… dat ek jou glibberig genoem het; dis half ad hominem, iets wat ek, sover ek kan, probeer vermy (behalwe nou as ek genoodsaak is om in Francoiswilliamsiaans skryf).
Die regte woord is kreatief; jy gaan erg kreatief om met jou vertolkings van wat mens vir jou skryf. Byvoorbeeld, onderaan my brief Dink in Afrikaans of Engels lewer jy die kommentaar dat ek " ... begin nou te kop wat aangaan. Afrikaans moet aanpas of verdwyn." Die brief handel oor die agteruitgang van Afrikaans weens die kontaminasie deur Engels en jou kreatiewe gevolgtrekking is dat ek besef Afrikaans is aan't verander. Lees weer want jy het nie mooi verstaan nie.
Verder is jy weer by jou sirkelargument: Ek sê die Engelse woorde wat so lukraak ingegooi word is 'n teken van verengelsing en dus agteruitgang van Afrikaans en jy wys my tereg en sê nee, dis aanpassing. Nou, as Afrikaans gaan verdwyn sal dit wees omdat Engels oorneem maar jy sê as Afrikaans nie aanpas nie, dus verengels nie, gaan hy verdwyn (deur natuurlik te verengels). So, volgens jou moet Afrikaans verengels anders gaan hy verengels. Maak mos nie sin nie.
Anders gestel: Jy sê Afrikaans moet aanpas of verdwyn. Al manier wat Afrikaans kan verdwyn is dat hy deur Engels oorgeneem word maar terselfdertyd beskou jy die gestadigde oorneem deur Engels as aanpassing. Jy waarsku teen die verdwyning maar terselfdertyd steun jy die meganisme van verdwyning. Absurd.
Ons het gepraat oor leenwoorde, kommunikasie, gatlekwoorde, taalklassifikasie (terloops, glo jy nog steeds Gaelic is 'n Germaanse taal?), uitsterf, groei, aanpassing, verandering en wie weet nog wat en ons is weer terug waar ons begin het: Jy glo nog steeds die verengelsing van Afrikaans is 'n aanpassing (aanpas by wat?) en noodsaaklik anders gaan die taal verengels (verdwyn).
So, ek stel dit weer: Moenie dink Afrikaans word gered deur dit bloot te praat nie. Daar is baie Afrikaanssprekers en alhoewel hulle Afrikaans praat, praat hulle dit al hoe swakker, hulle taal is al hoe meer deurspek met Engels. En ek praat nie nou net van ons gewone mense, Jan Rap en sy maats, nie maar ook van mense wie se WERK dit is om Afrikaans te praat soos radio-omroepers en TV-aanbieders. Dis 'n verleentheid.
Ek kan my goed voorstel dat Walliesers, Iere en Skotte hulself op 'n stadium getroos het dat hulle darem nog 'dink en droom' hulle tale het grootliks verdwyn, oorgeneem deur Engels. Ons loop dieselfde paadjie en as Afrikaans nie weer ons erns word nie gaan hy verder verdwyn. 'n Sin soos byvoorbeeld "as ek eers my goals geset het achieve ek hulle gewoonlik" is nie Afrikaans nie, die vreemde woorde is nie eers leenwoorde nie maar sommer gewone Engelse (gatlek-) woorde. Dit is nie oulik of spitsvondig of kreatief of mooi nie maar lelik en slordig en onnodig.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan Rap,
Beste Angus
Ek het nooit gesê dat JY sê Afrikaans kan nie verdwyn as hy net gepraat word nie. Ek het 'n brief geskryf onder die opskrif 'Vir die wat glo' waarin ek die stelling gemaak het dat mense moenie dink Afrikaans gaan gered word deur hom net te praat nie want alreeds praat die mense hom geraadbraak; ís hy met ander woorde aan die verdwyn. Ons debat het begin met jou repliek op daardie brief.
Ek maak nie jou argument 'n sirkelargument nie; hy is dit reeds. Ek het dit teen die lukrake ingooi van Engelse woorde en jy sê die aanpassing. In dieselfde asem sê jy dat as Afrikaans nie aanpas nie gaan hy verdwyn wat net kan gebeur deurdat hy deur Engels oorgeneem word. Dus, volgens jou, as ons nie aanpas deur Engelse woorde in te gooi nie gaan Afrikaans verengels. Perfekte sirkel.
Jy stel dit dat geen taal kan ver-andertaal nie; Afrikaans kan byvoorbeeld nie verengels nie sê jy. Jy's verkeerd, Afrikaans is dan reeds besig om te verengels, Magdaleen het 'n hele program daaraan gewy nou die Sondag in 'Die Tale wat ons Praat'. Die sintaks verander (dink maar aan die verkeerde gebruik van 'doen'), die uitdrukkings verander (uit tyd uit hardloop, 'n besigheid of program hardloop, inlê in die oggend, wat as in plaas van sê-nou ens ens) en dan word Engelse woorde ook nog net so ingegooi soos achieve en goals en introduce ens. Jou bewering dat hierdie woorde uitbreiding van die woordeskat is, is onsin.
