit mag dalk besig wees om ’n klimaks te bereik, maar dis nie ’n nuwe verskynsel nie. Ek onthou die middag toe ek by die polisiekantoor gekom het om ’n gesteelde skootrekenaar te rapporteer; hulle het vir my gesê ek is op dié betrokke dag die sewende persoon wat kom kla. En dit was vyf jaar gelede.

Tweedens is studente se ontevredenheid hiermee meer toe te skryf aan hul verwagtinge en idees oor Stellenbosch as hierdie ontstellende verlies aan bewegingsvryheid en eiendomsreg wat hul nou in die gesig staar.
Van so ver as Gauteng en KwaZulu-Natal stroom jongmense na die Eikestad om te kom swot. Gereeld is daar Engelse studente wat makliker op kampusse soos Ikeys en UJ sou aanpas, maar dit verruil vir die sorgvrye studentelewe tussen akkerboomlanings wat die US beloof.
Dit is ’n idilliese stukkie aarde en dis maklik om te vergeet dat Stellenbosch nie net knus lê tussen berge en wingerde nie, maar ook omring word deur twee ewig-groeiende informele nedersettings.

Ek wonder soms hoeveel Maties al ooit voet gesit het in Kayamandi en/of Cloetesville. Hoeveel weet waar Langbrug is?
Dit is ’n situasie met twee kante, waarvan ek albei goed leer ken het.
My skootrekenaar is drie keer gesteel terwyl ek ’n student was. Een aand is ek met ’n pistool aangehou en van alle waardevolle, roerende eiendom aan my beroof. Toe die kans hom voordoen, het ek baie vinnig gemaak dat ek daar wegkom. Agterna was ek dankbaar dat hulle nie op my geskiet het nie – asook dat ek die 1 500 m op skool gedoen het.
Maar die laaste strooi was toe hul onlangs my badkamersakkies deur die venster gesteel het. Ek was woedend. “Dit het nou niks met nood te doen nie,” het ek gesê; “dis net moedswilligheid!”
Eintlik eerder: “Dat iemand sonder kos (en moontlik heenkome) en waarskynlik in die greep van dwelms my ontneem het van die reg om in die oggend my tande te borsel ... hoe durf hulle! Daai goed is duur, demmit man!”
Ja, want dit was voor ek tyd saam met die Stellenbosch-ambulansdienste deurgebring het –een van ’n paar projekte in die afgelope jaar wat my na die omliggende, verarmde gebiede geneem het.
Armoede, swaarkry, dié het ek verwag. Maar die wolk van misdaad waaronder daardie mense leef, is ’n gesig wat ek nooit sal vergeet nie.
Op ’n rustige Sondagaand in Stellenbosch word ons ontbied na ’n kleinhoewe buite die dorp waar ’n man verskeie kere met ’n mes gesteek is. Hy en sy vriende het gesit en kuier toe ’n rusie ontstaan. Die lem wat nog tussen sy ribbes uitgesteek het, het soos ’n onnatuurlike vergroeisel gelyk. Jy wil nie kyk nie, maar jy kan ook nie wegkyk nie.
Kan jy jou voorstel ’n rustige studentekuier op Stellenbosch wat in so iets ontaard? ’n Droomvoorblad vir Die Burger (terwyl bogenoemde natuurlik nie die nuus gehaal het nie).
Besoek enige van hierdie nedersettings oor ’n naweek en jy vind maklik tussen sewe en twaalf sulke insidente. Hiervan word die meerderheid nie by die polisie aangemeld nie en die beseerdes kry ook nie mediese behandeling nie.
Sien, Stellenbosch was jare lank ’n bastion vir die Afrikanerdom, vir baie ’n trotse vesting van apartheid, veilig genestel tussen sy berge en afgesonder van die res van die land met sy strawwe sosio-ekonomiese waarhede. Baie van Stellenbosch se inwoners is egter stadig maar seker besig om van hierdie realiteite bewus te raak soos wat die wêrelde van die haves en die have-nots onvermydelik saamsmelt oor 20 jaar van demokrasie.
Die kokon om Stellenbosch begin kraak; en dis ’n uiters ongemaklike gevoel.
Hoe durf julle ons aan jul lewenstyl blootstel? Só weergalm die vrae in die onderbewussyn. Hulle is kwaad vir kampusveiligheid, vir kampusadministrasie, vir die polisie en sommer ook vir die studenteraad.
En dalk met rede. Is die huidige situasie in die land die skuld van die born-frees? Nee, sekerlik nie, maar soos Ayn Rand gesê het: “You can ignore reality but you can’t ignore the consequences of ignoring reality.”
Die misdaad waaronder die middelklas ly, is nie op ras gegrond soos sommige mense steeds wil glo nie. Dit is en was nog altyd maatskaplik-ekonomies van aard, en dit is ’n werklikheid waaraan ons ongelukkig elkeen ’n aandeel dra.
Thomas Piketty se boek Capital in the Twenty-First Century het die wêreld aan die gons nadat dit weer die fokus geplaas het op die toenemende ekonomiese ongelykhede wat wêreldwyd steeds bestaan. Maar dis soms net te maklik om deel te neem aan die globale gesprek, maar te kies om ongelykhede in ons midde te ignoreer. Ons voel die gevolge, maar hoe gereeld kyk ons na die oorsake?
Ek wil definitief nie hier die morele hoë grond inneem nie. Ek kan nie sê ek het al besonder baie gedoen om minderbevoorregtes in en om Stellenbosch te help nie. Maar ek weet teen dié tyd dit begin met ’n ingesteldheid.
Ons skreeu te maklik moord en brand oor misdaad teenoor enigeen wat sal luister: “Vind ’n manier om my te beskerm!”
Maar gestel die kreet sou verander na: “Kom ons vind ’n manier om hulle te help!”?
Partykeer is dit te pynlik om jouself te probeer vereenselwig met die desperaatheid en pyn wat tot sekere misdadigers se handelinge lei, maar dis ongelukkig geen manier om deur die lewe te gaan nie; ’n kokon-werklikheid is geen bestaan nie.

