Komplekse verhoudinge en wrang ironie in Tim Keegan se My Life With The Duvals

  • 0

Titel: My Life With The Duvals
Skrywer: Tim Keegan
Uitgewer: Umuzi
Formaat: Sagteband
ISBN: 9781415200476
Publikasiedatum: Maart 2008
Aantal bladsye: 320

Click here to purchase My Life with the Duvals from kalahari.net now!

 

Wrang ironie deurtrek Tim Keegan se derde roman, My life with the Duvals, uitgegee deur Umuzi. Dié voormalige geskiedenisprofessor se jongste roman, wat volg op Waiting for the Moon (2005) en Tromp’s Last Stand (2007), ondersoek die komplekse verhoudinge wat binne ‘n familie bestaan, asook die mens se verbluffende vermoë om jou ware gevoelens vir ander, en vir jouself, weg te steek. Dat daar geheime is om te onthul, word van die begin af baie duidelik gemaak.

Life of the Duvals begin met ‘n begrafnis, of eerder ‘n lykwaak, en met Edward aan die woord word terugskouend besin oor die gebeure wat tot die dood van sy vrou en haar swaer gelei het. Edward, ‘n Kapenaar wat maar bra dooierig voorkom, se lewe kry vir die eerste keer betekenis wanneer hy die Britse tweelingsusters Gladys en Milla ontmoet. Kort na sy troue met Gladys in Engeland vertrek hulle drie na Kaapstad. Die susters is onafskeidbaar en die arme Edward, wat heimlik hoop dat hy meer interessant sal word as hul “chitchat” op hom sou afsmeer, aanvaar hul eienaardighede sonder protes.

Wanneer Rex Duval, die susters se universiteitsvriend van Oxford, ‘n lektoraat by die Universiteit van Kaapstad aanvaar en met Milla trou, word Edward se lewe onherroeplik verander. Vir Edward, wat danksy “Granny” se erfporsie nie hoef te werk nie en dus nie eintlik iets het om homself mee besig te hou nie, is die uitgesproke Rex iemand wat hy openlik bewonder.

Terwyl die verhaal aanvanklik langdradig voorkom, tel dit stoom op soos die familie-intriges verdiep. ‘n Besonderse vriendskap ontstaan tussen die twee mans, hoewel hul as uiterstes beskou kan word. Waar Rex luidrugtig en eiewys is, kom Edward ingetoë en vervelig voor. Hy lewe ‘n versigtige lewe, teenoor Rex wat praat en optree sonder om oor die gevolge daarvan na te dink. In skerp kontras met die passiewe Edward is Rex die larger-than-life akademikus wat sy hele lewe rig om die skryf van ‘n biografie oor Finch Magnus Finch, of Heder, soos hy verkies om hom te noem. Rex se voornemende biografie oor die eertydse skrywer beloop omtrent ‘n halfmiljoen woorde en neem sy hele lewe oor – asook dié van sy familie. Tot Milla se ergernis, is Rex ook nie een wat hom veel steur aan die huweliksbande nie.

Ook die Duvals se drie dogters - Annie, Barbs en Liz - dra by tot die ontstaan van verwikkelde verhoudings binne die intieme familiekring. Terwyl Edward meestal salig onbewus is van al die familie-sages – ten spyte van die feit dat hy as “Granny” se enigste erfgenaam ‘n belangrike rol in die finansiering van die Duvals se leefstyl speel - neem die leser deeglik kennis van die verskeie onderstrominge.

Die oningeligte Edward met sy onverstoorbare aard is grootliks verantwoordelik vir die roman se onderbeklemtoonde humor. Hoewel Edward se onkunde soms te dik vir ‘n daalder is – hy dink byvoorbeeld dat Emily Dickinson ‘n man is – illustreer hy hoedat die meeste mense gewoon verkies om slapende honde te laat lê en die pynlike waarheid na die onbewuste te verban. 

