Kommentaar op Chinchilla-resensie ...

  • 0

Ek glo in die mag van resensies – 'n goeie resensie neem my reguit boekwinkel toe. Johan Anker se resensie oor Nanette van Rooyen se debuutroman Chinchilla was egter vir my teleurstellend.

Resensies moet 'n nuwe boek aan 'n breë spektrum potensiële lesers bekendstel. Ek het reeds met Johan se openingsparagraaf belangstelling verloor – die aanhaling wat hy gebruik om die woord 'trauma' te definieer is veels te lank, in Engels, en beslis nie doeltreffend om my as leser se aandag te behou nie.

Ek het juis die resensie gekies omdat 'Chinchilla' soos 'n eksotiese skemerkelkie klink. Johan Anker gee egter nie in sy resensie 'n definisie van die woord nie. Die HAT moes my inlig dat 'n chinchilla 'n "klein Amerikaanse knaagdiertjie met 'n sagte silwergrys pels is". Eers toe kon ek verstaan hoekom daar 'n muisagtige diertjie op die boek se voorblad pryk. Die chinchilla word 'n simbool wat deurgaans in Nanette se roman voorkom en gebeure en mense met mekaar verbind – ek dink Johan moes iets oor die diertjie gesê het.

Hy slaag wel daarin om 'n duidelike uiteensetting van die verwikkelinge van die verhaal te gee en gebruik op treffende wyse 'n paar aanhalings uit die roman. Ek vra myself egter af of hy nie miskien te veel van die geheime in die boek aan die leser verklap nie. 'n Resensie is daar om die leser se belangstelling te prikkel. Dit is soos om 'n voorprent te sien wanneer mens bioskoop toe gaan – die aksie, flitse en opwinding moet in 'n paar sekondes jou oortuig dat jy dié fliek vir geen geld in die wêreld sal mis nie.

Johan blyk wel goeie literatuurkennis te hê deurdat hy die karakter Zacharias aan 'n karakter van Elise Muller van die vyftigerjare verbind. Ek stel egter voor dat hy sy resensies kort en kragtig hou, miskien 'n bietjie humor gebruik en eerder 'n prikkelende opsomming van die roman in stede van die hele storielyn in sy resensie gee.

Marlies Haupt

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top