Beste Jan Rap,
(Ek het al drie keer probeer om kommentaar onder in die hokkie van jou brief te tik, maar drie kragonderbrekings het dit elke keer poef, laat verdwyn. Nou tik ek maar in Windows Live Mail waar ek dit ten minste kan save terwyl ek dink wat om te sê.)
As ek na die vetgedrukte sinne kyk, sien ek dat jy nou heeltemal deurmekaar is; jy het alles behoorlik toegegooi onder ’n stroom van niksseggende woorde. Kom ek ontrafel die spulletjie vir jou.
My benadering tot ’n taal is linguisties van aard, terwyl joue polities, patrioties is. Ek sien taal as ’n klankstelsel gevorm deur menslike spraakorgane waarmee informasie oorgedra word. Jy sien dit in die eerste plek as ’n kultuurskat van ’n volk wat dit ten alle koste onveranderd moet bewaar.
Daarom verskil ons oor terminologie wat gebruik word. As ek praat van geradbraakte taal, bedoel ek in die eerste plek taal wat nie goed kommunikeer nie. Vir jou beteken dit woorde van twee taalstelsels wat in ’n sin gebruik word. Of dit goed of beter kommunikeer, maak nie vir jou saak nie. Ons huishulp, afkomstig van Harrismith se wêreld, sê nou die dag: “Ek loop hom by die emmer.” Wat dit beteken, weet ek nou nog nie. Dis vir my geradbraak. Dit kommunikeer uiters swak. Vir jou is: “usually as ek my goals geset het achieve ek hulle" geradbraakte taal, of dit goed of uitstekend kommunikeer of nie, dit maak nie vir jou saak nie. As ek so na jou voorbeeld van geradbraakte taal kyk, lyk dit vir my of jy ons huishulp se taal as goeie Afrikaans sal beskryf, want daar is nie één Engelse woord in nie.
Bewys my asseblief die guns en skryf jou sin (usually as ek my goals geset het achieve ek hulle) oor in “suiwer Afrikaans”. Let ook op dat hierdie woorde nie lukraak gekies is nie, want dan sou dit miskien so gelyk het: “disturb as ek my meaningful geset het, rallentando ek hulle.” Die woorde ‘usually’, ‘goals’, ‘achieve’ is noukeurig gekies om presies te sê wat die spreker bedoel.
Ek is bewus daarvan dat tweetalige woordeboeke verskeie vertalings gee, maar weet jy waarom? Dit is omdat ’n woord verskeie betekenismomente het. Om dit te verstaan, moet jy na ’n verklarende woordeboek gaan kyk. Die woord kapok het bv so drie betekenismomente. As ek praat van die saadpluis van die ’n sekere boom, aktiveer ek nr 1; as ek praat van die wollerige materiaal binne ’n kussing, aktiveer ek nr 2, en as ek praat van die sneeu op die berge, aktiveer ek nr 3.
Jy stem dus saam dat tale verander. Weet jy waarom tale verander? Hulle verander om aan te pas by nuwe omstandighede, want die omstandighede waarin hulle moet funksioneer, verander gedurig. Weet jy wat laat die tale verander? Hulle verander omdat hulle met ander tale in aanraking kom. Hierdie verandering is soms so groot oor honderde jare dat nuwe tale gevorm word. Dit is hoe Afrikaans sy ontstaan gekry het. Jy gee glad nie om dat Afrikaans gevorm is deur die aanraking met ander tale nie, maar hier in 2013 roep jy halt. Van nou af mag Engels geen invloed op Afrikaans hê nie. Jan, in die eerste plek is dit nou te laat. As ek vir jou wys op die invloed wat Engels op Afrikaans het, sal dit jou so ontstel dat jy sommer Spaans as jou moedertaal aanneem. Jy sien net Engelse woorde raak, maar Engels het hom al ingegrawe in die taalstruktuur, die uitspraak, die taalidioom van Afrikaans, wat natuurlik maklik is, want albei tale bestaan naas mekaar in Suid-Afrika en albei is Germaanse tale. Tweedens, Jan, kan dit nie verhelp word nie, want dit is nou so dat in Suid-Afrika daar Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes langs mekaar woon.
As dit kom by die veg vir Afrikaans se bestaansreg, is ek met jou. Dan trek ek my linguistiese baadjie uit, en dan moet ek jou sê, kook my 50% boerebloed, en praat ek net Afrikaans, maak nie saak of dit met ’n Eskimo is nie. Maar hoe kry ons Afrikaans terug in bv die howe? Sover my kennis strek, is daar nog nie bepaal dat dit Engels moet wees nie, maar in die praktyk is dit so hier in Natal.
Die prentjie wat jy voorhou vir Afrikaans is te pessimisties: verbastering, gatlekwoorde, oorname, verdwyning, regeringsbeleid, see van Engels, ens, ens.
Ek is ’n evolusionis en ek sien dit so: as Afrikaans nie sterk genoeg is nie en nie kan aanpas nie, gaan dit beslis verdwyn. Afrikaans moet onmisbaar, bruikbaar wees en nie daarop staatmaak om gered te word nie.
Wat die behoud van Afrikaans betref, lê die antwoord miskien in verbastering, soos jy dit noem. So kan Afrikaans se gene miskien bly voortleef, en wees eerlik met jouself. Hierdie verbastering bring beter kommunikasie tot stand; en dis mos maar al waaroor taal eintlik gaan.
Groete
Angus


Kommentaar
Angus, sou jy dieselfde raad aan die Britte, Duitsers, Franse - of enige ander taal gee, indien hulle onder dieselfde druk as Afrikaans sou verkeer ? Waarskynlik sal Jan Rap se reaksie 'n vulletjie wees teen dit wat jy van hulle kan verwag.
Groete,
Et1
Angus
Pragtig en pragmaties uiteengesit.
Jaco Fourie
Beste Et1,