Ek is jammer Angus …

  • 4

… dat ek jou glibberig genoem het; dis half ad hominem, iets wat ek, sover ek kan, probeer vermy (behalwe nou as ek genoodsaak is om in Francoiswilliamsiaans skryf).

Die regte woord is kreatief; jy gaan erg kreatief om met jou vertolkings van wat mens vir jou skryf.  Byvoorbeeld, onderaan my brief Dink in Afrikaans of Engels lewer jy die kommentaar dat ek " ... begin nou te kop wat aangaan. Afrikaans moet aanpas of verdwyn."  Die brief handel oor die agteruitgang van Afrikaans weens die kontaminasie deur Engels en jou kreatiewe gevolgtrekking is dat ek besef Afrikaans is aan't verander.  Lees weer want jy het nie mooi verstaan nie.

Verder is jy weer by jou sirkelargument:  Ek sê die Engelse woorde wat so lukraak ingegooi word is 'n teken van verengelsing en dus agteruitgang van Afrikaans en jy wys my tereg en sê nee, dis aanpassing.  Nou, as Afrikaans gaan verdwyn sal dit wees omdat Engels oorneem maar jy sê as Afrikaans nie aanpas nie, dus verengels nie, gaan hy verdwyn (deur natuurlik te verengels).  So, volgens jou moet Afrikaans verengels anders gaan hy verengels.  Maak mos nie sin nie.

Anders gestel:  Jy sê Afrikaans moet aanpas of verdwyn.  Al manier wat Afrikaans kan verdwyn is dat hy deur Engels oorgeneem word maar terselfdertyd beskou jy die gestadigde oorneem deur Engels as aanpassing.  Jy waarsku teen die verdwyning maar terselfdertyd steun jy die meganisme van verdwyning.  Absurd.

Ons het gepraat oor leenwoorde, kommunikasie, gatlekwoorde, taalklassifikasie (terloops, glo jy nog steeds Gaelic is 'n Germaanse taal?), uitsterf, groei, aanpassing, verandering en wie weet nog wat en ons is weer terug waar ons begin het:  Jy glo nog steeds die verengelsing van Afrikaans is 'n aanpassing (aanpas by wat?) en noodsaaklik anders gaan die taal verengels (verdwyn).

So, ek stel dit weer:  Moenie dink Afrikaans word gered deur dit bloot te praat nie.  Daar is baie Afrikaanssprekers en alhoewel hulle Afrikaans praat, praat hulle dit al hoe swakker, hulle taal is al hoe meer deurspek met Engels.  En ek praat nie nou net van ons gewone mense, Jan Rap en sy maats, nie maar ook van mense wie se WERK dit is om Afrikaans te praat soos radio-omroepers en TV-aanbieders.  Dis 'n verleentheid.

Ek kan my goed voorstel dat Walliesers, Iere en Skotte hulself op 'n stadium getroos het dat hulle darem nog 'dink en droom' hulle tale het grootliks verdwyn, oorgeneem deur Engels.  Ons loop dieselfde paadjie en as Afrikaans nie weer ons erns word nie gaan hy verder verdwyn.  'n Sin soos byvoorbeeld "as ek eers my goals geset het achieve ek hulle gewoonlik" is nie Afrikaans nie, die vreemde woorde is nie eers leenwoorde nie maar sommer gewone Engelse (gatlek-) woorde.  Dit is nie oulik of spitsvondig of kreatief of mooi nie maar lelik en slordig en onnodig.

Groetnis

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Beste Jan Rap, 

    Verskoning aanvaar, alhoewel dit my glad nie gepla het nie. 
     
    Jy maak my argument ? sirkelargument deur verengelsing (wat jý sê wat met Afrikaans gebeur) gelyk te stel aan aanpassing (wat ék sê wat met Afrikaans gebeur). Alle lewende tale pas aan by die vooruitgaande, moderne lewe, maar geen taal kan “verwatookal” nie.
     
    Engels verafrikaans nie in Suid-Afrika as gevolg van die gebruik van Afrikaanse woorde nie; Zulu verafrikaans nie as gevolg van die Afrikaanse woorde wat in Zulu gebruik word nie. So is dit heeltemal onmoontlik vir Japannees om te verchinees, of Duits om te verspaans, of Italiaans om te verportugees. 
     
