Kollokwium: Politieke wetenskap

  • 1

Kollokwium: Politieke wetenskap
Donderdag 4 Mei 2017: NWU (Potchefstroomkampus)

In tye van onsekerheid en onbestendigheid tree die politieke wetenskap telkens na vore as voorhoede in die verstaan van nuwe kragte en tendense. Tans bevind ons as wêreldburgers, Suid-Afrikaners en akademici ons juis in so ’n tydsgewrig van onbestendigheid. Ons aanskou die vervorming van die politieke kultuur in die Westerse wêreld, die intriges van ’n beleërde maar vasberade regime-elite op eie bodem, en die enorme uitdagings wat universiteite in die gesig staar in ’n tydsgees van radikalisme en anti-intellektualisme. As individue het ons ’n mate van betrokkenheid by en belangstelling in al hierdie verwikkelinge, maar as politieke wetenskaplikes kan ons ook bydra tot die verstaan, verklaring en uitbouing van geldige en betroubare kennis rakende hierdie fenomene.

Die uitruil en kontrastering van idees en opinies speel ’n waardevolle rol in die ontwikkeling van begrip en gevorderde kennis. Dit is vanuit hierdie standpunt dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die eerste Afrikaanse kollokwium vir die Politieke Wetenskappe inisieer. Die kollokwium poog om vir politieke wetenskaplikes, hetsy dosente, navorsers of studente in die dissipline, ’n geleentheid tot vakkundige gesprek te bied. Eweneens is dit die Akademie se wens om Afrikaanssprekendes in die dissipline deur middel van die kollokwium te bemagtig, gegewe die toenemende marginalisering van Afrikaans in die hoëronderwyssektor.

Talle van Suid-Afrika se politieke kenners kry selde die geleentheid om op akademiese vlak kundigheid in hul moedertaal te deel – hier poog die kollokwium vir die Politieke Wetenskap om op ’n gereelde grondslag juis só ’n platform te bied. Ons hoop van harte dat hierdie geleentheid tot verdere belangstelling en ondersteuning vanuit die akademiese gemeenskap sal lei sodat dit in die toekoms ’n instelling op die akademiese kalender kan word.

Wynand Greffrath

Program:

09:45

Verwelkoming: Hennie de Wet

 

Sessie Een: Suid-Afrikaanse fokus
Sessievoorsitter: Wynand Greffrath

10:00

Koos Malan, UP
Die Grondwet is nie werklik oppermagtig nie

10:20

Pieter Heydenrych, NWU
Demokrasie as brandpunt in Suid-Afrika: Gedagtes rondom die demokrasie

10:40

Denis Venter, politieke navorser en voormalige direkteur van die Afrika-Instituut van SA.
Girardin se Etiese Heksagoon: Demokratiese regering en die rol van etiek en integriteit in die politiek en die openbare lewe

11:00

Theo Neethling, UV
Die problematiek van die modernisering van die SANW en sy buitelandse rol: Van Verdedigingsoorsig 1998 tot Verdedigingsoorsig 2015

11:20

Bespreking

12:00

Middagete

 

Sessie Twee: Internasionale fokus
Sessievoorsitter: Deon Geldenhuys

13:00

Eben Coetzee, UV
Die kontinuïteit van die internasionale politiek: vanaf Antieke Griekeland tot kontemporêre Amerika

13:20

Jo-Ansie van Wyk, UNISA
Emosies in die wêreldpolitiek

13:40

Anthoni van Nieuwkerk, Wits
Imperium in imperio: Die ondermyning van die demokrasie deur die diep staat

14:00

Bespreking

 

Sessie 1: Suid-Afrikaanse fokus
Sessievoorsitter
Wynand Greffrath

Referente:

Koos Malan
Professor in die Publiekreg, Universiteit van Pretoria
Die Grondwet is nie werklik oppermagtig nie

Die een denkbeeld wat die tans waarskynlik die sterkste invloed in die staatsreg, meer bepaald die hedendaagse Suid-Afrikaanse staatsreg, uitoefen, is die leerstuk van grondwetlike oppergesag. Hierdie leerstuk blyk bykans net so ’n gewigte uitwerking op die politieke wetenskap te hê.

Die geldigheidsaansprake van die leerstuk is egter onder ernstige verdenking, aangesien daar politieke kragte is wat dikwels so sterk is dat dit die Grondwet deels in die war stuur, kragte wat by behoorlike oorweging meer beslissend as die oppermagtige Grondwet self is.

Vir sover dit inderdaad die geval is, blyk die leerstuk van grondwetlike oppergesag ongeldig te wees. Politieke wetenskaplikes behoort veral lugtig vir die leerstuk te wees, aangesien die aanvaarding daarvan hulle kan verblind vir die werklike gebeure van die politiek en gevolglik realistiese politieke ontleding kan kortwiek. Indien dit gebeur – en ek is van mening dat dit spesifiek in Suid-Afrika juis gebeur – beteken dit dat die politieke wetenskap as't ware uitgelewer word aan denkbeelde wat deeglike beoefening van die politieke wetenskap in die wiele ry. Nogtans is politieke wetenskaplikes moontlik skugter om die geldigheid van die leerstuk van grondwetlike oppergesag te bevraagteken, aangesien hulle kan meen dat hulle op die terrein van die staatsreg oortree. Dit is ongegronde skugterheid, aangesien die leerstuk eerder ’n staatsregtelike aanmatiging op die gebied van die politiek is.

