Beste Jan Rap,
Ek verwys na jou brief van 07/03.
Op ’n vorige geleentheid het jy my van glibberigheid beskuldig. Kan ek jou nou daarvan beskuldig dat jy hardkoppig is? Miskien lees jy nie wat ek skryf nie, of dalk stel ek dinge so onduidelik dat jy nie verstaan nie.
Op ’n vorige keer het jy beweer dat ek ’n voorstander is daarvan dat Engelse woorde “lukraak” gebruik word in Afrikaans. Ek het mooi aan jou verduidelik dat so iets onmoontlik is. Afrikaans en enige ander taal sal nie ’n woord lukraak gebruik nie, want dan is dit betekenisloos, en buite konteks. Sou ek sê dat iemand in ’n band speel, dan is die woord “band” nie lukraak gebruik nie. Dis ’n woord wat noukeurig gekies is, ’n woord met ’n besondere betekenis. As ’n Engelse, of Duitse, of Franse woord in Afrikaans gebruik word, is dit nie ’n lukrake proses nie; die woord wat gebruik word, het ’n besondere betekenis. Laat my asseblief weet as jy dit nie verstaan nie, dan maak ons ’n ander plan. Miskien sal dit help as ons die woord “random” ipv lukraak gebruik. Met die lotto word die getalle random gekies.
Die sogenaamde “krakies” in die taal waarvan jy praat, is juis taalvormend. Kyk na al die veelvuldige “krakies” wat uiteindelik gelei het tot die ontstaan van Afrikaans. Indien jy dit verlang, sal ek ’n aantal bronne aan jou verskaf sodat jy dit kan bestudeer.
Afrikaans kan nie verengels nie. Zulu kan nie verengels of verafrikaans nie, ten spyte van die Engelse en Afrikaanse invloed. Duits kan nie verspaans nie en Russies kan nie verjapannees nie. Wat wel kan gebeur is dat uit Afrikaans ’n nuwe dialek kan ontstaan agv die invloed van Engels, en uiteindelik ’n nuwe taal, (Engfrikaans, of Afriels, of Gatlekiaans, of wat ook al.) Dis net mense, Afrikaners wat kan verengels. Dit beteken dat hulle nie meer Afrikaans praat nie, maar Engels. Hier in Natal is baie van hulle. Die teenoorgestelde is ook waar. Die Afrikanernasie (mense wat Afrikaans praat) het ook voorouers wat uit die Britse eilande afkomstig is. Dink maar aan die volgende vanne: MacDonald, Page, MacFarlane, Williams, Murray, Kestell, om maar net ’n paar te noem. My oom Andy, wat in die Vrystaat boer, praat Engels maar op die boeremanier en net as dit moet. Hierdie mense het verafrikaans.
Miskien verstaan jy die woord “verengels” nie so goed nie. Veronderstel alle mense praat ’n mengsel van Afrikaans en Engels, dan beteken dit nie dat Afrikaans verengels het nie. Daardie deurmekaartaal is beslis nie Engels nie. Engels bly nog Engels, soos dit in Engeland gepraat word.
Ek sê weer: Afrikaans kan nie verengels nie. Die ergste wat kan gebeur is dat Afrikaans nie meer gepraat word nie, en dan moet dit noodwendig deur ’n ander taal vervang word, want die mens moet kan kommunikeer. Engels is dan die aangewese taal om dit te vervang; nog ‘n kandidaat is dan Gatlekiaans of dalk Afriels.
Natuurlik sal ’n taal ook in isolasie groei want mense in isolasie kom ook in aanraking met nuwe dinge waaroor hulle wil praat. Ek het dikwels al daarvan melding gemaak dat taal homself genereer. As jy dit nie verstaan nie, stel ek voor dat jy begin by Chomsky se taalteorie.
Natuurlik is taal meer as net kommunikasiemiddel, daardeur word die mens ook geïdentifiseer. Taal tree op soos enige ander lewende organisme, en wend verskeie middele aan om sy gene voort te plant. Een daarvan is die taaltrots by die mens. Om dit te verstaan, begin by Darwin en werk deur na Dawkins, veral sy The Selfish Gene.
Groete,
Angus

