Die tyd was Dinsdagoggend 30 April 2013, presies tienuur. Die plek was die Mozes-saal van die Koninklike Paleis in Amsterdam. Die rede was die ondertekening van die Akte van Abdikasie deur die 75-jarige koningin Beatrix. Daarvoor het die Nederlandse koningsgesin, die voltallige ryksministersraad van Nederland – van so ver as Aruba, Curaçao en St Maarten – en ander hooggeplaastes, soos die burgemeester van Amsterdam, aan tafel geskuif. Die musiek was teen wil en dank van baie Nederlanders die Wilhelmus. Buite het 25 000 mense op die Damplein saamgedrom. Dit was kouerig. Die lentesonnetjie het gesukkel om deur te breek. Op drie groot skerms kon almal sien hoe die akte onderteken word.
Koningin Beatrix het haar abdikasie met ’n handtekening bekragtig. Van daardie oomblik af was Willem-Alexander die eerste Nederlandse koning in meer as honderd jaar. Ná Willem III (1849–1890) was drie koninginne aan die mag. Koning Willem-Alexander het met net sy voornaam geteken. Hy weier om Willem IV genoem te word. Sy vanne is onder andere Van Oranje-Nassau, Van Amsberg en Van Buuren. Vir verdere ondertekening is die akte om die groot tafel gestuur. Die drie prinsessies binne het ewe grootoog as die publiek buite die prosedure gevolg. Binne vyftien minute was die prosedure verby.
Kort daarna was dit tyd vir die balkontoneel en het ’n bietjie emosie deurgesypel. Koningin Beatrix het bewoë geword toe Willem-Alexander haar bedank vir 33 jaar op die troon en haar twee maal op die wang soen; Máxima het haar skoonmoeder se hand vir ’n oomblik stewig vasgehou, en vir oulaas het die koningin in Beatrix nog reageer met: “Even wuiven misschien.” Willem-Alexander het vorentoe gebuig om die splinternuwe kroonprinses Amalia ’n soentjie teen haar slaap te gee. Die gesin het professioneel vir die volk bly waai. Toe die volkslied, die Wilhelmus, gespeel word, het hulle ook gesing. Die Nederlandse publiek onder die skare het egter nie saamgesing nie. Die Wilhelmus was al in 1813 ouderwets.
Alles rondom die troonswisseling het vlekkeloos volgens die draaiboek verloop. Net één wanklankie vooraf het vir opskudding gesorg: die Koningslied.
Die Nasionale Komitee Inhuldiging het John Ewbank gevra om ’n Koningslied te komponeer. Ewbank is die komponis van die volksanger Marco Bosato. Die Koningslied moes op die aand van die troonswisseling deur die hele Nederlandse volk gesing word, maar die oomblik waarop dit gepubliseer is, het kritiek losgebars. Die teks het veral deurgeloop as knoeiwerk met clichés, kreupel formulerings, anglisismes, stopwoorde en Disney-aksente.
Die taalkundige Marc van Oostendorp het die lied as populisties beskryf, omdat volk en leier saamval in ’n verwarrende wisselwerking van persoonsvorme met “jij” en “ik” en “wij”. Tog is dit ook ’n mankement in die Wilhelmus. Ron Rijgaardt (NRC Handelsblad, 20 April) skryf dat die openingswoorde, “Daar sta je dan” ’n gevoelswaarde het van “spot; meewaren met de hulpeloze. Alsof de koning verdwaald is op zijn feestje, want hij is het tegen wie we ‘je’ zeggen”. Die rap-gedeelte met die letter W het gesorg vir verdere verontwaardiging, byvoorbeeld in: “De W van Willem is de W van wij.”
Die liedteks is geskryf deur Guus Meeuwis, Alain Clark, Daphne Dekkers en Jack Poels. Tydens ’n televisie-onderhoud het iemand die aantal teksskrywers as ’n moontlike oorsaak vir die blaps genoem. Die vraag hoekom ’n befaamde kabaretster en sanger soos Freek de Jonge of digters soos Remco Campert of Toon Tellegen nie daarvoor gevra is nie, het in die lug bly hang. Binne ’n kort tyd is 39 000 handtekeninge met ’n petisie ingesamel téén die Koningslied. Op Facebook is ’n bladsy “Sorry voor het Koningslied” geopen. Die oorlogsverslaggewer Jan Eikelboom het getwitter: “Ik weet: er zijn natuurlijk ergere dingen op de wereld. Maar niet veel.”
Onder fel kritiek en selfs doodsdreigemente het Ewbank op 20 April sy Koningslied onttrek. Intussen het ’n klompie bekende Nederlanders, soos Trijntje Oosterhuis en Ali B, reeds die Koningslied ingestudeer om as voorsangers die publiek te inspireer in ’n program van Paul de Leeuw in Ahoy, Rotterdam. Alles rondom die Koningslied het gedreig om inmekaar te val. Die Nasionale Komitee Inhuldiging het op kort kennisgewing die invloedryke Joop van de Ende gevra om ’n lansie daarvoor te breek. Hy het op televisie aangekondig dat die uitvoering van die Koningslied ondanks alles sal deurgaan, omdat dit tyd vir ’n nuwe lied is. Dat dit ’n “goeie” lied is, kon hy nie oor sy lippe kry nie. Dis eintlik snaaks dat die Koningslied in Ahoy weerklink het.