Op subtiele wyse dryf Keegan voortdurend die spot met die akademiese wêreld en sy pretensies, kleinlike wedyweringe en jaloesie. As toenmalige dosent by die Universiteite van die Witwatersrand en Wes-Kaap, lewer Keegan skerp kwinkslae op hierdie gebied. Moedeloos oor die voortdurende eise wat aan akademici gestel word om universiteite winsgewend te bedryf, verklaar Rex op ‘n stadium rasend: “We now have to be useful, would you believe it? Useful!” (bl 224).

Hoewel Edward sy bes doen om hom nie aan die politiek te steur nie – selfs PW Botha se uittrede as president van die land gaan hom aanvanklik verby – kan hy nie los daarvan staan nie. Ten spyte van sy beste pogings om sy kop laag te hou en te “live and let live”, speel hy onwillekeurig ‘n klein rolletjie in die “struggle” – wat op spitsvondige wyse die spot dryf met mense wat graag op hul “struggle credentials” roem.

Dit is dan ook te verwagte dat iemand wat so uitgesproke en hardkoppig soos Rex is (“It’s amazing how standards drop when it comes to appeasing political pressure groups these days!”), hom uiteindelik sal vasloop teen die vaandeldraers van die nuwe politieke bedeling. Almal behalwe Rex besef dat “old-style liberals” soos hy as “living fossils” in die nuwe bedeling beskou word en dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor hy hom daarteen vasloop.

Ook Milla se obsessionele verbintenis met die Katolieke geloof, wat sy sien as ‘n proses van straf en selfkastyding, loop deur onder Keegan se skerp tong. Die voortdurende aanwesigheid van vader O’Rourke, wat veel meer in sy sopie whisky en komkommer-toebroodjies as in familie-konflik belangstel, boesem ook nou nie juis vertroue in die Katolieke geloof in nie. Maar net so word die strewe na akademiese erkenning en roem ontluister as ‘n sinlose bedryf en ‘n gejaag na wind. So ook Barbs, die middeldogter, se soeke na geld en sosiale status, of die vergryp aan drank of dwelms. Liz, die Duvals se jongste dogter, is die enigste een wat die moed het om die waarheid reguit in die oë te kyk en so ‘n mate van geluk te vind.

Seks en seksualiteit kom ook gereeld ter sprake. Dit is uit die staanspoor duidelik dat Edward geensins in seks geïnteresseerd is nie – al kom dit vir die leser vreemd voor dat hy dit nooit bevraagteken nie. Hoewel hy dit klaarblyklik nie self besef nie, is dit vir die leser baie duidelik dat Edward gay is. Tog is dit interessant dat hy en Gladys eintlik ‘n gelukkige huwelik het as maats en vertrouelinge.

Die voortdurende gekibbel en stryery tussen die familie raak soms een te veel, maar The Breakers, die vakansiehuis op Hermanus, bied ‘n welkome respyt. Hierdie kuiers by die see word begeesterd beskryf en laat ‘n mens sommer al klaar terugverlang na die somervakansie.

Hoewel die leidrade in My life with the Duvals aanvanklik te ooglopend voorkom, is daar darem ‘n kinkel in die storielyn. Die verrassingselement word ook versterk deur die verhaal se sikliese struktuur en die onkant-betrapte leser besef dan net weer eens dat ‘n mens nooit ander te gou moet oordeel nie.

Keegan se satiriese roman handel grootliks oor ontnugtering en teleurstelling – hetsy in jou eie vermoëns, in die vrugte van jou jarelange arbeid, of in die mense wat jy as jou geesgenote beskou het. My life with the Duvals bied egter genoeg ligte oomblikke en humor om ‘n mens aan die lees te hou. As die wispelturige Kaapse weer dit toelaat, is My life with the Duvals ‘n boek wat jy sommer in jou strandsak kan pak en lui-lui op die strand kan baasraak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top