Dis moeilik om te besluit wat my die meeste tydens die reis laat ril en gril het.
Eers was daar die bosvark-vlekkie-episode, toe die hemele wat sluise oopsprei en my stapstok wat knetterend die krans afmoker. Die kersie op die koek was sekerlik die seepglad stukkie rooigrond wat ek kaboems met my sitvlak gekoop het.
Welkom by Magoebaskloof! Welbekende wildernis-en-reënwoud aan die voetheuwels van die Drakensberg, wat sy prag en praal binne oomblikke onder die misterieuse misbanke van die Wolkberg kan toevou. Die kloof- en bosmense wat hier woon, is afgesonder van sowel die Pietersburgse as die Tzaneense dorpsmense deurdat dit in die weste begrens word deur ? gedeelte van die Lebowa-tuisland, in die noorde en ooste deur die natuurlike skeiding van die eskarp en in die suide deur die onherbergsame bergwêreld van die Wolkberg. Voorwaar ‘n asemrowende visuele avontuur – asook sielsbelewenis.
Vroeg-vroeg, voor die son sy skelm straal teen Hemelkrans flits, durf ons die bos aan. Natgesweet streep ons vier die laaste 150 m van die Magoeba-berg op. Die klim is uiters ontoeganklik. Eintlik vreesaanjaend. Tot hier was dit steil dog makliker – al teen die bergskouer op met sy bekoorlike uitsig oor Diepkloof aan jou regterkant wat duiselingwekkend afkrans, net om jou oë weer na die golwende bergpieke wat afskilder teen ‘n grouhemel op te slaan.
Ek vergaap my aan die botaniese tuintjies wat vanuit groenmos teen die rooiwalle opspring. Skitterwit varklelies, kleurryke blomplante en varings. Meer as tweehonderd spesies orgideë. Schizostylisaan die kante van die bos, Disa extinctora, satyriums asook agapante en ‘n verskeidenheid aalwynsoorte wat teen die berghange vuurpylvlamme rooiblom. Krioelende boomwortels en bobbejaantou omsoom hierdie tuine en ontluik in natuurlike rangskikkings.
Ek wandel op poreuse sponsblaar. Die reuk van gekneusde kamfer en bosvarkmis laat my gemoed van avontuur na opwinding na iets soos “vrekbang” wip.
“Swaer,” blaas ek en sien my kneukels om die stapstok wurg. “Is jy seker van die pad?” Stilte. Wat ‘n simpel vraag, dink ek, en vee misreën uit my oë. Dit is logies dat alle bospaadjies na bo lei. Grootwatervalle toe! En kan jy maar net na die gedruis van die tuimelende waters luister om te weet dat jou modderbesmeerde stapskoene in die regte rigting mik.
My vinger jik na die kameraknoppie. Maar vir nou word stapstokke ‘n optrek-anker van hand tot hand, oor klip en krans. Adrenalien pomp deur my are terwyl doringskraap-pyn klou. Om my is die voëls verheug oor die sonstrale wat met die misbanke stoei. Ek lewe!
Hoewel die stap gevaarlik is in die sin dat ‘n val na jou dood kan lei, vergoed die wonderskoon omgewing daarvoor, die reuse-hoogtes van die bekendste aangeplante boomsoorte soos geelhout, ysterhout, assegaai, boekenhout en stinkhout. Die hoogste eer kom ‘n bloekom toe, ‘n Eucalyptus saligna (grandis) van die “Woodbush Forest Reserve” met sy totale hoogte van 82,5 meter. Groeikreune vanuit die grond stu in my op.
Ons is hier om dié stuk paradys te tem. Of dit vir ons? Assessorwerk te doen en knelpunte te identifiseer. ‘n Moontlike Groenvlagroete – die gehaltebeheerstelsel van die Voetslaanorganisasie van Suid-Afrika. Hierdie status word beoordeel aan die hand van kriteria soos omgewingsvriendelikheid, verblyfmoontlikhede, veiligheid en moeilikheidsgraad van ‘n moontlike staproete.
“Dirk,” roep Swaer na Manlief en druk ‘n rubberhamer in sy hand. “Hier moet penne in.”
Terwyl ousus Annie notas op ‘n notabord griffel en die manne wit merkers langs ‘n moontlike staproete inslaan, raak my vinger fotogenies. Deur die oog van die lens word die geraamtevingers van ‘n bloekom-spook lewendig, waarvan die agtergrond slierte witmis uitspoeg. Ek sug diep, net om te voel hoe my hart skielik stol: Was daar ‘n gewapper?
Sowaar! Die skril kraakgeluid van die bedreigde woudpapegaai? “Luister!” fluister ek en wys na die bos. Die voëls is lief om nes te maak in die hoë toppe van die dooie bloekoms se natuurlike holtes. As ek bewyskiekies kan voorlê, sal die voëlklub gratis neste verskaf. Opgewonde ruk ek om en gryp na my Nikon D600. Dit is toe dat dit gebeur ...
Kaplaks. Ek hang aan my kamera en koop ‘n stukkie grond. Die stapstok word ‘n rugbybal en kletter oor die krans. Almal word soutpilare. Skielik weer bewus van hierdie amfiteater en sy gevaar. So grasieus moontlik kreun ek orent en byt onderlip. Niks mag hierdie droomdag bederf nie. Oor die krans sien ek hoe my stapstok ver onder soos ‘n slang tussen waterskuim wegspartel. Onder teen die swarklip is spatsels roofvoëlmis en die reuk van katpiepie? Ek duik terug, sitvlakpyn vergete.
“Swaer,” roep ek benoud. “Is hier katte?” Skielik wil almal weet.