Die lesing sal, onder andere met verwysing na politieke gebeure in Suid-Afrika, demonstreer dat die leerstuk van grondwetlike oppergesag inderdaad wesenlik ongeldig is, dat die Grondwet inderdaad nie oppermagtig is nie, of ten minste dat dit nouliks meer as retoriese waarde het, en dat die Grondwet inderdaad deurlopend aan veranderings blootgestel word wat vanweë die uitwerking van politieke kragte dikwels drasties is, sonder dat dit hoegenaamd in die teks van die Grondwet (as dokument) neerslag vind.

Pieter Heydenrych
Vakgroep: Politieke Studie, Skool vir Sosiale en Owerheidstudie, Potchefstroomkampus, NWU
Demokrasie as brandpunt in Suid-Afrika: gedagtes rondom die aard van demokrasie

Suid-Afrika as nuwe demokrasie bied die ideale ruimte vir die ondersoek van die aard van die demokrasie as politieke verskynsel, maar ook van wat die aard van demokrasie in Suid-Afrika moet wees. Hierdie voordrag is geïnteresseerd in die eeue oue worsteling met die konsep demokrasie, soos dit veral in die tweekantigheid van verteenwoordigende demokrasie en deelnemende demokrasie vergestalt word. Die voordrag beoog om kernelemente van hierdie twee begrippe van demokrasie aan te roer en teen mekaar op te weeg. Die vraag ontstaan dan wat die implikasie daarvan vir die worsteling met demokrasie in Suid-Afrika is. Die verwante vraag tree ook na vore, naamlik na die haalbaarheid van demokrasie in Suid-Afrika, met ander woorde of die Suid-Afrikaanse demokrasie hom kan konsolideer. Die voordrag beoog dus om van die filosofiese vrae van die demokrasie met die praktyk van die Suid-Afrikaanse demokrasie in verband te bring.

Denis Venter
Politieke navorser en voormalige direkteur van die Afrika-Instituut van SA en woonagtig in Pretoria.
Girardin se Etiese Heksagoon: Demokratiese Regering en die Rol van Etiek en Integriteit in die Politiek en die Openbare Lewe

Hierdie bydrae is ’n breë teoretiese uiteensetting van relevante konsepte, gebaseer op ’n wydlopige literatuurstudie: die essensie van demokratiese regering, die intrinsieke aard en kwaliteit van integriteit en etiese optrede, die noodsaak van deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die politiek en die openbare lewe, en die enorme uitdagings wat korrupsie vir openbare diens inhou. Duidelik verkeer die wêreld en Afrika by ’n kruispad: die politiek en openbare diens kan nie langer etiese uitdagings ignoreer of afwysend daarteenoor staan nie, hoe dit ook al hanteer word. Wat vandag in die politiek en die openbare lewe voorgehou word as integriteit, etiek, deursigtigheid en verantwoordbaarheid is grootliks afgewater. Daar is minder van ’n verwagting dat eerlikheid, openhartigheid en morele optrede sal geld, en daarom word al hoe minder ag daarop geslaan as hierdie deugde afwesig is. Die burger word gewoond gemaak aan beeldpoetsing, die glibberige uitlatings van woordvoerders, die oppervlakkige frases en eufemismes, en die verdoeseling (verskansing, geheimhouding) en vertragingstaktiek wat die politiek en die openbare lewe kenmerk. Die klaarblyklike gevolge vir ’n demokratiese samelewing en regering is nie bemoedigend nie.

Theo Neethling
Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat
Die problematiek van die modernisering van die SANW en sy buitelandse rol: Van Verdedigingsoorsig 1998 tot Verdedigingsoorsig 2015

Sedert die einde van die 1990’s was verskeie verdedigingsanaliste daarvan oortuig dat daar oormatige klem op die primêre (konvensionele) funksie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) geplaas is, en dat dit geskied het ten koste van die groeiende (internasionale) belangrikheid van die sekondêre of nietradisionele militêre rolle. Ná ’n uitgebreide proses van nasionale raadpleging het die samestellers van wat as Verdedigingsoorsig 2015 bekend geword het, in hulle finale produk erkenning gegee aan die noodsaaklikheid daarvan om die SANW se magsontwerp meer in ooreenstemming te bring met die politieke verwagting dat die SANW ’n rol in vredesteunoperasies in Afrika sal speel. Die vraag is egter of die SANW nou beter befonds gaan word om dit in ooreenstemming te bring met die blywende verwagting dat die SANW so ’n rol in Afrika sal speel, asook om ’n sleutelrol in die beoogde Afrika-bystandsmag te vervul. In hierdie referaat sal aangevoer word dat die politieke, ekonomiese en sosio-ekonomiese omstandighede nie gunstig lyk vir beter befondsingsmoontlikhede vir die SANW nie. Die rol van die SANW geniet nie tans werklik groot aandag by politici en die publiek nie en Suid-Afrika verkeer boonop in ’n ekonomiese klimaat waarin sy inwoners en belastingbetalers gebuk gaan onder lae ekonomiese groei. Hierbenewens is daar ’n hoë vlak van agterdog met betrekking tot wapenaankope wat korrupte politici tot voordeel (kan) strek. Dit wil dus voorkom asof die SANW na alle waarskynlikheid steeds met dieselfde knelpunte kan sit wat sedert die 1990's die instelling se bestaan en funksionering gekenmerk en beperkend daarop ingewerk het.

