Koos Kombuis vertel hoekom hy altyd eers aan die bladsye van ’n boek ruik voor hy dit lees

  • 0

Koos Kombuis vertel hoekom hy altyd eers aan die bladsye van ’n boek ruik voor hy dit lees

Ja, ek doen dit regtig!

Die eerste ding wat ek altyd doen as ek ’n nuwe boek oopmaak om te lees, is om aan die bladsye te ruik.

Mens kan dit nie doen as jy ’n boek op Kindle lees nie. Elektroniese tekste het geen reuk nie.

Ten spyte van die feit dat ek al my nuusmedia eerder op die internet lees as om fisiese koerante deur te blaai, ervaar ek, soos baie ander mense, ’n geweldige sin van verlies wanneer ek hoor dat gedrukte papierkoerante binnekort gaan begin uitsterf.

Daar is selfs meningsvormers wat die laaste ruk hardop gewonder het (onder andere Johan Coetzee, Charles Smith en Etienne van Heerden) of regte boeke, gedruk op regte papier, wat gebêre word op regte boekrakke, ook in die slag kan bly.

Dit sal bitter jammer wees!

Min dinge verskaf my soveel genot as om deur die ou, effens muwwe gange van ons plaaslike dorpsbiblioteek te stap terwyl ek soek na iets om te lees.

Om fisies na ’n boek te soek, is heeltemal anders as om ’n onderwerp te google op jou slimfoon. Dis ’n persoonlike reis, ’n intieme proses, ’n herinnering aan vergange se dae en ’n aktiwiteit wat my terugvoer na die gelukkigste oomblikke van my kinderjare.

Ek besoek vandag nog ons plaaslike dorpsbiblioteek. Ek weet daar is ’n baie groter verskeidenheid boeke by die universiteitsbiblioteek waarvan ek ook ’n lid is, maar my besoeke aan die dorpsbiblioteek is vir my terapeuties. Ek is mal daaroor om met die tannies agter die toonbank te gesels. Ek is mal daaroor as hulle vir my sê: “Hierdie boeke is baie laat, jy sal ’n groot boete moet betaal!” En dan vra ek: “Hoeveel?” En die tannie sê: “Twaalf rand!” En dan voeg sy by, met groot oë: “Jy hoef nie alles op ’n slag te betaal nie, jy kan dit natuurlik in paaiemente doen!” (Hierdie gesprek het regtig plaasgevind, sommer nou die ander dag!)

Ek hoop nie dat dorpsbiblioteke ooit uitsterf nie.

Terug na die punt onder bespreking. Ek weet, en ek besef terdeë, dat om ’n boek of ’n koerant te druk, jy papier nodig het, en papier, so word algemeen aanvaar en geglo, kry mens deur bome af te saag. Met ander woorde, gedrukte boeke is nie juis eko-vriendelik nie.

Nie dat elektroniese media meer eko-vriendelik is nie. Computers en selfone is moeilik om te vervaardig en nog moeiliker om weg te gooi, en die impak op die omgewing is, so hoor ek, net so, indien nie meer skrikwekkend nie.

En tog. En ja. En juis. 

Ek wil boeke lees. Regte boeke.

As ek saans in die bed klim met my laaste glasie wyn, wil ek nie nog regop sit met ’n laptop op my skoot nie. Ek wil teruglê op die kussings met ’n regte boek. Ek wil ruik aan die bladsye, ek wil die papier tussen my vingers voel, ek wil die bladsye self omblaai, ek wil aan die slaap raak met die boek nog oop op my maag.

Dis mos hoe ’n mens stories lees. Dis mos hoe ’n mens ’n verhouding opbou met ’n boek.

Jy wil ’n boek deurlees vanaf die eerste bladsy, vanaf die voorblad en die agter-buiteblad, dwarsdeur al die hoofstukke totdat jy uiteindelik, na die verhaal sy loop geneem het en al die karakters ingeëts is in jou hart, al die aksies en taferele voltooi en opgelos, die boek weer toemaak, en vir ’n wyle lê en dink oor die impak wat hierdie stuk skryfwerk op jou gemoed gehad het.

Hoe dikker die boek, hoe lekkerder. 

