
Foto: Canva
kolibrie en walvis
meet hom maar vir grootte aan ’n perdeby
– soos die swart en geel klein messelaar –
want hierdie soetsnawelvoëltjie is tog vreemd vir ons
(vleesloos virtueel is ’n effense idee van sy naam te kry)
met sy diep meso-amerikaanse bewussyn
speel hy veerlig fiks oënskynlik konsertina
– geniet so sy prismatiese vastrap in die lug –
(voor elektrohommels nog se donker genesis)
heerlik oorhoops met die spektrum van lig
flits sy veertjies hul kleurkonsternasies
teenoor hom op die papier
kom swem kolossaal die blou spermdier
in hierdie genadelose geologiese tyd
nou minder mobiel
wurg hy in die soutwater voortaan ton op ton plastiek
hy bly nog die gewigtige hoof van geheue in die wye seë –
’n statige mnemosune wat onwillig uitsterf
(sy familie aan ons kus gestres word ook doodsiek)
kom, vergelyk weer ’n slag die gebeente
van die klein kolombyn
met die blouwalvis s’n:
hulle deel duidelik dieselfde oeroue prinsiep
volmaak volgens skaal
en praat so saam met ons onderliggend ’n enerse voorverbale taal