    Ek herhaal: Afrikaans kan onmoontlik verengels. Wat wel moontlik is, is dat Afrikaans kan verdwyn en deur Engels oorgeneem word. Dit sal gebeur as Afrikaans nie kan aanpas by ? vooruitgaande moderne wêreld nie, want ? sterk taal soos Engels kan hom beslis by veranderende omstandighede aanpas. 
     
    Die uitbreiding van woordeskat is beslis nie ? meganisme om ? taal te vernietig (soos jy beweer) nie, trouens, dit is hoe ? taal kragtiger word; alle tale doen dit. Nuwe woorde kom Afrikaans (of enige taal) op die volgende maniere binne: 1. Ontlening, sonder verandering (ek achieve dit gewoonlik); 2. Ontlening, deur die woord te verafrikaans (hy het my so ewe kasueel daarvan vertel); 3. Vertaling, deur gebruik te maak van bestaande woordmateriaal (? man het altyd ? sakmes byderhand – van die Eng. Pocket knife); 4. nuutskepping, met bestaande woordmateriaal (die baba suig aan ? pypkan. Die pypkan in Rugby kan ook by 3. Hierbo getel word.) 
     
    Alle lewende tale brei hulle woordeskat op bogenoemde wyse uit, met die uitsluitlike doel om aan te pas. Jy maak beswaar slegs teen nr. 1, en jy noem dit heel ontaalwetenskaplik, gatkruipwoorde. As iemand van ? groepie mense as ? “band” praat, is dit vir jou ? gatkruipwoord. Of as ? Engelssprekende sê: “Do you like braaivleis?” dan kruip hy ook gat. Meer nog: indien iemand sou sê: “my seun speel kitaar in ? band,” dan praat hy nie meer Afrikaans nie, want sy Afrikaans het nou verengels, omdat hy het twee woorde gebruik wat onder Engelse invloed in Afrikaans gekom het. 
     
    Jammer, maar ek volg nie jou redenasie nie.
     
    Ek herhaal: Afrikaans kan nie verengels nie. ? Afrikaanse woord kan egter verengels soos bv. “braaivleis”, as hy in ? Engelse sin gebruik word. So verafrikaans ? Engelse woord as dit in Afrikaanse konteks is: “Ek sal nog my goals achieve, moenie worry nie!” 
     
    Jy bly my woorde verdraai. Nêrens het ek gesê dat Afrikaans gered kan word deur dit te praat nie. Ek het gesê ? lewende taal is ? lewende taal omdat dit gepraat word. Die oomblik as dit nie meer gepraat word nie, is dit ? dooie taal, en verdwyn dit. 
     
    Jan, niemand kan iets doen aan hóé die mensdom praat nie. Onderwysers en taalkenners kan miskien so bietjie briekaandraai, maar dis ook al. Seker ook maar goed so, want anders sou ons nooit Afrikaans gepraat het nie. Die enigste briekaandraaier is die ingebore taalvermoë van die mens, en daardie verband tussen “deep structure” en “surface structure” waarvan Chomsky praat. 
     
    Dit lyk my ook jy verstaan nie as ek van aanpassing praat nie. Sal dit dalk beter verstaanbaar wees as ek sê ek bedoel daarmee adapt? As Afrikaans nie adapt nie, sal ons maar moet Engels praat wanneer dit bv. kom by alle dissiplines van die wetenskap: medisyne, genetika, sterrekunde, evolusie, plantkunde, dierkunde, fisika, skeikunde, ens. Ek is juis bekommerd  daaroor dat Afrikaans agterbly wanneer oor motors, die rekenaarswese, ens., gepraat word. Dis omdat “taalkundiges” Afrikaans doodmoer met knormoer, programmatuur en die joos weet wat nog. Wat is verkeerd met aansitter of starter, en sagteware en hardeware? Dit word buitendien gebruik of watter taalpuris nou wíl of nie. EN BUITENDIEN, KOMMUNIKEER DIT BAIE BETER. 
     
