Kort, korter, twitter

  • 0

Vir iemand soos ek wat graag lang sinne en komplekse paragrawe skryf, wat al skrywend bladsye weg kan droom en myself graag in dik romans verloor, is die kuns van kort sinne beslis uitdagend.

En tog, in ons hipersnel, vinnig-vervlietende (elektroniese) wêreld is sinne kort. Bestaan paragrawe nouliks. Is ‘n bladsy nie meer ‘n bladsy nie. Moet elke woord wat ek skryf, met al die ander onderbrekings op die internet meeding.

Nadat Bibi in my onderhoud met haar verlede week verklaar het dat sy probeer om elke gedig die vervlietende karakter van ‘n Facebook status update, twitter tweet of instagram-foto te laat hê, het ek bietjie gaan rondkrap en op die internet (waar anders?) op die sogenaamde Twitter-roman afgekom.

Wat is ‘n Twitter-roman?

Dit is deel van mikroromans, wat Wikipedia definieer as ‘n fiksionele teks, of dan “roman”, wat geskryf en versprei word in klein dele, gedefinieer deur die sisteem waarin dit gepubliseer word. So sal ‘n Twitter-roman, 140 skryftekens per slag aan honger lesers gevoer – of eerder getjirp – word. ‘n Roman, dus, wat vinnig versprei word en resoneer met die hipersnelheid van ons vinnig-afleibare wêreld.

Wie skryf so?

Matt Steward het sy debuutroman, The French revolution, volledig op Twitter gepubliseer. Telkens het hy dele van sy 480 000-skryfteken-roman in 140 skryftekens op ‘n slag op Twitter gepubliseer. Met 3 700 tweets kan jy die hele storie van die invloed van die Franse Revolusie op die mikrokosmos van ‘n disfunksionele familie in San Francisco lees.

Kyk op sy webblad om die twitter-roman-rewolusie mee te maak (want op sy Twitter kan mens, heel begryplik, nouliks ‘n oorsig kry).

‘n Goeie oefening vir skrywers is om te sien of jy ‘n hele verhaal in 140 skryftekens kan skryf. En ek bedoel nie om jou verhaal in 140 skryftekens te verduidelik nie, maar om letterlik ‘n verhaal in 140 skryftekens te vertel. Ek bedoel ook nie om jou verhaal in snarsies van 140 skryftekens op ‘n slag tjirp vir tjirp te vertel nie, maar 140 skryftekens. Punt.

Dit is presies ‘n eksperiment wat die elektroniese weergawe van The Guardian gedoen het. 21 Bekende skrywers is gevra om verhale – maar hulle noem dit “romans” –  in 140 skryftekens te skryf. Hier is die resultate.

As jy hiermee sukkel, probeer om ‘n verhaal in 100 woorde te vertel. 100 woorde. Punt. ‘n Uitstekende oefening vir skrywers soos ek wat verslaaf is aan ‘n oormaat van woorde.

Nog iets waarop ek dié week afgekom het, is die sogenaamde selfoonroman, of mobi-boeke, waarin brokke teks via sms aan lesers gestuur word. Volgens Rhodé Odendaal in Die Afrikaanse skryfgids (2013: 423) is die tendens van mobi-boeke wêreldwyd aan die toeneem. Dit is geweldig gewild in Japan, waar dit begin is en waar daar blykbaar reeds ‘n subkultuur ontstaan het rondom die lees en skryf daarvan. Rhodé vertel ook dat in 2007 vyf uit die tien blitsverkopers uit die pen van die sogenaamde thumb-tribe ontstaan het. Wil jy tiener- en jeugverhale skryf, die middelman van die uitgewer oorslaan en tieners vinnig en doeltreffend met selfone bereik? Probeer YOZA-selfoonverhale.

En wat van interaktiewe romans? Hoe kan die net ingespan word vir lesers wat self die uiteindes van ‘n storie wil beslis of ten minste wil beïnvloed? Die skrywer Gergely Teglasy het Facebook gebruik om ‘n roman te skryf waar lesers die storielyn met kommentaar kan beinvloed.

Beste vinnig-veranderende, snel-tikkende en oppervlakkig-oorsiglesende lesers en nuwe skrywers, hoe word mens ’n skrywer in die 21ste eeu? Jy leer om vinnig te skryf. Kort sinne. Maksimum impak. Boem. Punt. 

Tot volgende week

Rentia

Wil jy graag die resultate van ons Poësie-kompetisie Netdigters 2.0 lees? Hier kan jy alle inskrywings lees. Dankie vir almal se vindingrykheid.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top