Twee probleme wat vir janalleman tans besonder beswaar, is ‘tolpaaie’ en ‘gebrekkige munisipale infrastruktuur’ — en verdien verbeeldingryke oplossings eerder as die gedurige happery na mekaar Deur al die ander probleme by naam oor hierdie boeg te gooi sal net die argument tot in warboel laat ontaard.
Groot somme geld is nodig om die toestand te verlig — as ook ’n kopskuif in die administrasie daarvan.
“Tolpaaie” bestaan feitlik universeel en dit is ’n ope vraag of die bes-bestuurde daarvan deur Sanral in die aanloop tot die voorgestelde netwerk hier indringend ontleed is. Die emosionele (soms woedende) reaksie daaroor kan teengewerk word deur openhartige gesprekke daaroor.
Die indirekte belastingbasis moet noodwendig uitgebrei word deur alle padgebruikers — sonder aansiens des persoon — te betrek op ’n manier dat almal openbare toegang het tot die Inkomste:Uitgawe staat. Dit is die aanwending van die geld wat deur 1. Sanral ge-in sal word en ook die wat reeds 2. deur voertuiglisensies en 3. belasting op brandstof verkry word (2 en 3 ‘verdwyn’ tans in die algemene staatskas sonder ’n duidelike aanduiding hoe dit vir die doel waarvoor dit veronderstel is aangewend word).
Daar moet dus ’n statutêre Road Fund /Padfonds as ’n aparte entiteit oorweeg word wat 1, 2 en 3 hierbo sal ondervang en ook die bestuurskoste van Sanral in ’n ‘ouditeurbare vorm’ sal weergee — en ’n gedetailleerde verslag van watter bedrag op watter roete bestee is, asook die bedrag wat (persentasie gewys?) by die bestaande staatstoelaes gevoeg sal word ter verligting van die hulpbehoewendes wat deur die stelsel van tolpaaie verder benadeel word.
Op dieselfde trant van denke moet ’n Municipal Infrastructure Fund/ Munisipale Infrastruktuur Fonds oorweeg word wat deur ’n verhoging van een tot twee persent van BTW befonds sal word weereens met ’n ouditeerbare aanwysing van die bedrag wat spesifiek hierdeur verkry word en hoe, waar en waarvoor dit aangewend is. Tenders toegeken, die prosedure daarvan en die uitkoms van elke kontrak moet noukeurig gelys word.
Miskien kan die ’nasionale gesondheidsplan’ later hierby gevoeg word.
Daar sal van die fiskus verwag word om al die ander probleme wat ons teister — en vererger word deur onbevoegheid, nepotisme en korrupsie — aan te spreek deur die toewysing van fondse. Dit is algemeen bekend dat basiese onderwys meer onderhewig is aan onbevoegdheid as aan ’n gebrek van befondsing.
Naas Viljoen


Kommentaar
In SA is die invorderingskoste vir tolpaaie buitensporig hoog. 'n Aantal vet katte word in die proses nog vetter gevoer. My groot beswaar teen tolpaaie is dat dit altyd onregverdig is teen sekere motoriste. Twee persone bly in verskillende voorstede ongeveer dieselfde afstand van die middestad - die een moet van 'n tolpad gebruik maak en die ander een nie. Tolpaaie veroorsaak ook dat sekere paaie oorbenut word, omdat mense die tolpaaie probeer vermy. Die enigste regverdige benadering is om geen tolpaaie te hê nie en met behulp van brandstofheffings geld vir padbou in te vorder, indien die totale bydraes van padgebruikers onvoldoende sou wees. Die totale ingevorderde bedrag, sonder invorderingskoste kom dan in die staat se besit. Jy betaal dan volgens die totale kilometres wat jy ry en nie volgens die ligging van jou huis nie.
As die tolpaaie in die Kaap 'n werklikheid word sal die produksiekoste van feitlik al die landbouprodukte wat die land verlaat verhoog, want uitvoervrugte sal deur 'n aantal tolhekke moet beweeg. Die betrokke boere kry reeds swaar omdat die regering hulle nie simpatiekgesind is nie - om dit sag te stel (ander lande se regerings probeer hulle landbouers ondersteun om die maksimum buitelandse valuta in te bring).
George