 

Sessie 2: Internasionale fokus
Sessievoorsitter:
Deon Geldenhuys

Referente:

Eben Coetzee
Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat
Die kontinuïteit van die internasionale politiek: vanaf Antieke Griekeland tot kontemporêre Amerika

Daar word vandag wyd aanvaar dat die formele bestudering én beoefening van die internasionale politiek op ’n nuwe voet staan. Die historiese oorheersing van realpolitiek, en teoretiese modelle met die belangrikheid van magspolitiek as vertrekpunt, word toenemend as anachronisties bestempel. Voorts voer liberale denkers aan dat die opkoms van die liberalisme gedurende die laat 18de eeu die aard van die internasionale politiek radikaal verander het. Daarbenewens word daar aanvaar dat die bykans universele aanvaarding van die liberale internasionale orde, verreikende tegnologiese ontwikkelinge, die magsverskuiwing van die Weste na die Ooste, en die ontwikkeling van wapens van massavernietiging die aard van die internasionale politiek verander het. Met die werk van Kenneth Waltz as teoretiese begronding, toon hierdie bydrae egter aan dat die internasionale politiek, ongeag die historiese periode of geografiese vertrekpunt, veel eerder gekenmerk word deur kontinuïteit as verandering en dat die toekoms in allerlei opsigte ’n merkwaardige kontinuïteit met die verlede sal toon.

Jo-Ansie van Wyk
Departement Politieke Wetenskappe, Universiteit van Suid-Afrika
Emosies in die wêreldpolitiek

Nuwe vakliteratuur dui op ’n hernude belangstelling in die rol en doel van emosies in die wêreldpolitiek. Daar is selfs verwysings na ’n emosionele wending in die teoretiese ontwikkeling van internasionale betrekkinge. Hierdie ontwikkelings skep die konteks vir hierdie voorstel. Die doel van hierdie voordrag is om op twee emosies, naamlik woede en vergifnis, te fokus en die voordrag sal poog om die intellektuele en praktiese nut van die bestudering van emosies uiteen te sit. Hierna volg ’n konseptuele en teoretiese uiteensetting van woede en vergifnis as emosies. Laastens word geselekteerde gevallestudies ter illustrasie aangebied.

Anthoni van Nieuwkerk
Skool vir Regeerkunde, Universiteit van die Witwatersrand
Imperium in imperio: die ondermyning van die demokrasie deur die diep staat

Enkele maande ná die verkiesing van Donald Trump as die president van die VSA word die aard van die demokrasie en gehalte van regering onder sy leierskap onder oë geneem soos nooit tevore nie. Die klag van Trump en sy raadgewers dat verskuilde nasionale sekuriteitsamptenare hom aktief ondermyn en dat die "administratiewe staat" gevolglik ontmantel moet word, laat die vraag ontstaan: tot watter mate word die politieke lewe in Westerse demokrasie deur die sogenaamde diep, verskuilde, permanente "staat binne die staat" bestuur?

Wie bepaal ’n land se nasionale politieke en sosio-ekonomiese agendas? Is dit demokraties verkose politici – die uitvoerende gesag met behoorlike oorsig deur die wetgewende gesag? En waar die verhouding versuur, word die wetgewende gesag ingespan om rigting aan te dui? Die burgerlike gemeenskap en die private sektor speel in sulke grondwetlik gestruktureerde politieke samelewings ’n bepalende rol. Of is dit ’n naïewe lees van die aard van die politiek in die konteks van die moderne Westerse staat?

Die aanbieding ondersoek die idee van ’n sogenaamde diep, verskuilde, permanente "staat binne die staat", in watter lande en onder watter omstandighede dit voorkom, en die gevolge daarvan vir die sosio-ekonomiese en politieke lewe van ’n land en sy gemeenskap. Die aanbieding sluit af met ’n blik op Suid-Afrika en die mate waartoe hy dalk onderhewig is aan die voorkeure en nukke van ’n "imperium in imperio".

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Inaggenome die toestand waarin die land, insluitende die plaaslike akademiese lewe, sedert 1994 verval het, is dit verblydend dat daar uitsluitlik Afrikaanse voordragte by hierdie byeenkoms gelewer gaan word. Terloops, wêreldburgerskap is idiomatiese beeldspraak of wensdenkery. Dit is onmoontlik om burgerskap van die wêreld te verwerf. Ek hoop dat ons nooit met 'n wêreldstaat opgeskeep sal sit nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top