Op die oomblik toe Ewbank egter sy Koningslied tien dae voor die nuwe koning se inhuldiging onttrek het, het mense massaal ander liedjies ingestuur. Die grapjas André van Duin se maklike refrein:
Oranje boven
Oranje boven
Leven de koningin
het ’n nuwe draai gekry. Die grotere publiek het dit baie vinnig opgepik. Van Duin het sy ou liedjie met die nuwe aanpassing herhaal tydens ’n uitvoering saam met André Rieu en sy orkes:
Oranje boven
Oranje boven
Leven de koning (en Máxima)!
Jan Kok het saam met Hakim Traïda (van Sesamestraat) ’n nuwe animasiefilmpie op YouTube gelaai by ’n lied van die digter Willem Wilmink en die komponis Harry Bannink, gesing deur Frank Groothof: “Ik maak voor jou een andere kroon”(1992).
Twee studente uit Utrecht, Allard en Huib, het die baie simpatieke lied “Je bent een koning”geskryf. Dis al meer as ’n driekwartmiljoen keer op YouTube bekyk, maar blykbaar was hulle met ’n plasing op 18 April bietjie indirek vir die leidinggewende komitee of reeds te laat vir die inhuldiging op 30 April.
Herman van Veen het die lied “Later als ik groot ben” geskryf. Dit is gebaseer op ’n aria uit die Mattheus Passie van Bach. Van Veen se lied is tydens die inhuldiging in De Nieuwe Kerk uitgevoer deur die Nieuw Amsterdams Kinderkoor. Die inhuldiging het om presies drie-uur op Dinsdagmiddag begin. Almal wat dit bygewoon het, moes eers om veiligheidsredes met metaalverklikkers geskandeer word. Terwyl die koningspaar na die koor geluister het, het ’n klein detail van koning Willem-Alexander se kostuum opgeval. Tussen al die medaljes op sy bors het ’n medalje gehang wat Willem-Alexander van Buuren met die voltooiing van die Elf Stede-tog gewen het. Dis ’n nasionale skaatsgeleentheid waaraan almal kan deelneem sodra die ys in die winter dik genoeg is. Koning Willem-Alexander beskou hierdie klein medalje dus as ’n gelykwaardige eretoekenning tussen al sy ander.
Dit is die tweede keer in die geskiedenis dat ’n Koningslied nie deur die volk goedgekeur word nie. Admiraal Van Kinsbergen het in 1817 ’n kompetisie uitgeskryf vir ’n lied om die Wilhelmus te vervang. Dit was toe Willem I op die strand van Scheveningen aan land gestap het na ’n paar jaar in ballingskap in Engeland. Die titel, en ook die res van “Wien Neêrlandsch bloed in d’aders vloeit”,was destyds te deftig en onverteerbaar vir die volk. Met koning Willem-Alexander se inhuldiging is die aanklag teen die Koningslied eerder platvloersheid.
Tydens de Koningsvaart later die middag het die Koninklijk Concertgebouw Orkest Bolero van Ravel op die Kop van Java-eiland uitgevoer. DJ Armin van Buuren het saam met hulle gespeel. Dit was ’n mengsel van klassiek en sampling. Met die volgende nommer het Van Buuren die voortou geneem. Onverwags het die boot vasgemeer en het koning Willem-Alexander, Máxima en die drie prinsessies aan wal gestap om Van Buuren, die konsertmeester en die dirigent, ’n waarderende handdruk te gaan gee. Beide koning Willem-Alexander en Máxima is duidelik groot aanhangers van Van Buuren. Hiermee is ’n spontane verandering in ’n fyn uitgewerkte draaiboek vir die dag se program aangebring. Dis besonders. Dit weerspieël ’n moderne (en miskien eiesinniger as wat de meeste mense wil toegee) koning. Die beveiliging sal vanaf volgende jaar voorsiening daarvoor moet maak.
Koningsdag val in die toekoms op 27 April. Dis die verjaarsdag van koning Willem-Alexander.
Lees die teks van die Koningslied hier en beoordeel self.
Luister na “Oranje boven”van André van Duin, Willem Wilmink se “Ik maak voor jou een andere kroon”uit 1992 en die studente Allard en Huib se “Je bent een koning”:
Luister uit De Nieuwe Kerk Herman van Veen se “Later als ik groot ben”:
.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Vanwaar die afkeuring van die Wilhelmus in hierdie stuk? Dit is rerig een van die mooiste volksliede in die wêreld. En ek sê dit as 'n Nederlandse burger. Verder sê u: "Die Wilhelmus was al in 1813 ouderwets", terwyl die lied eers in 1932 volkslied geword het, om die rassistiese "Wien Neêrlands Bloed" te vervang... As u ooit in 'n sokkerstadion tydens 'n wedstryd van Oranje was, weet u die huidige lied is ongekend populêr. Nes die nuwe Koning en Koningin. Groete van 'n kaaskop.
Beste Kaaskop,
Ek het dit nie bedoel om neerbuigend om te gaan met die Wilhelmus nie. Na die val van Napoleon het die behoefte aan 'n nuwe lied ontstaan, waarskynlik vanweë die verwysings na Duitse bloed en getrouheid aan die Spaanse koning daarin. Die super nasionalistiese Wien Neêrlands Bloed het die kompetisie gewen. Dis 'n tyd lank as volkslied gesing. Of dit "rasisties" was, is nog maar die vraag. Die onverteerbaarheid daarvan het gelê op die vlak van die eksklusiewe, nasionalistiese gevoelens wat dit verwoord het. Soos u tereg sê, het die Wilhelmus eers in 1932 amptelik die status van volkslied gekry. Dis lank nié-amptelik as volkslied gesing. Miskien bly die herhaalde keuse VIR die Wilhelmus die beste teken van Nederlandse inklusiwiteit.
Carina