Kom, vertrek op ’n retoer-koekeloer-toer

  • 0

Ontbal u vuis; omhels u muis!
Dis onnodig dat u vingers bly tik, tik, tik, tik;
al wat u hoef doen, is hier klik:
hseymore@telkomsa.net
en vra “waar?” dan kry u inligting oor die ligging.

 Kom! Kyk na twee hemelsbreed verskillende wêrelde! Hierdie e-pos saam met my repliek-e-pos, gee geleentheid vir padvat na twee heeltemal teenoorgestelde skole – binne loopafstand van mekaar in dieselfde dorpie

Henk Seymore
15 Mei 2013

Gister het ek begin slyp-skryf aan hierdie stuk en vandag, 16 Mei 2013, het ek onderstaande brief gevind en uit Die Burger geknip. Meer toepaslik kan dit nie wees nie:

Leserbrief aan Die Burger, Donderdag 16 Mei 2013

Waarom Suid-Afrika so vinnig ten gronde gaan, gaan my te bowe. Vat nou maar ons onderwysstelsel. In 1994 was dit nes dié van Brittanje, een van die wêreld se beste, nou is dit een van die swakstes.

In ag geneem dat die jeug wat vandag op skool is oor 30 tot 40 jaar die land beheer – nie net die regering nie, maar ook die private sektor – kan ons nog erger probleme te wagte wees. Een van die belangrikste redes waarom ons land in hierdie penarie verkeer, is dat pres. Jacob Zuma en sy entourage miljarde rande gebruik om oral internasionaal te vlieg na vergaderings en geen aandag gee aan die probleme van Suid-Afrika nie.

Jan Griebenhau, Bellville

Hier volg my antwoord:

Hallo meneer Griebenhau

Had ek maar u e-posadres, was u ook op my poslys, nie net me. Bartlett-Möhl nie. Meneer Griebenhau, ook u, (asook alle LitNet-lesers) is hartlik welkom. Kom kyk self hoe sleg vaar een skool en hoe goed die ander binne dieselfde onderwysstelsel.

Henk Seymore, 19 Mei 2013

In Hendrik Verwoerd se tyd word ’n laerskool staangemaak op ’n perseel feitlik in die skadu van hierdie dorpie se bestaansrede, die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Tydens die jare sestig is dié skool ’n toonbeeld van vooruitgang en vol kinders. ’n Dekade later loop dit leeg, asof ‘n prop uitgetrek is en die water uit die bad stroom. Daar is eenvoudig nie genoeg bleek haasbekkies vir graad een nie.

Tans is dit baie bouvallig. Tydens ’n brand is die dak se timmerwerk tot houtskool geskroei. Kappe dreig om neer te stort in oop ruimtes waar die plafon en dakteëls toeka al voertsek. Plek-plek val pleister van messelwerk af. Stukkies gemors lê stukkend op die grond tussen brokke dakteëls rond-en-bont. Hier, tussen kakiebos, knapsekêrels, hondepisbossies en ander onkruid krioel allerlei spinnekoppe, muise, rotte asook dié se roofvyande: uile en slange.

As adres vir die departement van onderwys om handboeke by af te lewer, bied hierdie bouval eenvoudig nie genoeg onderdak nie. Net een gewel se dakstuk staan nog. In dié se solder is nog oorblyfsel-bladsye uit handboeke geskryf in die dae van Christelike Nasionale Onderwys van die vorige bedeling. Flarde fladder tydens sterk winde rond soos spoke in ’n donker begraafplaas.

Oorskot onderwysers sonder klaskamers daag nie elke skooldag hier op vir betaling van werk wat nie gedoen is nie. Die kantoordeur is al langer as drie dekades toe. Gesluit. Sleutel skoonveld.

Die bouval bly verval en vergaan sonder kommer oor assessering, want daar bestaan nie nog twyfel oor die uitkoms van ’n politieke dogma wat eens op ’n tyd in hierdie bouval hoogty gevier het nie. Dit het immers graad een gedop in die skool van internasionale standaarde vir menseregte.

Onheil hou voortdurend hier partytjie. Eers doelbewuste brandstigting. Daarna klipgooi na vensters, asof dit is om die voorsienigheid te wil bedank en die ineenstorting van die politieke dogma sigbaar te vier. Die moontlikheid dat ‘n skoolkind verveeld deur ’n klaskamer se venster sal staar, is vinniger vernietig as wat Superman deur hemel en hel kan vlieg. Alle vensterruite is flenter skerwe.

Dit alles! En toe roep dominee die kerkraad eendag dringend byeen. Hulle vergader dieselfde aand nog. Op die vergadering bars die manne se koppe soos bomme: net gistermiddag het Dominee in die bouval gaan ondersoek instel. Wat sien hy daar? Juis daardie tieners wat veronderstel is om in die katkisasieklas te sit, is doenig met heksery. Hulle aanbid ook die duiwel. Simbole vir toorkuns is teen die mure en op die vloer van ’n klaskamer geverf.

Satanisme! Gepleeg deur kinders van die binnekring, die bleekvel-bleeksiel tieners van die dorp. Die klompie, blootgestel aan uiterse strengheid binne eng Calvinisme, toegedien as ‘n fatale oordosis Nederduitse Gereformeerde kerklikheid, in ’n vakuum van emosionele verwaarlosing sonder enige aandag en gepaardgaande liefdevolle leiding, was bestem daarvoor.