    Jy weet nie waarby aangepas moet word nie? Dink jy vir een oomblik ? boer van die 17de eeu met sy vroeë Afrikaans sou vandag kon verstaan waaroor ons praat? Selfs knormoer sou hom gegooi het!
     
     Groete 
     Angus
  • Beste Angus  

    Ek het nooit gesê dat JY sê Afrikaans kan nie verdwyn as hy net gepraat word nie.  Ek het 'n brief geskryf onder die opskrif 'Vir die wat glo' waarin ek die stelling gemaak het dat mense moenie dink Afrikaans gaan gered word deur hom net te praat nie want alreeds praat die mense hom geraadbraak; ís hy met ander woorde aan die verdwyn.  Ons debat het begin met jou repliek op daardie brief.  

    Ek maak nie jou argument 'n sirkelargument nie; hy is dit reeds.  Ek het dit teen die lukrake ingooi van Engelse woorde en jy sê die aanpassing.  In dieselfde asem sê jy dat as Afrikaans nie aanpas nie gaan hy verdwyn wat net kan gebeur deurdat hy deur Engels oorgeneem word.  Dus, volgens jou, as ons nie aanpas deur Engelse woorde in te gooi nie gaan Afrikaans verengels.   Perfekte sirkel.  

    Jy stel dit dat geen taal kan ver-andertaal nie; Afrikaans kan byvoorbeeld nie verengels nie sê jy.  Jy's verkeerd, Afrikaans is dan reeds besig om te verengels, Magdaleen het 'n hele program daaraan gewy nou die Sondag in 'Die Tale wat ons Praat'.  Die sintaks verander (dink maar aan die verkeerde gebruik van 'doen'), die uitdrukkings verander (uit tyd uit hardloop, 'n besigheid of program hardloop, inlê in die oggend, wat as in plaas van sê-nou ens ens) en dan word Engelse woorde ook nog net so ingegooi soos achieve en goals en introduce ens.   Jou bewering dat hierdie woorde uitbreiding van die woordeskat is, is onsin. 

    Jy kan dan netsowel vir die Engelse 'n Armeense woordeboek gee en voorstel dat hulle sommer lukraak Armeense in plaas van Engelse woorde gebruik dan brei hulle op die manier hulle woordeskat uit.  'n Engelse woord WORD nie 'n Afrikaanse woord net omdat hy (en dit nogal verkeerdelik) in Afrikaanse teks gebruik word nie.  

    Jy vergelyk die Engelse gebruik van 'braaivleis' met die Afrikaanse gebruik van 'achieve'.  Jy ken ooglopend nie die verskil tussen leenwoorde en kontaminasie nie.  Die Engels het braaivleis, soos trek, vlei, voetstoots ens ontleen aan Afrikaans omdat hulle daar 'n leemte gehad het.  'Achieve' in Afrikaans vul geen leemte nie.   Jy hou aan met die verskil tussen 17de eeuse Afrikaans en hedendaagse Afrikaans.  Dit het niks met die prys van eiers te doen nie; Engels, Duits en Frans was ook anders in die 1600's gepraat as wat hulle dit nou praat.  Aanpassing deur die eeue en die kontaminasie van Afrikaans deur Engels is disjunk.  

    Jy begin die lig sien waar jy praat van die Engels wat ons sal moet begin praat wanneer dit by sterrekunde, medisyne, genetika ens kom.  Dit is duidelik dat, weens regeringsbeleid, Afrikaans sy hoër funksies gaan begin verloor en dit beteken afdraande.  Dit is juis my betoog; ons moet Afrikaans weer terugkry in die howe, by die Buro en die WNNR, by die universiteite (verhandelinge en tesisse) anders is dit klaarpraat.  Die houding dat 'n sin soos ' ...as ek my goals geset het achieve ek hulle gewoonlik ...' ook maar in die haak is dra by tot die agteruitgang van Afrikaans.  As Afrikaans nie weer ons erns word nie is dit klaarpraat.  

