En nou staan hy weer hier voor haar. En sy wéét: net nog ’n vervaldatum. Sy sien die bruin, manlike vingers wat ritmies op die rooi motorfietshelmet klop, en sy sien die blonde hare, omgekrap deur die wind en die helmet en wie weet wat, en sy sien die blou oë wat effens geamuseerd reg in haar verleë gesig inkyk.
Soos die hadida se geskreeu op die plot. Opwaartse noot, lag haar altyd uit oor al die vervaldatums in haar lewe. Alles wat goed is in haar lewe, raak muf en verrot. Sy uitkoggelende stem bly elke oggend vars en nuut: skreeu en klap sy vlerke wyd en hoogmoedig oor haar sinkdakhuisie met al die krake in die mure en skewe hek en die krokbakkie met sy baie stampe en geroeste sinkplate wat die enkelkoei afkamp van die stofverwaaide erf.
Koekiesvlei, Slooploop, Bakgatrant: die drie spogplase waarop sy haar reis met al sy vervaldatums begin het. Ma, die hardwerkende, gesofistikeerde vrou van dronkgat Koos. Hy het ryk geërf, die mooiste meisie in die kontrei uitgeslaan en toe die pa geword van die oulikste sproetneusdogtertjie. Maar dit is net hier waar al sy suksesse geëindig het, want vir die bottel kon hy net nooit sê dit is nou genoegnie.
Ma het hard probeer: die melkboerdery aan die gang gehou, haar skaam dogterjie opgevoed met die fynste denkbare opvoeding en probeer regmaak waar Koos orals met sy dronkbas verbrou het.
Karlientjie was jaar na jaar Knoppieslaagte se toppresteerder, maar hoe groter die prestasie, hoe stiller het sy geword. Prestasie bring venyn. En venyn het verwoesting gesaai in die hartjie van mooi dogtertjie, wat, net soos haar ma, die dinge probeer doodleef het waaroor dronk Koos weer die dorp aan die praat gehad het.
En die mooi dogtertjie het ’n beeldskone tiener geword, met lang, bruin hare wat onder op haar skraal ruggie gekrul het. Maar reeds as tiener kon sy niks meer wys as ’n mooi gesiggie en goeie punte nie. Sy was so stil en afsydig dat sy niks maats gehad het nie, nooit ’n leiersposisie bekleë het nie, nooit aan enige skoolaktiwiteite deelgeneem het nie … net maar altyd “die mooi, vreemde kind van dronk Koos”. (En op dié stadium het Koos ook nie meer één van sy spogplase gehad nie. Weggedrink en opgedobbel.)
Terwyl haar maats die lewe, die platteland se sport en partytjies en natuurskoon geniet het, het sy dag en nag stil, lewensmoeg in haar plothuis-armmanskamer gesit en droom oor hoe sy eendag gaan losbreek van hierdie stigma, hierdie plék, hierdie mense … om êrens eendag oor te begin.
Toe sy een middag in die sinkdakhuisie se skadu staan en haar eie twee dogtertjies met skelpienk aalmoestruitjies langs die leë hondebak sien speel, het sy besef: ek het toe nooit losgebreek nie.
Hulle het álles verloor en Ma moes oor begin op ’n verwaarlooste, nikswerd-huurplot en dronk Koos se maandelikse ongeskiktheidspensioen. En net dalk sou Ma nog die wa deur die drif getrek het, maar nee, hier kom haal die bure se seun mos eendag die maand se huurgeld …
Hy staan daar op die rooi stoep, so vol vriendelikheid en selfvertroue. En die hadida skree in die agtergrond. En sy kry skaam oor haar kaal voete en die netjiesgepakte note wat nie eers in ’n koevert is nie … En toe, terwyl hy wegstap, nooi hy haar om die volgende dag saam met hom Langkop te gaan uitklim.
En sy raak verlief, standerd agt. En ontnugter toe sy die eerste keer agterkom hy drink. En woedend vir Ma wat haar oë uithuil oor Fasie. Gun Ma haar dan ook nie eers een maal in haar lewe bietjie jongmensgenot nie? Moet sy altyd soos ’n melaatse by die sinkdakhuisie sit en treur oor dit wat dronk Koos hulle aangedoen het? En dronk Koos, verbeel jou, wat Fasie veroordeel oor sy drankgebruik!
