Kook met blikkies en pakkies-kompetisie: Resep – patat

  • 1

Loop soek vir jou ’n lekker vet patat uit. Sit hom vroegoggend innie son lat hy kan suiker trek. Hier rond lê die pampoene altoos op die dak en die patats sal jy altyd iewers op die stoep of iewers gewaar. Nie verniet nie want daai patat trek suiker soos die ou mense altoos beduie het. Jy sal sien, as dit ’n regte patat is, dat die stroop later so by sy ente uitloop.

As jy genoeg tyd het dan sit jy hom innie oond baie laag vir ’n dag lank of anders sit jy hom in die mikrogolf op hoog vir ’n paar minute tot hy sag is.
Haal die patat uit en sny hom presies in die helfte.
Hol elke helfte uit sodat daar so 20 mm alle kante toe oor is en laat staan.

Op die stoof maak jy solank jou vulsel reg: groot ui, groen rooi of geel rissie, pietesielie, blatjang, kersietamaties, six gun speserye, ordentlike chilliesous, en basies enigiets wat in die romeine se smaak val. Ek voeg sommer sampioene of ’n blikkie roommielies by. Speserye na smaak.

Sit jou oond solank op hoog (sê maar 180) en dan bring jy daai twee helftes vannie patat op ’n vlak bakplaat nader. Krummel ’n paar stukke goeie feta in die patathalwes in, en skep die uie gepak in totdat hulle amper vol is. Sprinkel cheddar of mozzarelle lekker dik bo op. ’n Paar druppels goeie olyfolie, soet chillisous, ’n paar skeute "Jappanese mayo" en ’n knypie bruinsuiker oor elkeen. Innie oond in tot die kaas gesmelt is.

LW: synde dit ’n patat is kan jy basies jou verbeelding gebruik met die vulsel want ’n patat is mos maar ’n nederige soort van ding. Hy issie so windgat soos ’n artappel nie en nie so fensie soos ’n paar ander groentes nie. Ek het hom al gemaak met vinnig geroerbraaide bees of hoender en vir die varketers kan jy selfs repies spek ook inwerk.

Dis veronderstel om ’n tien minute dis te wees. Ek vind dit is ’n heelaand se werk want na die eerste patat word die borde uitgehou vir nog. Jy eet hom met ’n vurk en jou anner hand.

oester

- Klik hier om meer te lees oor die kompetisie.

  • 1

Kommentaar

  • Dit klink erg lekker, maar sowaar, in my "bachelor" kebuis is daar nie al daai groceries nie. Ek is erg oor patat, maar ek werk vinnig met hom. Skil af, sny in stukke so omtent so groot soos doerietyd se laerskool-uitveërs en kook dit, so net vir ’n bietjie om dit sag te kry. Daarvandaan is dit in die oond saam met watookal se beurt dit is, stukke dooie bees of skaap of hoender. Die knippe bruinsuiker is kwaai belangrik, seker maar om op te maak vir die "suiker trek" wat daar nie tyd voor is nie.

    En ja, daar sal nog van die dooie dier oorbly, maar nie van die patat nie.

    Mahlzeit

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top