Kopreis is ’n lekker boek

  • 0

Kopreis
Gerrit Rautenbach
Uitgewer: Queillerie Publishers
ISBN: 9780795800245
Prys: R175.95

Klik hier en koop Kopreis nou van Kalahari.net!

Wanneer jy aan die einde van die boek Gerrit Rautenbach se Kopreis neersit, raak jou eie kop vir ’n paar oomblikke stil.

Net soos wanneer jy ’n goeie gedig gelees het, wegstap van ’n goeie skildery, of wanneer ’n stuk musiek wat jou roer, tot ’n einde kom.

Maar die wêreld wat Rautenbach beskryf, is baie ver van die wêreld van die gedig, die skilderkuns en die musiek. Hy haal miskien graag gedigte en lirieke aan, maar op die ou end staan sy prosa met al twee voete in ’n regte wêreld vol regte mense. ’n Wêreld wat dikwels bevolk word deur “Die Manne”, mense wat ons almal ken.

“Die Manne” ry viertrekvoertuie, Harley Davidsons en veldfietse. “Die Manne” jag en skiet so raak soos John Wayne, reis saam met ander lede van “Die Manne” na onherbergsame plekke, en “bou” potjies. “Die Manne” sit saam om die vuur na die vlamme en staar. “Die Manne” praat oor hulleself tussen aanhalingstekens en soek graag mekaar se geselskap op. “Die Manne” is wit en oënskynlik welvarend: veldfietse, jagtogte en Afrikatoere kos geld.

Klaarblyklik is daar is nie veel plek vir vroue in “Die Manne” se wêreld nie. In Kopreis kom hulle maar min voor. Daar word miskien skrams verwys na ’n ma. Of na ’n dogter wat huil as haar pa vir haar skoolkonsert opdaag na ’n epiese lugtrek oor Afrika vanaf Egipte. Na ’n kankerpasiënt wat lewenswyshede deel met die verteller bo-op ’n rooi duin in die Namib. Maar selfs in “Die Kastele van Brussel”, wat handel oor ’n drie jaar lange liefdesverhouding in die vreemde, word die leser min wys oor die vrou in die verhouding.

Die vertellings in Kopreis lees besonder lekker. Daar is dele wat die leser heeltemal betower en wegvoer. Daar is ’n inherente empatie met baie dinge daar buite. Daar is die taalvaardigheid van iemand wat al jare lank met woorde werk. Daar is ’n vertelgemak en ’n sjarme wat mens maklik van Rautenbach se vertellings laat hou.

Kopreis
is ’n interessante vermenging van reisbeskrywing, skets, anekdote, joernalistiek en kortverhaal.

Die reisbeskrywings is besonder sterk. Rautenbach se vermoë om wat Durrell “the spirit of place” genoem het, weer te gee, verstom. Die plekke wat hy besoek, is interessant, die mense wat hy beskryf boei, en hy het ’n vermoë om sy vertellers die middelpunt van die gebeure te maak soos wat die New Journalists in die sestigs gedoen het. Dan skryf hy ook ’n paar “aksietonele” (onder andere ’n krokodilaanval) wat die leser se hart vinniger laat klop. Voeg daarby ’n vermoë om die verlede met net genoeg sentimentaliteit in te kleur en jy het ’n skrywer wat dalk baie binnekort sommer baie aanhangers gaan hê.

In ’n skrywe soos “Wat maak ’n pa” wys hy ook dat hy die kortverhaal maklik sal kan baasraak indien hy sy wou, en in die skreeusnaakse “Triomf, Triomf, o blye dag” oor Zefgat-bure toon hy ’n flair vir die humoristiese wat min hom sal kan nadoen.

Sy stories kronkel soms soos ’n Afrika-rivier en gooi dikwels ’n paar wye draaie langs die pad. Hy onderbreek en ondergrawe sy prosa gereeld met uitdrukkings soos “ook g’n wonder nie”, “om mee te begin” en “dis nou basies” en word sodoende deel van ’n ryk tradisie van gesoute storievertellers soos Jan Spies, Tolla van der Merwe en Pieter Pieterse.

Vir Rautenbach gaan dit duidelik oor storie en gebeurtenis en meestal seëvier sy stories triomfantelik. Daarom doen die insluiting van stukke soos “Motorfiets 101”, wat soos ’n opgewarmde persvrystelling lees, en “Tussen treine …”, wat die woorde “press junket” deur jou kop laat vlieg, effe afbreek aan die leesplesier en gehalte van die res van die boek.

Kopreis is ’n leesplesier. Dis ’n lekker boek wat by jou gaan bly lank nadat jy dit neergesit het en wat meer as een keer se lees maklik sal oorleef.

Dis ook ’n boek wat jou sal laat uitsien na Rautenbach se volgende een.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top