Kom ons treur

  • 0

My kleindogter, wat in die Republiek van Ierland grootgeword het, kom kuier en gee vir my 'n boekie Irish Poetry, geen samesteller genoem. Die gedig “Arbour Hill” deur Robert Emmet laat my so baie dink aan al die blanke boere wat nou al in ons land vermoor is, elkeen in 'n oomblik van isolasie, weg van bure en familie, deur lafhartiges wat nie 'n openlike en eerbare oorlog op 'n slagveld voer nie maar eerder vuil en skelmagtige metodes aanwend om kortstondige bevrediging af te dwing. Maar sodoende het die hele land 'n slagveld geword wat die onderwerp kon gewees het van die volgende twee strofes:

No rising column marks this spot,
Where many a victim lies;
But oh! The blood that here has streamed,
To heaven for justice cries.

Unconsecrated is this ground,
Unblest by holy hands;
No bell here tolls its solemn sound,
No monument here stands.

Maar ek kom nie agter dat daar hedendaagse poësie gemaak word van die wreedhede wat tans in ons land met die Afrikaners gebeur nie. Tog, op 31 Augustus vanjaar ontvang ek ’n e-pos van Coraine Oosthuizen, aan my heeltemal onbekend. Sy begin haar brief so:

“’n Afrikanerstem word stil soos die kiste gelyktydig afsak en die familie die 12-artikels tussen snikke deur prewel. Hier rus ’n vader en moeder, ’n huwelikspaar, ’n oupa en ouma, ’n oupa- en oumagroot. Op die foto glimlag hulle, so tussen die kroos en hul kroos. Maar vandag is hul stem stil, hul plek leeg, hul plaashuis nog toegespan met die geel onheilslinte. Groot bome, wreedaardig uit die Afrikanerbos gekap.

My reaksie is ingewikkeld, aan die een kant is ek gebroke oor die tragedie en die verlies, andersyds woedend en gefrustreerd. By die verversings, bedien by die kerksaal, sê een dierbare Boere tannie: “Waar gaan dit ophou?” Ek antwoord nie, ek knip die traan uit my oog en sluk aan die knop in my keel. Ek wou sê : “Ek weet nie ...”, want die Here weet dat ek werklikwaar nie weet nie.”  

Dit is die emosies van een van ons, iemand wie se belewenis haar noop om ’n brief te skryf en te stuur aan ’n lys onbekendes. Dis haar manier van ontlaai. Hoekom voel sy dat sy alleen is met haar smart? Hoekom kan sy nie iets kry soos ’n ode of elegie wat kunstig daardie smart namens haar verwoord nie? Is ons kunstenaars so oorhoops met hulle eie identiteit dat hulle nie meer spreekbuise kan wees vir die groter groep nie?

O waar is ons digters en sangers wat ons kan help treur oor ons dooies, wat vir ons woorde kan gee waarmee ons kan greep kry op ons verwarring, wat namens ons die wanhoop kan verklank!

Waar is die dapper Koki's wat vir Raka kan konfronteer?

Breytie Breytenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top