Ek het gehoop dat dit 'n goeie doel kon dien om sommige idees van 'n lewende filosoof soos Roger Scruton bekend te stel (SêNet 9 tot 11 deser). Hy ervaar dieselfde geestesstrominge as ons, al verskil die Britse konteks van ons s'n. Ek het my tot dusver van kommentaar op Scruton se idees weerhou, maar dalk kan dit tog nuttig wees om krities te besin oor wat hy sê en dit te verplaaslik. Sonder verwysings gaan ek vervolgens sistematies deur my genoemde drie skrywes. In hierdie skrywe kom ek egter nie verder nie as besinning oor net sommige van die sake wat op 9 deser aangeroer is. My kommentaar op Scruton word veel eerder kommentaar na aanleiding van Scruton.
"Honour the community by honouring those who had built it over centuries." Dit sny diep. Daar kan geen twyfel wees oor watter etniese groep by uitstek geloof behoort te word vir wat sedert 1652 plaaslik tot stand gebring is nie. Gestel die ontwikkeldste land op die agterlikste kontinent was in Noord-Afrika. Dit sou dan met verwysing na die nabyheid van Europese en Midde-Oosterse beskawings maklik verklaar kon word. Dat die ontwikkeldste en eens beskaafdste land in Afrika juis op die verste punt van Europa en die Midde-Ooste ontstaan het, is 'n byna ongelooflike prestasie. Daarvoor behoort daardie etniese groep sonder ophou geloof te word. Hulle behoort op die hande gedra te word deur almal wat by hierdie konstruktiewe werk baat gevind het. Hulle teenwoordigheid behoort vertroetel te word. Dit sou nie onvanpas wees om spesiale voorregte aan hulle toe te ken nie. Daar behoort bv gepoog te word om soveel moontlik van hulle hierheen te lok sodat die land eerder verder opgebou as afgebreek word.
Maar wat ervaar ons daagliks? Dat met oorgawe soveel moontlik teen hierdie mense gediskrimineer word. Dat juis hulle vir verguising uitgesonder word. Dat Desmond Tutu wil hê dat hulle ekstra belasting moet betaal. Dat van hulle verwag word om sonder ophou verskoning te vra vir wat hulle gedoen het, want dit word uitsluitlik oor die boeg gegooi van wat hulle na bewering ander groepe aangedoen het; al die opsigtelike ontwikkelingswerk word opsetlik geïgnoreer. Dat dit verwelkom word as hulle die land verlaat. Dat hulle as immigrante onwelkom is. Dat hulle nie die positiewe in die verlede mag ophaal as voorbeeld vir die hede nie. Dat hulle dag van aankoms, 6 April, nie meer gevier word nie. Dat ons eintlike geskiedenis met die "bevrydingsbewegings" begin. Dat wat voor 1994 gebeur het, dus daardie era toe die land opgebou en ontwikkel is, tot slawerny, kolonialisme en apartheid gereduseer en as verwerplik voorgestel word. Dat daardie bouers se vlag nie in die openbaar vertoon mag word nie. Dat hulle taal van owerheidsweë aktief benadeel word, ens.
"Our culture contains the seeds of its own renewal." Hierdie optimisme inspireer Scruton om te hoop op 'n beter Engeland. By ons het die wensdenkery oor 'n Afrika-Renaissance egter stil geword. Daar is skynbaar geen vooruitsig vir 'n terugkeer na 'n geordende, funksionerende, suksesvolle, beskaafde samelewing nie. In suksesvolle Oosterse lande word die Westerse model sonder wroeging en sonder die prysgawe van eie kultuur nagestreef. Teen hierdie stroom in word die Westerse model plaaslik minagtend as boos verwerp en met afrikanisering, wat dikwels 'n bewese resep vir mislukking is, vervang.
Daar is "real distinctions between people." Dit is 'n feit dat mense indiwidueel verskil. Dit is net so onbetwisbaar dat mense groepsgewys bv kultureel verskil. Dit is idealisties en eintlik dwaas om sodanige verskille te ontken, almal gelyk en selfs eenders te verklaar en dan voort te gaan asof almal inderdaad gelyk en eenders is, behalwe wanneer klaarblyklike ongelykheid as 'n verwyt teen wittes geslinger kan word. Die wêreld is nog altyd gekenmerk deur ongelykheid by sy inwoners en dat sommige groepe beter as ander vaar. Die voortreflikheid van 'n groep geld nie noodwendig vir altyd nie. Die klassieke Grieke en die seevarende Portugese word deesdae met kafee-eienaars geassosieer. Die toon wat die Amerikaners eens aangegee het, word al hoe meer deur die Chinese vervang. Agterosse kan na tydsverloop voorosse word. Maar op enige gegewe tydstip is daar voor- en agterosse. Die beste opsie is om die werklikheid hiervan te erken en omstandighede te skep waarin die voorosse se talente en kundigheid in landsbelang ten beste aangewend word.
In die ou Suid-Afrika was daar spesiale klasse in die skole vir intellektueel minder begaafde leerlinge. In die nuwe Suid-Afrika, met sy onophoudelike retoriek oor gestremdes, word daar feitlik net aan fisieke gestremdheid erkenning gegee. Geestelike gestremdheid by indiwidue en veral by groepe word heftig ontken. Die vrees is klaarblyklik dat as daar spesiale klasse vir leergestremdes in skole bestaan, sommige groepe oor- en ander onderverteenwoordig kon wees, terwyl die eendersheidsleer beweer dat die demografie oral weerspieël moet word. Almal word dus liewer in dieselfde klasse oor dieselfde kam geskeer.
Aan die ander punt van die spektrum word nog groter skade aangerig. Leiers op verskillende terreine, ook (dalk veral) in die politiek, is wat 'n land kan maak of breek. Daar behoort spesiale skoolklasse vir begraafde leerlinge te wees, dus vir diegene wat oor die potensiaal beskik om leiers te word. Die ideologiese beletsel is dat sommige groepe daar oor- en ander onderverteenwoordig kon wees. Dieselfde pre-okkupasie verhoed dat leerlinge tot voortreflikheid aangemoedig word deur hulle elke kwartaal hiërargies en openlik volgens akademiese prestasie te rangskik.
Sedert die veelgeloofde jaar 1994 het die nuwe bewindhebbers aanvanklik die toppresteerders in die matriekeksamen in elke provinsies bekend gemaak. Toe hulle sien watter patroon dit aanneem en in hoe 'n mate die eendersheidsleer teengespreek word, is dit afgeskaal, of afgeskaf, of vervang met die huldiging van leerlinge wat nie akademies die beste presteer het nie, maar glo die beste daarin geslaag het om ongunstige omstandighede te bowe te kom. Hierdie soort ding word deesdae tot op universiteitsvlak voortgesit, bv by studentetoelating en studiebeurse. Die studietydperk vir kwalifikasies word verkort of verleng ooreenkomstig die behoeftes van onderpresteerders. Dit bring noodwendig die verlaging van akademiese standaarde mee.
Ten slotte. Daardie opmerking van Yunus, dat hy die wit liberale aan Wits haat en eerder die Boere se eerlike(r) benadering verkies, is nie uniek nie. Dit stem presies ooreen met Adam Small se ervaring toe hy enkele jare lank 'n Wits-personeellid was. Hy het met hoop in sy hart daarheen gegaan, maar is spoedig ontnugter. Wat ek hier skryf, is nie op hoorsê gebaseer nie. Hy het dit self aan my vertel.
Volgende keer skryf ek na aanleiding van my Scruton-skrywe wat op 10 deser op SêNet gepubliseer is.
Johannes Comestor