Jy kan dan netsowel vir die Engelse 'n Armeense woordeboek gee en voorstel dat hulle sommer lukraak Armeense in plaas van Engelse woorde gebruik dan brei hulle op die manier hulle woordeskat uit. 'n Engelse woord WORD nie 'n Afrikaanse woord net omdat hy (en dit nogal verkeerdelik) in Afrikaanse teks gebruik word nie.
Jy vergelyk die Engelse gebruik van 'braaivleis' met die Afrikaanse gebruik van 'achieve'. Jy ken ooglopend nie die verskil tussen leenwoorde en kontaminasie nie. Die Engels het braaivleis, soos trek, vlei, voetstoots ens ontleen aan Afrikaans omdat hulle daar 'n leemte gehad het. 'Achieve' in Afrikaans vul geen leemte nie. Jy hou aan met die verskil tussen 17de eeuse Afrikaans en hedendaagse Afrikaans. Dit het niks met die prys van eiers te doen nie; Engels, Duits en Frans was ook anders in die 1600's gepraat as wat hulle dit nou praat. Aanpassing deur die eeue en die kontaminasie van Afrikaans deur Engels is disjunk.
Jy begin die lig sien waar jy praat van die Engels wat ons sal moet begin praat wanneer dit by sterrekunde, medisyne, genetika ens kom. Dit is duidelik dat, weens regeringsbeleid, Afrikaans sy hoër funksies gaan begin verloor en dit beteken afdraande. Dit is juis my betoog; ons moet Afrikaans weer terugkry in die howe, by die Buro en die WNNR, by die universiteite (verhandelinge en tesisse) anders is dit klaarpraat. Die houding dat 'n sin soos ' ...as ek my goals geset het achieve ek hulle gewoonlik ...' ook maar in die haak is dra by tot die agteruitgang van Afrikaans. As Afrikaans nie weer ons erns word nie is dit klaarpraat.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan Rap,
Beste Angus
Onderstaande is geplak uit jou kommentaar van 3 Junie hierbo:
Jy bly my woorde verdraai. Nêrens het ek gesê dat Afrikaans gered kan word deur dit te praat nie. Ek het gesê ? lewende taal is ? lewende taal omdat dit gepraat word.
Jy beweer dus ek het gesê jy reken Afrikaans kan gered word deur dit net te praat. Ek het aan jou verduidelik dat ek nooit gesê het JY sê so nie; ek het 'n brief geskryf waarin ek gesê het die MENSE wat dit glo, yl, want alreeds word Afrikaans nie meer ordentlik gepraat nie. Nou plak ek jou kommentaar van 4 Junie:
Ek het nie gesê jy het gesê ek het gesê Afrikaans kan nie verdwyn as hy net gepraat word nie. Ek het gesê dat ek dit gesê het. Hier sê ek dit weer, miskien net anders gestel sodat jy kan verstaan: As mense met mekaar Afrikaans praat, kan Afrikaans nie verdwyn nie.
Hier ontken jy nou weer dat jy beweer het ek jou woorde sou verdraai het. Nou wat nou? Kyk ook bietjie na die sinne wat ek in vetskrif gedruk het; lyk of jy die pad bietjie byster begin raak.
Hoe dit ookal sy, jou stelling "As mense met mekaar Afrikaans praat, kan dit nie verdwyn nie" kan slegs waar wees as mense met mekaar Afrikaans praat. Ek sê die mense praat alreeds geradbraakte Afrikaans met mekaar en op die manier IS Afrikaans aan die verdwyn. 'n Sin soos "usually as ek my goals geset het achieve ek hulle" is nie meer Afrikaans nie. Dit is aanduidend van iemand wat nie kan Afrikaans praat nie, hy praat geradbraakte Afrikaans.
Jy probeer dit regverdig deur te beweer dat, sou die Afrikaanse woorde vir daardie begrippe gebruik word, dit nie PRESIES dieselfde betekenis sal hê nie. Mag so wees maar die omgekeerde is ook waar; 'n Engelse sin met lukrake Afrikaanse woorde in sal ook nie presies dieselfde beteken as wat hy sou beteken het, sou die suiwer Engels gebruik gewees het nie. In enige tweetalige woordeboek sal taal X verskeie vertalings vir 'n spesifieke woord in taal Y gee en andersom.
Weens regeringsbeleid leef Afrikaanssprekers in 'n see van Engels; hulle praat dit by die werk, by die munisipaliteit, as hulle 'n klag by die polisiestasie indien, op universiteit, in die skole ens ens en hierdie druk veroorsaak dat Afrikaans al hoe swakker gepraat word. Om alles te kroon gaan die Afrikaanse televisie- en radioprogramme ook agteruit (deel van die regering se strategie?). Al hoe meer Engelse terme en sintaks word ingespan omdat Afrikaanssprekers al hoe meer gewoond daaraan raak. Om jouself nou te troos en te beweer hierdie verbastering maak Afrikaans sterker is absurd.
Wat my weer by 17de eeuse Afrikaans uitbring. ALLE spreektale was 400, 500 jaar gelede anders as tans. Om nou die feit dat die Afrikaans van 'n paar honderd jaar gelede anders was, is geen regverdiging dat die taal nou deur Engels oorgeneem kan word nie.
Groetnis
Jan Rap