Al om die twee jaar kom literatuurfoendi's bymekaar om idees uit te ruil en bande te smee by die tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV). Vanjaar is die kongres aangebied deur die Universiteit van Pretoria se Afrikaansdepartement, van 29 September tot 2 Oktober. Neil van Heerden deel sy indrukke en foto's.
Die bestuur van die ALV (en ander raadgewers, soos Willie Burger) wat met die kongrestema vorendag gekom het, verdien eerstens 'n pluimpie. “Raakvlakke: ouer en nuwe verbintenisse in die Afrikaanse literatuur” is 'n tema wat prikkelend en ruim genoeg was om 'n wye verskeidenheid referaatvoorstelle te akkommodeer. Die sowat 58 sprekers wat opgetree het, is ingedeel in "raakvlaksessies" waarvan die titels telkens met 'n skuinsstreep (/) geformuleer is. Sessies met vindingryke opskrifte soos "vertaling/vertelling", "teks/interteks" en "(outo)biografie/geskiedenis" het dikwels op onverwagse maniere tot vars gesprekke aanleiding gegee. Dank aan Martina Vitackova, wat met die (soms netelige) indelings gestoei het.
'n Dag lange werkwinkel vir nagraadse letterkundestudente is vir die eerste keer aangebied en het Maandag 29 September die hoofkongres voorafgegaan. Studente kon hier hul navorsing voorlê, hul referate vir die hoofkongres inoefen en waardevolle terugvoer of wenke daarop kry. Twee paneelbesprekings het ook deel uitgemaak van die werkwinkel: een het gefokus op akademiese publikasies en is gevoer met die redakteurs van verskeie akademiese vaktydskrifte; die ander het gehandel oor kreatiewe skryfkursusse as 'n belangrike bron van skeppende werk in Afrikaans. Min het Andries Visagie, voorsitter van die ALV, waarskynlik besef hoeveel belangstelling daar sou wees toe hy oorspronklik die idee van 'n nagraadse simposium geopper het, en uiteindelik was een dag te kort om alles in te pas.
Daardie middag is belangstellendes op 'n begeleide toer van die Universiteit van Pretoria se Hatfieldkampus geneem: 'n reis deur die raakvlakke tussen style en strominge in die argitektuur van die afgelope eeu. Die dag is afgesluit in die Lierteater (ook op die Hatfieldkampus) met 'n musiekuitvoering getiteld Skemerpad deur Franco Prinsloo, 'n opwindende plaaslike komponis wat onder meer toonsettings van Afrikaanse gedigte doen. Uiteraard is die skemeraandserenade vergesel van skemerkelkies en ‘n vingerete.
Dinsdag was dag een van die hoofkongres en is geopen met 'n verwelkomingswoord van Andries Visagie en 'n vermaaklike plenêre sessie waartydens Loftus Marais van sy poësie voorgelees het. Op elk van die drie kongresdae het 'n Afrikaanse skrywer opgetree: Woensdag (dag twee) was dit Andries Bezuidenhout met 'n voorlesing van sy gedigte, en Donderdag (dag drie) het Marlize Hobbs-Russell gesels oor haar skryfwerk en die introspeksie wat sy daaroor gedoen het. Woensdag kon kongresgangers ook kyk na ‘n uitstalling van Franci Greyling se kunstenaarsboek, en luister na haar referaat oor “Mooirivier: Weerspieëling en Weerklank”.
Dit was opvallend hoeveel referate gelewer is oor poësie, en ‘n mens sou kon sê ALV 2014 was die jaar van die digkuns. Maar dan waag ek dalk die toorn van die prosaspesialiste. Marlene van Niekerk se onlangsbekroonde bundel, Kaar, het veral onder die loep gekom (wat dalk nie heeltemal verrassend is nie), terwyl verskeie ander – soos Antjie Krog, TT Cloete en Breytenbach Breytenbach – ook aan bod gekom het. Iemand het skertsend opgemerk dat as daar ‘n bom sou afgaan in een van die twee lokale by die kongres, Afrikaanse digters iets soos die helfte van hul leserskap sou kwyt wees ...
