Die Nederlandse verhoogproduksie van JM Coetzee se roman Disgrace het op 4 Desember 2011 in première gegaan. Toneelgroep Amsterdam trek tot 24 Maart 2012 daarmee deur Nederland en omringende lande. Die spel van Gijs Scholten van Aschat as professor David Lurie en Janni Goslinga as sy dogter Lucy kry orals lowende resensies. Die Vlaming Luk Perceval is die regisseur. In Ongenade was ook in Tilburg op die planke.
Die eerste ding wat die teatergangers sien, is die opvallende dekor. Die gordyne is oop en die verhoog staan vol met ’n vyftigtal bruin winkelpoppe. Is daar miskien mense tussen hulle? Jy begin onwillkeurig soek vir lewe, maar voorlopig ontdek jy net nog ’n paar poppe van honde. Met hierdie dekor gee Perceval ’n outentieke Nederlandse perspektief. In ’n digbevolkte, klein landjie staan ’n verhoog propvol winkelpoppe voor ’n byna uitverkoopte saal. Dit is die teenoorgestelde van die pragtige Oos-Kaapse panoramas wat die Australiese regisseur Steve Jacobs in sy film Disgrace gebruik het. 
Byna onsigbaar agter op die verhoog staan ’n kar. Die bedreiging wat later van die kar sal uitgaan, is aanvanklik nog onsigbaar. Met die klomp winkelpoppe probeer Perceval om ’n sfeer te skep “van terloops gegeven tot feestelijke toevoeging, van sluimerende dreiging tot dystopisch toekomsbeeld. Ze fungeren als stille getuigen, als volkstribunaal of als vertegenwoordigers van een nieuwe wereld in aantocht” (NRC-Handelsblad, 5 Desember 2011).
Scholten van Aschot stap op en gaan sit op ’n stoel. Die openingswoorde van In Ongenade kom van regs uit die saal in die vorm van ’n aanklag. Dit word dadelik opgevolg met woorde van links agter: “De vergadering heeft geen bevoegdheid om beslissingen te nemen.” Op hierdie manier word die gehoor deel van die tugverhoor en sit hulle in die aanklagstoel. David Lurie se reaksies word noukeurig dopgehou, asof hulle werklik oor sy lot moet beslis. Dieselde twee aktrises staan later as Lucy en Bev Shaw op die verhoog.
Nog ’n volkome aanvaarbare (miskien ook tipies Nederlandse) gedragspatroon van Lurie word ná hierdie aanklag uitgebeeld: sy besoeke elke Donderdagmiddag aan Discreet Escort in Groenpunt. Teen R400 vir ’n uur en ’n half sorg Soraja vir verligting. Lurie noem homself gelukkig, maar haal dadelik uit Oedipus aan: “Noem geen men gelukkig voordat hy dood is.” Baie gou daarna draai die geluksgodin teen hom.
Die spel van Scholten van Aschot word geloof. Hy verras met sy genuanseerde begrip vir die karakter van Lurie. Self sê hy die volgende oor Lurie: “De geletterde man uit de stad maakt op het platteland een radeloze indruk. Maar vergist je niet, intellectuele capaciteiten hoeven niets te maken te hebben met emotionele ontwikkeling. Daarbij is Lurie iemand die zijn pik achterna loopt” (Brabants Dagblad, 25 November 2011). Vir Scholten van Aschot handel In Ongenade veral oor die ondergang van ’n man. Hy neem ’n hele paar risiko’s om Lurie se koppigheid en eiewysheid uit te beeld. Ander hoogtepunte in sy dertig jaar lange loopbaan as akteur (twintig jaar vryskutwerk) was Demonen, ’n huweliksdrama van Lars Noréns, sy rol as vader in die film Tirza van Arnon Grunberg en Richard III met liedjies van Tom Waits.
Volgens toneelresensent Hermien Wensink speel ook Janni Goslinga die rol van Lucy Lurie gevaarlik oortuigend. “Haar dogmatische pragmatisme brengt haar in conflict met haar vader…” (NRC-Handelblad, 5 Desember 2011). Sy is net so koppig en eiewys soos hy, maar hulle verskil ook baie. Sy lewe as stadsmens, letterkundige, universiteitsdosent van klassieke Engelse letterkunde en Byron-kenner is ligjare verwyder van dié van Lucy. Sy boer in die boendoes en in haar groentetuintjie kweek sy tamaties en dahlias.
Die sleuteltoneel, waarin Lucy verkrag word, is grimmig. Daardie kar agter op die verhoog kom as skommelende verkragtingstoneel in die prentjie. Elkeen in die gehoor kan deur hulle ore “sien” wat gebeur, want die klankversterkte geskwiek word stelselmatig harder. Dit voel asof dit ’n ewigheid aanhou. Op Lurie word geskiet met so ’n speelgoedpistooljie. Swaelreuk hang in die lug. Die verhoog is vol rook. ’n Bietjie later kies die liewe Lucy vir lyding. “Suggereert de roman dat het uit een bizar soort historische schuldbesef is, in de toneelbewerking … is het meer vanuit de aanvaarding van chaos” (NRC-Handelsblad, 5 Desember 2011).
Kyk hier onder na die lokfilm van In Ongenade:

