Kommentaar op Angus se “So groei ’n taal”

  • 2

Angus (24-1-2018) gee ’n interessante geskiedenis van Engels, hoe akkuraat weet ek nie (maar nogtans baie interessant). 

Byvoorbeeld:  Angus kan nie eintlik so ’n stelling maak dat “Engels ook nie sy neus opgetrek [het] vir vulgêre Latyn ...  nie”.  ‘Vulgêr’ hier het niks te doen met ons interpretasie van vulgêr nie, dit beteken bloot ‘plat’ of ‘algemeen’; die Afrikaans is eintlik ‘Vulgêrlatyn’, nie ‘vulgêre Latyn’ nie.  

Buitendien, Engels KON nie sy neus optrek vir plat Latyn nie want toe was daar nog nie, streng gesproke, Engels nie. Engels (Angel-Saksies eintlik) het eers sy Romaanse inspuiting van 1066 af gekry met Willem die Veroweraar se stories.  Soos Chaucer sê, “olde English was more like to Dutch than to English”.  Angus sê self dit was Angel-Saksies (of Old English) voor 1066 so waar hy daaraan kom dat Engels nie sy neus vir plat Latyn sou optrek nie is ’n raaisel.  Terloops, ek dink teen daardie tyd was plat Latyn alreeds Frans, Italiaans, Portugees en Spaans.

Ek vermoed Angus gee hierdie geskiedenis om te wys dat tale groei onder allerhande invloede en dit is so. Dieselfde het met Afrikaans gebeur; hy’t nie eensklaps uit die lug geval nie. Afrikaans, soos alle tale maar, het ook uit ander ‘geput’ deur woorde aan te neem waarvoor daar nie woorde was nie (soos Engels ‘juggernaut’ van ‘dzjaghanat’ en ‘jungle’ van ‘dzjangala’ gekry het, onder andere). 

Jy ‘put’ egter nie uit ’n ander taal deur jou woorde met die ander taal s’n te vervang nie; in wese verteenwoordig dit die vervanging van jou taal met die ander taal.  Die Keltiese tale wat die Iere, Skotte en Walliesers gepraat het, het nie gegroei deur te ‘put’ uit Engels nie; Engels het daardie tale vervang. Gaelic, byvoorbeeld, is NIE vandag ’n magtige sterk Gaelic vanweë ’n geputtery uit Engels nie, nee, Gaelic is vir alle praktiese doeleindes dood; sy sprekers praat nou Engels.

Netso, vandag, met dié nou dat Engels die amptelike taal is en ORAL in die Afrikaanssprekendes se kele afgedruk word, word Afrikaans vervang deur Engels.  Afrikaans het sy hoër funksies verloor, hy word nie meer in die akademie gebruik nie, nie meer in die howe en openbare sektor nie en nie meer in die werkplek nie.  Die gevolg is die Afrikaanssprekendes raak die Engelse terme meer gewoond en gebruik dié dan wat tot gevolg het dat, om nou Angus se uitdrukking te gebruik, “die Afrikaanse woorde in die vergetelheid verdwyn”.  Al waar Afrikaans nog gepraat word is by die huis en ook al hoe meer geradbraak want die mense ken nie meer die Afrikaanse woorde nie.  Hoe anders? – hulle het dan al in die vergetelheid verdwyn.

Nou ja, soos ek in my brief (2 deser) wat Dirk Rigter ’n geweeklaag noem gesê het – Afrikaans het al heeltemal verdwyn uit sekere aspekte van die samelewing en sal vinnig uit die oorblywende aspekte van die samelewing verdwyn as ons nie uit ons gedienstige gaan-lê-posisie opstaan nie.  As jy lê is dit makliker om op getrap te word.

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek sal graag wil weet waar ek dan, wat die geskiedenis van Engels betref, fouteer het.
    Middeleeuse Latyn was in gebruik in Wes-Europa vanaf die sewende tot die 15de eeu. Dit staan ook bekend as klassieke Latyn. Hierteenoor staan die spreektaal van die menigte, Latina vulgaris, waaruit die moderne Romaanse tale geëvolueer het, nl Frans, Italiaans, Spaans, ens. Na die Normandiese verowering (1066), het Ou Engels, naas die Germaanse woordeskat, ook 'n woordeskatuitbreiding ondergaan deur Latynse woorde op te neem. Na skatting sluit die Engelse woordeskat 50% woorde van Latynse oorsprong in. Engels het hierdie woordeskat via Frans gekry, wat geëvolueer het uit die gesproke Latyn, maw Vulgêre Latyn. (Eng: Vulgar Latin.)
    Frans is weer beskou as 'n elite-taal, daarom is so geweldig baie Franse woorde in Engels opgeneem. Aan die anderkant is weer neergesien op Engels, en baie min Engelse woorde is opgeneem deur Frans.
    LW Woorde van Vulgêre Latyn het via Frans in Engels beland. Toe die Engelse Christene geword het, en gedurende die Renaissance-periode, het klassieke Latyn Engels beïnvloed.
    Alle tale gooi maar woorde weg wat nie meer bruikbaar is nie. Die jeug gebruik bv 'n sekere woord, alhoewel hulle nog die ou woord ken. Hulle kinders hoor nie die ou woord nie en weg is dit. So verander die taal mettertyd, sodat Afrikaans oor duisend jaar heeltemal vreemd vir ons sal wees. 'n Hedendaagse Engelsman sal Ou Engels glad nie verstaan nie.
    Om dit vir jou mooi op te som, in die vergetelheid verdwyn, het al lankal in die vergetelheid verdwyn.
    Wat die Keltiese tale betref, daar is 'n verskil tussen jou taal verruil vir 'n ander, en
    om woorde van 'n ander taal oor te neem. Geen bestaande taal kan 'n ander bestaande taal word nie. Dit kan 'n taal word met 'n stewige woordeskat, soos Engels, of dit kan 'n ander nuwe taal word, soos Afrikaans, ook met 'n lekker fris woordeskat.
    Die teenreaksie van trap was nog altyd terugtrap; waarom sal ons nou ewe skielik gaan lê om getrap te word?
    Groete,
    Angus

  • Amper vergeet ek om jou geluk te wens. Uiteindelik het jy my raad gevolg en vir jou 'n Woordelys en Spelreëls aangeskaf. Dit is inderdaad Vulgêrlatyn. Het ek die indruk geskep dat vulgêr beteken vieslik of iets dergelyks? Jammer daarvoor. Latyn vulgaris beteken van die volk. Vulgêrlatyn is dus die taal van die gewone mense, die Plebs. Dis ook nooit geskryf nie; dus raai taalkundiges maar wat die vorm daarvan was, deur oa Ou Frans (of ook Oudfrans geskryf), Italiaans en Spaans te vergelyk.

    Jy teken maar 'n somber prentjie vir Afrikaans. Ons gesels darem nog lekker hier op SêNet, al is dit soms nie so danig suiwer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top