Blinkgesweet loer Swaer van onder sy krokodil-dundee hoed en laat sak die panga waarmee hy pad oopkap. Hy is gids en veldkenner. “Luiperd,” s? hy ingedagte. “Mits jy gelukkig is ...”
Ek wil nie gelukkig wees nie. Al is ‘n luiperd fotogenies, is ons nie vriende nie.
“Vlekkie, kom uit daar!” roep swaer na sy foxterrier. Maar Vlekkie is opgewonde en wurm sy bont lyfie oral in. Slange bly ‘n gevaar, en Vlekkie hardkoppig. Hoog bokant ons swiepduik ‘n visarend oor dam en kloof, en in my geestesoog sien ek sy pote wat skielik na vorentoe skiet vir die grypslag. My bors swel. Ons vir jou Suid Afrika!
Die oomblik van verwondering breek aan. Bokant ons, winkblink ‘n silwer watergordyn van waterval tot waterval. Aan die agterkant van die berg is die bekende Debegeni-waterval met verruklike uitkykpunte, staproetes en piekniekplekke. ‘n Droom wat hier waar word?
Iets rammel. Vanuit die suidweste beweeg ‘n donker misbank in wat met slierte aangewaai kom. Kan die natuur so vinnig ‘n ander baadjie aantrek? ‘n Rilling kriewel teen my ruggraat af. “Ons sal moet terug,” waarsku Swaer. Heimlik is ons teleurgesteld, maar begin gly-gly die berg af klouter. Ek sug. Ons het die bergpiek nie getem nie, maar het darem die pad na bo gevind. Dit dra die soet belofte van ‘n puik vakansieplek. ‘n “Moet sien” vir enige reisliefhebber.
Die son was pienk toe die herrie losbreek. Die bos skielik lewe. Tot vandag toe weet ek nie of Vlekkie die bosvark ontdek het en of die bosvark Vlekkie gestorm het nie. Die gesnork, getjank en maervarkskreeue van die kleintjies is onvergeetlik soos alles uitmekaar spat. Swaer het aanhou gegil: “Huis toe Vlekkie, huis toe!” en oral verwoed met sy stapstok op die grond bly slaan.
Toe sous dit ...
Ek ruik vars koffiebone toe ons die plaaskombuis instrompel. My innerlike wese krul om die hitte daarvan.
Later vergader die familie om die kombuistafel. Terwyl Annie volstruisboud met bruingebakte geelaartappel uit die oond trek, sien ek die moeë, tog tevrede glimlag om haar mondhoeke waar fyn plootjies begin vorm. Ek glimlag vir die een wat my grootgemaak het en hierdie familie bymekaar hou. ‘n Diamantvoorkop-vrou, tog teer.
Aandete word aangevul met stampmielies en vars avokadopeer-en-neute-slaai, gepluk op hierdie landgoed en opgetower met ‘n kondensmelk-mayonnaisesous.
Om die tafel gaan die gesprek oor godsdiens en geskiedenis, omgee vir die omgewing, versorging van die bergmense en verbintenis met die grond. Hierdie dinge was en is steeds vir ons ‘n manier van leef. Nostalgies herroep ons geskiedenis. Hoedat genl. Piet Joubert sy hoofkwartier in 1890 hier ingerig het, en dat Makgoba die moeilikste en laaste leier was wat deur die kommando’s oorwin is. Makgoba het die Boere in hierdie kloof-en-berg telkens uitoorlê. Dit was nodig om ander swart stamme se hulp in te roep voordat Makgoba onderwerp is.
Ten einde beskerming aan die blankes te verleen, het Joubert opdrag gegee dat drie forte op die koppe rondom Makgoba opgerig word. Lt. Gert du Toit van die Staatsartillerie is in bevel van die forte geplaas. Fort Mulder by Joubertskroon, Fort Botha op Pypkop, noord van Makgoba, en suid Fort Barry. Die pad onder in die kloof het Lt. Du Toit en sy manne in 1915 voltooi. Maar plekke so steil dat ‘n wa en osse in nat weer daar nie kon uit nie. John Buchan se avontuurroman wat hierdie omgewing beskryf, Prester John,het in 1910 verskyn. Asook Rider Haggard se geromantiseerde verhale oor dié wêreld en sy setlaars, soos byvoorbeeld sy fantasieromans She en The people of the Mist.
Die oggend voel my dyspiere styf en koud. Maar het een doel voor oë: Wegraakbos! ‘n Vreemde paadjie kronkel die berg in met kabellende watervalletjies en beeldskone natuurskoon. In ekstase weier my vinger om die kameraknoppie te los. Die berglug is vars en pols my are vol genesing en geestesrus.
Die bos kweek sy eie indringerstruike: Lantana en duiwel-se-doring. Moeilik uitroeibaar en vloeksels wat avokado- en neutboom smoor. Skielik breek die son deur en kiek ek vir oulaas die blink-in-die-oog van die waterdruppel wat lank aan ? varingvinger hang. Vanoggend huiwer die mis op die pieke soos spookasem terwyl my gemoed veertjiesweef saam die skoenlappers wat hemelhoog geruisloos na benede fladder.
Ek wil myself knyp. Stap ek werklik rond tussen wildepiesang en die iewat ontwykende Samango-ape? Deur die oog van my kamera kry my drome vlerke. En ek weet: “Die lekkerste tye en avonture in jou lewe is met die mense wat jy jou eie kan noem en wat dieselfde land as jy koester.”


Kommentaar
Baie nice geskryf! Ek kan Magoebaskloof sien in my geestesoog.