    Groetnis

    Jan Rap     

  • Beste Jan Rap,

    Ek het nie gesê jy het gesê ek het gesê Afrikaans kan nie verdwyn as hy net gepraat word nie. Ek het gesê dat ek dit gesê het. Hier sê ek dit weer, miskien net anders gestel sodat jy kan verstaan: As mense met mekaar Afrikaans praat, kan Afrikaans nie verdwyn nie. Of: Solank daar mense is wie se moedertaal Afrikaans is, kan Afrikaans nie verdwyn nie. Wat is so moeilik om dit te begryp? Wys my asseblief ?  taal wat gepraat word, maar nie meer bestaan nie. 
     
    Dis duidelik dat jy die woord “radbraak” nie verstaan nie. Toe ek nou die dag by die Spar-winkel stilhou, nader ? man my, en hy praat Zulu. Ek ken genoeg van sy taal om te verstaan dat hy werk soek. Ek vra hom toe om Afrikaans met my te praat, wat hy wel geradbraak kon doen: “Ek werk soek, menher,” sê hy. “Watter soort werk kan jy doen?” vra ek. “Ek spet hom tuin,” sê hy weer geradbraak. Dis geradbraak! Die volgende is nie geradbraak nie: “Actually, ek verstaan nie wat jy meen nie.” (Om die waarheid te sê....... In werklikheid.......ek verstaan nie wat jy bedoel nie.) My buurman se slim seun sê ? mens moet sê: “Njanies, ek verstaan nie wat jy kop nie. 
     
    Jy beweer dat Engelse woorde lukraak in Afrikaans gebruik word? As dit die geval is, dan kan ek jou verseker dat ? betekenisvolle woord gebruik gaan word, erg gering is. As ? spreker ? Engelse woord in Afrikaans gebruik, is dit goed gekies, betekenisvol, en as dit inpas by die struktuur van Afrikaans, dan is dit Afrikaans. As dit die kommunikasie verhoog, gaan daardie woord gevestig raak, en selfs jy sal dit dan as leenwoord, en as noodsaaklik bestempel. Engels het Afrikaanse woorde soos ‘vlei’, ‘koppie’ (small hill),  en ‘berg’ sodat Engels hier in Suid-Afrika kan aanpas. Afrikaans verkry Engelse woorde om aan te pas, want Afrikaans het ook groot leemtes. Daar bestaan bv nie ? presiese woord in Afrikaans vir ‘achieve’ nie. O, Ja! daar is ‘uitvoer’, ‘verrig’, ‘volbring’, ‘bereik’, ‘verwerf’, ‘presteer’, ‘behaal’ en nog vele meer  wat jy kan gebruik i.p.v. ‘achieve’, maar nie een van hulle het presies dieselfde betekenis en gevoelswaarde nie. Nog verder: “Dit was vir hom ? groot achievement.” Sê dit nou in die “suiwer Afrikaans” wat jy voorstel, en jy sal sien wat ek bedoel. 
     
    Kontaminasie is wel een van die talle taalmeganismes vir taalverryking. Ek het nou die dag ? mooie gehoor: onderskil (uit onderskeid en verskil). ? Mens kan seker sê die een taal kontamineer die ander, maar dit sal altyd ten goede wees, veral as dit leemtes vervul, soos jy sê, en die taal verryk. 
     
    Sewentiende-eeuse Afrikaans het alles met die prys van eiers te make. As ? mens dit vergelyk met hedendaagse Afrikaans, sien jy hoe die taal ontwikkel het. Jy (Jan Rap) keur dit goed, maak nie saak wat hierdie ontwikkeling bewerkstellig het nie. Maak ook nie saak of die ‘kontaminasie’ gekom het deur aanraking met die Hottentot-bediendes nie, dis die Afrikaans wat ons vandag praat, die Afrikaans waarvoor jy so veg, en waarvoor jy lief is. Verdere ontwikkeling van die taal keur jy egter af. Dit moet bly soos dit nou is. 
     
    Ek kan sommer hoor hoe jy hierteen protesteer. Engelse en vreemde woorde word toegelaat “as daar ? leemte is”, sal jy sê. Gaan jy daar sit en oordeel watter woorde, volgens jou, leenwoorde is, en watter woorde gatlekwoorde is? Jy het dan ‘achieve’ afgemaak as ? gatlekwoord omdat dit, volgens jou, onnodig gebruik word.  En nadat jy besluit het watter woorde volgens jou leenwoorde en watter gatlekwoorde is, wie gaan na jou luister?
     