Nietemin wil ek my verstout om te sê: te oordeel na die wye verskeidenheid onderwerpe (véél wyer as net een genre), die groot klomp deelnemers en goeie bywoning, is die energie en belangstelling in die Afrikaanse letterkunde nog lank nie uitgeput nie.
Weens die beknopte program het sessies gelyklopend plaasgevind in twee naasliggende lokale, met die gevolg dat ‘n mens onmoontlik na elke spreker kon luister (al wou jy ook hóé graag). Van die interessante praatjies wat ek wel kon beluister, was: Joan Hambidge se referaat oor ‘n “weggooigedig” van WH Auden (oor ‘n blowjob) wat deur Johann de Lange herwin en vertaal is; Thys Human se verstaan van die broer-suster-verhouding in Valsrivier; Ihette Jacobs oor liriese poësie en outobiografie met verwysing na Krog; Ted Laros se uiteensetting van die argumente by die 1974-sensuurverhoor teen Kennis van die Aand; en nog vele ander.
‘n Hele aantal buitelanders uit Pole, die VSA, Nederland, België en Tsjeggië het ‘n besliste internasionale kleur aan die kongres – en stellig die Afrikaanse letterkunde in sy geheel – verleen. Sake het egter op ‘n meer plaaslike noot afgesluit in die laaste sessie oor “Suidelike Moderniteite/Suidelike Modernisme”. Andries Visagie het die tafel gedek met sy oorsig van modernisme in Afrikaans en het ook die geleentheid gebruik om ‘n fakulteitswye navorsingsprojek bekend te stel. Willie Burger het die veelbesproke Sewe dae by die Silbersteins van Leroux herbesoek as ‘n moderne roman in ‘n moderne wêreld en Louise Viljoen het geboei met ‘n lesing oor uitwissing in Breytenbach se laatwerk.
Die bekendstelling van die Fakulteit Geesteswetenskappe (UP) se navorsingsprojek oor Suidelike Moderniteite was nie om dowe neute nie. Behalwe dat kollegas van oraloor genooi is om deel te neem, het die Andrew W Mellon Foundation (wat die projek befonds) ook gehelp om die kongres se onkoste te dek. Die Dagbreektrust verdien eweneens ‘n woord van dank: sonder ‘n ruim skenking van die trust is dit onseker of die nagraadse werkwinkel enigsins sou gerealiseer het.
Woensdagmiddag het die gebruiklike ledevergadering plaasgevind, waar een en ander bedryfsaak bespreek is. Gewoonlik (so klink dit my) kan gemoedere nogal opvlam by hierdie soort byeenkoms, maar danksy bekwame voorsitterskap het alles sonder wrywing verloop. Die meeste afgevaardigdes was (so vermoed ek) buitendien angstig om by die spoggerige kongresdinee te kom, na afloop van die formaliteite. Daar kon hulle ‘n uithalerspyskaart – deur finalejaarstudente van die voedselwetenskappedepartement opgetower – met goeie wyn en literêre geselskap geniet. By die dinee is enkele bedankings gedoen en ‘n eretoekenning aan Heilna du Plooy gemaak vir haar lewenslange bydrae tot die ALV, wat deur haar dogter, Janet Gildenhuys, in ontvangs geneem is.
Ten slotte dink ek is die kongres van die ALV 'n klinkende bewys van die vitaliteit van die Afrikaanse literatuur. Dit is in onstuimige tye soos hierdie, waarin Afrikaans as bedreiging beskou word op sommige van ons kampusse, wanneer ISIS en ebola grootskaalse paniek saai, en die Suid-Afrikaanse politieke klimaat al meer absurd blyk te wees, dat ek besef: 'n boekwurm het eintlik net twee dinge nodig, en dit is 'n goeie boek om te verslind en iemand wat kan saam gesels daaroor.