Titel: Koljander
Skrywer: Carié Maas
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798159265
Koop Koljander by Kalahari.com.
Om dit wat rou is te verwerk staan op veelvuldige vlakke sentraal tot Carié Maas se vollengte-debuut. Ondanks ’n enkele bestanddeel wat minder na hierdie resensent se smaak is, is Maas se Koljander ’n uiters geslaagde debuutpoging, ’n waardige Debuutwenner van Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012. Die roman behoort in ’n wye smaak te val, terwyl daar ruimskoots vir die fynproewer voorsiening gemaak word.
Die vroulike en hoof-fokalisator van die roman is Karen, ’n liggeraakte, kunssinnige ontwerper wat pas geboorte geskenk het aan ’n babaseun, wat sy deurgaans Pikaninitjie noem. Saam met haar boukontrakteur-man, Ben, sukkel die paartjie om kop bo water te hou in die land se resessie-tydperk na die 2010-Wêreldsokkerbeker.
Sonder enige oorbodige sentiment of simboliek maak Maas dit gou duidelik dat daar heelwat agter die skerms aan die gang is. Karen se verlies aan onskuld en die wrede manier waarop haar kinderdae van haar “gesteel” is, word treffend uitgebeeld.
Ons leer Karen alte goed ken – haar vrese, onsekerheid, angs oor die toekoms en verlede. Dit grief haar dat haar atletiek-prestasies nooit behoorlik gevier was nie; sy word steeds ontneem van publieke tentoonstellings van liefde en geneentheid. Selfverdediging vier hoogty.
Alhoewel die koms van Karen en Ben se eersteling met die verwagte opgewondenheid gepaardgaan, is die ooievaarsbesoek ook die katalisator vir ’n noodgedwonge en uiters traumatiese geestesreis wat Karen se moeilike verhouding met haar ouers, Hendrik en Bertha, en die skielike dood jare tevore van haar gestremde en huisgebonde broer, Roux, aan die kaak stel.
Hierdie geestesreis is waarop die roman se fokus geskoei is: die manier(e) waarop gewone mense sin maak van uiterste verlies, die fraktuur tussen skuld en boetedoening (veral in die gesinsopset), die waarde van stilte en selfondersoek, die verwikkelde verhouding tussen die patriargie en die bemagtiging van vroue. Die roman dien ook as huldeblyk aan die innerlike krag en deursettingsvermoë van die individu.
Die manlike fokalisator van die roman is Karen se pa, Hendrik Verhoef, ’n afgetrede fisikadosent wat onverwags op sy oudag op die drempel van smart en ellende gedompel is met die geboorte van sy kleinseun, ’n ironie wat nie ongesiens verbygaan nie. Maas is werklik knap in die manier waarop sy met deernis en oorgawe in die hart en siel van die ou man inklim. Veral treffend in hierdie opsig is terugflitse in gedagtevorm na dae van klasgee, oomblikke by die eetkamertafel, ’n briljante tafereel met Hendrik en Karen in die midde van ’n storm in Mali, en die roman se sensitiewe slot.
Karen se vriendskap met haar ontwerpersvriend Dominique, haar buite-egtelike verhouding met die pediater Michael Huizer, en die opkoms van die bourekenaar Oumu Toure uit Ben se verlede dra by tot die wendings van die verhaal en dra deurgaans by tot die tekstuur van die roman wat intrige-verwikkelings betref. Op die keper beskou is dit egter Maas se besluit om Karen te laat deelneem aan ’n kompetisie om Afrika vanuit ’n vars en meer dinamiese oogpunt te beskou, die bestanddeel wat die roman uiteindelik so besonders daar laat uitsien.
Karen besoek Mali in die tweede helfte van die roman en (sonder om enige besonderhede te verklap) word dit dan vir Maas moontlik om haar deeglike navorsing oor onder meer Mali in die weefsel van die prosa in te bed. Verwysings na Mali se geskiedenis, kinderliedjies, en orale tradisies van storievertelling – tesame met speseryroetes en pelgrimstogte – word soomloos in die teks ingewerk soos borduursels op ’n ontwerperstapyt.
Koljander verkry mettertyd ’n amper magiese filosofiese element en postkoloniale dimensie wat nooit die aandag aflei van die sentrale tragedie aan die hart van die roman se senuweestelsel nie.
Karakterisering is een van Koljander se groot sterkpunte. Karakters word deurgaans driedimensioneel en met hope deernis uitgebeeld – veral die interaksies tussen Karen en haar pa, en die beskrywings van die sorg vir Karen en Ben se baba deur haar ouers kompliseer enige vereenvoudigings jeens die optrede van die karakters.
Dis geen toeval dat Maas se hoofkarakters ’n kenner van fisika, ’n boukontrakteur en ’n ontwerper is nie. So kan verwysings na fisika en genetika, mediese wetenskap met grafiese en binnenshuise ontwerp skouers skuur, terwyl hierdie elemente die skrywer ook toelaat om uiteenlopende maniere om die wêreld te beskou bymekaar te bring, om verskillende stemme te laat hoor.
In hierdie opsig is dit ook belangrik om Bertha Verhoef, met haar chemiese agtergrond en liefde vir tuinmaak, se agtergrondstem te meld. Dis sonder twyfel ’n doelbewuste besluit deur Maas om Bertha se stem te demp; soveel sterker om haar reaksie op persoonlike trauma en verlies en haar ondergeskiktheid aan haar man in ’n patriargale opset te belig. Daarbenewens word die kort, suutjiese sinne van Bertha met die gemeenplasige praatstem van Dominique afgewissel, en die verdraagsaamheid en sagtheid van Ben met die korter-van-draad Oumu.
Koljander is ’n skrander skepping wat die leser daaraan herinner dat die stilte ’n “skuiling” is, “nie ’n aanklag nie”. Hierdie stelling word dan mettertyd aangevul deur geloofwaardige dialoog wat insig verdiep en uiteindelik dien as vertelling en ’n soort “vertaling” van gedagtes eerder as blote beskrywing.
Maas hou die prosa gestroop. Haar skryfwerk is ook liries met tye. Leesbaarheid word nooit opgeoffer nie, alhoewel daar hier en daar betoog gemaak kan word teen die opeenhoping van retoriese vrae in die handeling. In die geheel beskou is die roman egter slim gestruktureer en vind die verskuiwings in perspektief en fokalisering op gepaste oomblikke plaas.
Die roman se titel word beskryf as die “anker van soet poedings deur die bitter saad” (67). Die spreekwoordelike “vinkel en koljander” word geaktiveer, asook die tradisionele boerewors en biltong en die voorafgemelde speseryroete. Dit verwys ook na die koljander-koljander-kinderspeletjie.
Wat my as leser egter bybly, is die manier waarop Maas die “vinkel” en “koljander” in haar resep – die uiteenlopende kleure en geure van menswees, die lief en leed waarvan sy skryf waaraan ’n mens eenvoudig nie kan ontsnap nie – op so ’n manier vermeng dat dit iets nuuts en toegankliks vir die leser bied sonder om kompleksiteit prys te gee. Anders gestel: Maas se kunstigheid hier is om tekens van kunsmatigheid uit die weg te ruim.
Koljander is ’n roman van tekstuur en fyn skakering, ’n eietydse, smaakvolle, geurige dis. Sit gerus aan.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