Ek lees soms nog die kort stukkies in ’n essaybundel of kortverhaalbloemlesing vinnig een vir een op die skerm van my rekenaar. Dis oukei, want sulke leeservarings is korttermyn-verhoudings. Dis soos om gedigte een vir een op Versindaba te ontmoet. 

Maar iets soos Lord of the rings moet ek in die bed lees. Al duisend bladsye. Om so iets op jou selfoon te probeer deurdraf, is nie net onmoontlik nie, dis ’n skreiende sonde. 

Soos ek gesê het, daar is egter nou ingeligte denkers wat voorspel dat daar ’n geslag nuwe lesers op pad is wat alles slegs elektronies gaan lees. Nie net koerante en tydskrifte nie, ook fiksie.

Daar is ’n selfs meer pessimistiese groep beïnvloeders wat vrees dat die mensdom in die toekoms die vaardigheid van lees, die vermoë om letters en syfers te verstaan en te vertaal na inhoud, heeltemal gaan afsterf. 

Hulle redeneer: Waarom ’n hele teks lees, paragraaf na paragraaf, as jy die hele storie op YouTube of Netflix kan kyk?

Waarom hoegenaamd jou brein inspan as dit nie regtig nodig is nie? 

Dit gaan al hoe meer bloot oor inligting inneem en al minder oor die kwaliteit van die leeservaring.

Is ons regtig een van die laaste generasies wat die romantiek van papiergedrukte inligting sal kan verstaan en waardeer? En as papiergedrukte inligting heeltemal uitsterf, sal toekomstige geslagte ooit besef wat hulle verloor het?

Sal hulle terugkyk, met ’n mengsel van afgryse en neerhalendheid, na die era van gedrukte boeke soos ons vandag terugkyk na die tye toe vroue nog hul gesinne se klere geweef het of kinders nog kleilat gegooi het by die plaasdam?

Is vooruitgang altyd noodwendig ’n goeie ding? Hoe baie kosbare ervarings verloor ons in die proses?

Alreeds bestaan daar nie meer iets soos saamsing-aande nie. Die idee van gesinne wat liedjies saam sing, hetsy uit die FAK-sangbundel of sommer net bekende popliedjies, het uitgesterf saam met Hammond-orrels. Dit is vervang, eers deur die TV en in later jare deur foon- en rekenaarskerms.

En WhatsApp-boodskappe? Dit vergemaklik weliswaar kommunikasie, maar kan dit werklik die plek inneem van oor en weer kuier en gou-gou inval by jou vriend vir ’n koffie op die stoep?

Wanneer laas het ek ’n outydse telefoongehoorbuis opgetel en vir my vrou gesê: “Ek is nou lus vir ’n lekker lang gesprek met so-en-so”?

Om die waarheid te sê, ons het nie eers meer ’n huistelefoon nie.

Natuurlik kan ek video-oproepe maak op my foon – dis ’n tegnologie wat vroeër jare slegs in wetenskapfiksieromans beskryf is – maar nou ja, dit help as jy die persoon aan die ander kant kan sien terwyl jy gesels, maar jy kan nie haar parfuum ruik nie, jy kan nie goed vra soos “Hoeveel suikers in jou koffie?” nie, jy kan nie gou saam met jou pel uitstap om in sy tuin te gaan piepie nie, jy kan nie ’n heildronk instel en mekaar se glase teen mekaar klink sodat jy die geluid van glas teen glas kan hoor en voel nie.

’n Hele rits ervarings en gewoontes is besig om te verdwyn. Dalk vir altyd. 

Ek onthou die gevoel van opgewondenheid wat ek lank gelede ervaar het wanneer ek Sondagoggende in my kar klim en na die keffie toe ry om die Rapport te koop. Ek kon nie wag om die voorblad te sien nie.

Ek doen dit lankal nie meer nie. Ek mis dit skaars. Ek dink nie meer daaroor nie. 

En tog. 

Gaan ek dit mis wanneer die dag aanbreek dat ek nie meer ’n nuwe boek oopmaak en aan die bladsye ruik nie? 

Gaan ons ooit weer daaroor dink? Gaan ons regtig?

Is dit nie veel makliker en geriefliker om net ’n knoppie op jou laptop te druk nie? 

Ja, natuurlik is dit.

En tog.

En tog ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top