Summier sit Dominee aanbidding van Satan stop. Net twee weke later sit hy ook
’n pakkie netjiese reisdokumente in die “hoëpriesteres” van die groep se hande: paspoort, vlugkaartjie, visum, voltooide aansoekvorm vir werkpermit, getuigskrif om werk as kinderoppaser te bekom, brief van gewillige werkgewer. Bestemming – Jakarta! Woerts, weg is sy! Totdat winde van verandering wegdoen met bewustheid van die skandaal.

Ná dié episode is die skool die juiste plek vir skelm-dwelm. Dit het immers reeds ’n slegte naam. Hoe later, hoe meer jongklomp-wat-pomp in die alomverlatenheid wat verskeie verborge private ruimtes stilletjies verskuil, en dese kasarm ideaal maak vir daardie spartelding van jou kombers en my matras.

’n Laerskool is suksesvol omvorm tot ’n skandhool deur sowel die vorige as huidige bestel in Suid-Afrika, want vermoë ontbreek by albei om erfenis konstruktief aan te wend. Die departement van openbare werke word oorreed om geld te bestee aan nieproduktiewe werkskepping sodat die bouval opgepas kan word deur sit-en-niksdoen-wagte. Hul opdrag? Verhoed dat euwel verder kop uitsteek!

Amper drie dekades nadat die skool aanvanklik gesluit is, wend ’n Britse musiekgroep twee daadwerklike pogings aan om eienaarskap van die perseel te bekom ten einde die bouval as ’n musiek-opleidingsentrum te herbou, volledig toegerus met klankateljees. Onderhandelinge ontspoor egter. Die departement ontwyk eers navrae en sloer daarna net te lank met ‘n antwoord. Uiteindelik is die departement se verwagtinge oor die koopprys só buitensporig dat die Britte se belangstelling verskuif na ander dele van Afrika waar persele geskik vir die bou van sodanige sentra teen realistiese pryse beskikbaar is.

Skool twee is binne loopafstand van die bouval. Hierdie skool is amper ’n kampus. Daar is talle geboue. In die ou Suid-Afrika was dit ’n hoërskool met verskeie koshuise wat etlike honderde seuns en meisies gehuisves het. Ook dié skool loop leeg in die negentigerjare. Die eeu draai. Die nuwe Suid-Afrikaanse bedeling beteken dat leerders van alle bevolkingsgroepe, sowel hoër- as laerskool, daar opleiding ontvang. Kinders vanuit die dorp gaan daar skool. Daar is net enkele kosgangers. Die kombinasie van laer- en hoërskool werk glad nie. Akademies val standaarde tot plat op die grond. Ouers verwyder hul kinders. Koshuise staan leeg. Klein gedeeltes word as woonstelle verhuur. Die skool boer agteruit, ook betreffende geboue en perseel.

Die departement van onderwys gryp in. Drastiese veranderinge word aangebring. Die skool se funksie verander van laer en hoër grade akademies na slegs hoër grade toegespits op praktiese vaardighede. Leerders sal diegene wees wat elders nie akademies presteer nie en die skool moet voldoen aan die leemte wat met die wegdoen van die vakleerlingstelsel gelaat is. Leerders word gewerf vanuit die hele Wes-Kaap en sodoende word die koshuise stelselmatig gevul.

Die skool se naam wat verwys het na persoonlikhede uit die ou Suid-Afrika verander en verwys na die funksie wat die skool tans vervul. Geboue word opgeknap. Aanplantings word gedoen op die perseel, insluitende ’n groentetuin, waarvoor leerders verantwoordelik is. Geld word bekom uit donasies vir die aankoop van onder meer naaimasjiene en stowe en gespesialiseerde toerusting vir ’n opleidingskombuis waar kokke volgens internasionale standaarde opgelei kan word ten einde in toprestaurante te kan werk. Ook word elektrisiëns, loodgieters en motorwerktuigkundiges opgelei.

Daar word van leerders verwag om aan te klop by plaaslike sakeondernemings vir geleenthede om tydens skoolvakansies wat hulle die vorige kwartaal geleer het prakties toe te pas; sodoende integreer die skool en die voordele van wat daar geleer word in die plaaslike gemeenskap.

Dié twee uiterstes in skole laat steeds ’n leemte. Die dorpie se bevolking is te klein om ’n volwaardige akademiese hoërskool te kan regverdig. Leerders aldus ingestel se ouers verhuis dus na groter dorpe, of die leerders moet elders in groter dorpe se kosskole opgelei word.

Gemors in onderwys is soms ingewikkeld, meneer Griebenhau, en kom soms uit ’n lang geskiedenis wat selfs 1994 voorafgaan. Ook is dit duidelik dat die huidige stelsel, gebaseer op “uitkoms”, glad nie gewenste resultate lewer nie.                   

Ek het doelbewus nie geskryf in watter dorpie hierdie twee skole is nie. Stuur gerus u e-pos, en vra “waar?” My repliek kom met die uitnodiging vir ’n koppie koffie, en ’n begeleide staptoer na hierdie twee skole. Albei is binne loopafstand van waar ek by my lessenaar sit. Kom, Jan. Kom Rentia, kom alle LitNet-lesers. Kyk. Sien alles sélf.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top