    Ek is dit eens met jou: ons moet Afrikaans weer terugkry by universiteite, die howe, WNNR, ens, maar dit kan nie gebeur met ? taal wat nie aangepas het nie, want hier sal hy kompeteer met  ? wêreldtaal, Engels, wat aanpasbaar is.
     
    Dit die swart kant van die saak; die ligkant: al dryf die regering Afrikaans uit, al verbied hy dit selfs Afrikaans, sal hy dit nooit doodkry nie, want Afrikaans en sy “dialekte” is die moedertaal van ? groot deel van die bevolking. (Ek mag verkeerd wees, maar ek dink dis 27% van die land se bevolking volgens die jongste sensusopname.) 
     
     Groete 
     Angus  
  • Beste Angus

    Onderstaande is geplak uit jou kommentaar van 3 Junie hierbo:

    Jy bly my woorde verdraai. Nêrens het ek gesê dat Afrikaans gered kan word deur dit te praat nie. Ek het gesê ? lewende taal is ? lewende taal omdat dit gepraat word.

    Jy beweer dus ek het gesê jy reken Afrikaans kan gered word deur dit net te praat.  Ek het aan jou verduidelik dat ek nooit gesê het JY sê so nie; ek het 'n brief geskryf waarin ek gesê het die MENSE wat dit glo, yl, want alreeds word Afrikaans nie meer ordentlik gepraat nie.  Nou plak ek jou kommentaar van 4 Junie:

    Ek het nie gesê jy het gesê ek het gesê Afrikaans kan nie verdwyn as hy net gepraat word nie. Ek het gesê dat ek dit gesê het. Hier sê ek dit weer, miskien net anders gestel sodat jy kan verstaan: As mense met mekaar Afrikaans praat, kan Afrikaans nie verdwyn nie.

    Hier ontken jy nou weer dat jy beweer het ek jou woorde sou verdraai het.  Nou wat nou?  Kyk ook bietjie na die sinne wat ek in vetskrif gedruk het; lyk of jy die pad bietjie byster begin raak.

    Hoe dit ookal sy, jou stelling "As mense met mekaar Afrikaans praat, kan dit nie verdwyn nie" kan slegs waar wees as mense met mekaar Afrikaans praat.  Ek sê die mense praat alreeds geradbraakte Afrikaans met mekaar en op die manier IS Afrikaans aan die verdwyn.  'n Sin soos "usually as ek my goals geset het achieve ek hulle" is nie meer Afrikaans nie.  Dit is aanduidend van iemand wat nie kan Afrikaans praat nie, hy praat geradbraakte Afrikaans.

    Jy probeer dit regverdig deur te beweer dat, sou die Afrikaanse woorde vir daardie begrippe gebruik word, dit nie PRESIES dieselfde betekenis sal hê nie.  Mag so wees maar die omgekeerde is ook waar; 'n Engelse sin met lukrake Afrikaanse woorde in sal ook nie presies dieselfde beteken as wat hy sou beteken het, sou die suiwer Engels gebruik gewees het nie.  In enige tweetalige woordeboek sal taal X verskeie vertalings vir 'n spesifieke woord in taal Y gee en andersom.

    Weens regeringsbeleid leef Afrikaanssprekers in 'n see van Engels; hulle praat dit by die  werk, by die munisipaliteit, as hulle 'n klag by die polisiestasie indien, op universiteit, in die skole ens ens en hierdie druk veroorsaak dat Afrikaans al hoe swakker gepraat word.  Om alles te kroon gaan die Afrikaanse televisie- en radioprogramme ook agteruit (deel van die regering se strategie?).  Al hoe meer Engelse terme en sintaks word ingespan omdat Afrikaanssprekers al hoe meer gewoond daaraan raak.  Om jouself nou te troos en te beweer hierdie verbastering maak Afrikaans sterker is absurd.

    Wat my weer by 17de eeuse Afrikaans uitbring.  ALLE spreektale was 400, 500 jaar gelede anders as tans.  Om nou die feit dat die Afrikaans van 'n paar honderd jaar gelede anders was, is geen regverdiging dat die taal nou deur Engels oorgeneem kan word nie.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top