Hallo Angus
Jy's verkeerd dat nie ek of jy iets aan die agteruitgang van Afrikaans kan doen nie want ons kan wel. Laat weet byvoorbeeld vir Magdaleen Kruger en Karen Meiring van die jammerlike Afrikaans op hulle stasies. As jy in 'n vergadering sit en die spreker praat verkeerd skree jy "stront!" en help hom reg (nou goed miskien nie so drasties nie maar help tóg maar).
Dis soos met aardverwarming: In plaas van skouers optrek het die motorbedryf byvoorbeeld met, onder andere, hierdie vieslike karre uitgekom wat nou minder koolmonoksied sou spu en al sulke goed maar hulle dóén iets; weliswaar deur wetgewing bepaal maar hulle voldoen tog aan die eise. Daar is nog baie voorbeelde van dinge wat handuit ruk (handuitruk?) en eerder as om terug te sit en te sê dat dit maar die beloop van die lewe is doen mense iets daaraan. Dink maar aan dieremishandeling in agtergeblewe gebiede, die verwoesting van die reënwoud, die hotel in die wildtuin, aggressiewe landboumetodes ens ens.
Wat lompheid betref, dis strooi. As jy kan lees is dit nie 'n probleem nie. Vir die Duitsers byvoorbeeld (sien foto) is dit nie 'n probleem nie (of is hulle skoolopleiding net beter?).

Wat jy oor die ses dokters sê in jou openingsparagraaf is oorbodig; dis mos presies wat ek gesê het, naamlik as jy sekere begrippe los skryf verander die betekenis en jy moet uit die konteks aflei wat bedoel word.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan Rap,
Eerstens wat jou mooi foto betref: Jy moet vir die Taalkommissie sê hulle reël dat lompheid en onoorsigtelikheid vermy moet word, sommer strooi is. Dit help nie om my daarvoor te blameer nie. Waarom dien jy nie in hierdie raad nie, dan kan sulke strooi mos vermy word. Dan kan jy sommer Jan Rap se spelreël van eengedagteeenwoord invoer in die Afrikaanse spelreëls.
Ek sê weer: aan taalagteruitgang soos jy dit noem, kan daar absoluut niks gedoen word nie. Dit is juis as gevolg van taalagteruitgang dat jy nou Afrikaans praat. As ek sou "stront" skree, soos jy aanbeveel as bv die dominee van die kansel bid: "Onse Vader, Wie in die hemel is," sal almal my as 'n ateïs uitkryt, en die ouderlinge sal my by die kerk uitgooi. Niemand sal dink dat ek dit het teen die gebruik van "wie" nie. Taal is in die hande van die gebruikers daarvan, en een ou sprekertjie reghelp, sal absoluut niks werd wees nie. Kyk net hoe gaan Afrikaans "agteruit", ten spyte van die land se onderwysers, lektore, professore, taalindoenas, en steen-en-been klaers oor die Engelse invloed. Wat jy nie wil en kan verstaan nie, 'n taal moet hom kan aanpas by omstandighede. Op watter manier hy gaan aanpas, kan niemand voorskryf nie. Die Afrikaans van 1875 sal beslis nie meer kan funksioneer nie.
Jan, jy wil 'n spelreël maak vir Afrikaans, nl een-gedagte-een-woord. Ek wys jou maar dat daar nie so 'n spelreël in Afrikaans is nie. Dit is ook nie prakties uitvoerbaar nie, soos jy self gesien het met die ses voetdokter-storie. Ek het gewys op "lelike mense" (een gedagte) en jy het beweer dat byvoeglike naamwoorde gekoppel aan selfstandige naamwoorde los moet wees. Selfs dit werk ook nie altyd nie en ek het gewys op "sagte vrugte " en "sagtevrugte".
So, Jan, ek sien maar swarigheid vir jou as jy in die Taalkommissie dien. Jou kennis van die motorbedryf en aardwarming gaan nie veel help nie. Jy sal maar hand uit die mou moet steek en die taal- en spelreëls deeglik onder die knie kry, alvorens jy aansoek doen.
So terloops, wie is die Karen Meiring en Magdaleen Kruger van wie jy praat? En jy sê hulle het stasies? Is dit nou polisie-, spoorweg- of radiostasies? Daar werk gewoonlik hope mense by sulke stasies, en ek wonder hoe twee vroumense almal se taal kan beheer.
Groete,
Angus