Kommentare van openbare figure

  • 0

Ek het al baie kere in my lewe sosiale flaters begaan. Ek het ook al uitsprake gemaak waaroor ek later bitter spyt was. Ek het egter met die tyd saam geleer daar is tye wanneer jy jou mond moet hou en wanneer jy maar kan praat.

Wat vir my deesdae opvallend is, is dat prominente/bekende mense uitsprake maak wat grens aan die absurde. Volgens my moet 'n persoon wat in die publieke oog is, mooi dink voordat hy of sy iets kwytraak. Ek kan verstaan wanneer iemand ontsteld is of te na gekom is. Ek praat nie eers van politici nie. Ons politici het die gawe om gereeld banale uitsprake te maak en daarna te seg, Ek is verkeerd aangehaal.

Ek lees vanoggend se Beeld en sien die berig van Christo Buchner oor wat die Haaie-kaptein Kegan Daniel sou kwytgeraak het. Die mannetjie sou seg, dat daar te veel Afrikaners in die span is. Ek het onmiddellik rooi gesien en die Haaie se kantoor geskakel. Ek is na 'n dame toe deurgeskakel wat natuurlik die berig ten sterkste ontken. Haar verweer is dat Daniel dit nie sou gesê het nie en dat die Beeld-verslaggewer nooit met hom sou gepraat het nie.

Ek is 'n ondersteuner van die Haaie en voorheen Natalse rugbyspan. Wat vir my opvallend is, is dat die dame as "public relations officer" my nie eers in my eie taal kon aanspreek nie. Ek het my beste Brits uitgehaal en haar in geen onduidelike terme laat verstaan dat ek as Afrikaner 'n verskoning van mnr Daniel verwag en erg aanstoot geneem het oor die uitlatings.
Soos ek gewoonlik seg, 'n saak het drie kante. My kant, jou kant en die waarheid. Die mense dink ons is onnosel. Die politici dink ons is onnosel. Soos ek gewoonlik aanhaal. " I was born at night, I was not born last night". Ek lyk miskien asof ek onnosel kan wees, maar asseblief, moet net nie dat ek dit agterkom nie.

Ek bevraagteken ook deesdae joernalistieke standaarde. Die kwaliteit van joernalistiek is nie meer op standaard nie. Die sensasionele beriggewing en verdagmakery tussen bevolkingsgroepe is aan die orde van die dag.

Om vryheid van spraak onder 'n demokratiese bestel te hê kos harde werk. Ons is in die land na twintig jaar nog nie in die posisie om te kan roem dat ons volwasse genoeg is om 'n volwaardige demokrasie te hanteer nie. Daar is nog baie heuwels om oor te klim.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top