Standerd nege: Ma wat niks sê toe die tyding kom nie, omdraai, haar kamerdeur saggies toemaak, om nooit weer uit te kom nie. Net die sonbesies wat geskok stilbly, die hadida wat opvlieg en skree, toe die skoot klap. Net sy en dronk Koos wat verbouereerd oorbly om die nuwe bondeltjie, wat vroegjaar sou kom, te versorg. Ja, Fasie hét met haar getrou, die plot hét hulle s’n geword, maar Fasie se verwyte oor sy verwoeste lewe het net nooit opgehou nie.
Die dag toe haar pragtige tweeling-dogtertjies gebore is, het sy vir die eerste keer gevoel dat sy nou opgewasse is vir die hadida se tergende geskreeu. Vir een maal in haar lewe sal sy self sorg dat daar nie weer ’n vervaldatum aanbreek nie! Sy het die ou gordyne afgepluk en aanhou neul by Fasie vir geld vir stukkies lap vir nuwe blommetjiesgordyne. Sy kon deur die kombuisvenster na Langkop kyk sonder om weer rooi te word van skaamte. Daar was nuwe hoop in haar lewe …
Totdat sy en Fasie een middag afkom op dronk Koos wat met ’n angsbevange, vierjarige Tanya peuter … en Fasie wat omdraai met ’n “Nee, hel, hier moet ek wegkom …”, en sy wat alleen oorbly met twee histeriese dogtertjies terwyl sy vir oulaas kyk hoe dronk Koos deur die skewe hekkie slinger. En die hadida wat haar met opwaartse note uitlag oor haar blommetjiesgordyne.
Haar oë beweeg skaam van die motorfietswiele na sy vriendelike blou oë. Sy gryp-gryp na haar vlegsel hier agter haar rug en voel die goedkoop katoenbloesie nat word onder haar arms.
Daar is geringe kans dat sy tog uiteindelik die bose kringloop van vervaldatum op vervaldatum kan verbreek. Na haar en Fasie se egskeiding het sy die werk gekry by oom Mike se apteek. Die geldjie is maar min, maar saam met Fasie se effense onderhoudsgeld oorleef sy en Tanya en Wanja nie te sleg nie. Die krokbakkie bring hulle af en toe waar hulle wil wees (dis nou te sê as hy nie langs die pad gaan staan soos vandag nie) en die plot met sy sinkdakhuisie is darem nou haar eiendom. Met Lara, hulle koei, se melk verdien sy ook hier en daar ’n sent of twee om in die spaarbottel te gooi. Een van die dae kan die twee pragtige sproetneusies hulle pienk uitgerekte truitjies wegsmyt en sal sy vir hulle by Kashim se winkel splinternuwe truie koop.
En nou staan hy hier soos ’n wafferse vennoot van Hadida en nooi haar om op sy motorfiets te klim sodat hy haar kan huis toe vat. Hy sal later die bakkie insleep. En sy wéét as sy vandag aan hierdie man se lang, lenige lyf vat, wag daar net nog ’n vervaldatum … Want sy oë sê klaar dat hy haar fyn, vroulike gesiggie vir hom toegeëien het, dat hy haar nie net gaan help en haar nie weer gaan sien nie. Sy sien die swart leerbaadjie, die denimbroek wat kwaai op die knieë deurgeslyt is en sy wéét, sy ken die soort. Aantreklik, vry, sorgeloos … swerwers wat elke oomblik van die lewe geniet, elke nuwe dag aangryp, maar met dieselfde beslistheid weier om verantwoordelikheid te aanvaar.
Skool toe, apteek toe, skool toe, kinders aflaai by die skewe hekkie, terugjaag apteek toe, terug sinkdakkie toe, kos kook, opruim … en eensaam wag vir die laaste vragmotor om op die grootpad verby te ry. Skelpienk truie, goedkoop uitgetrapte skoene, geroeste sinkplate, bakkie met ’n rokende uitlaatstelsel en gladgeloopte bande, verleë voor ander staan vir gunsies.
En hier wag tydelike verligting op haar. Saam met hierdie aantreklike man op die motorfiets klim en jaag terwyl die wind haar hare hare losruk, haar aantreklike dye vir die wêreld vertoon onder haar wapperende romp, haar gloeiende wange koel word en die hadida se geskreeu verdof onder die aanhoudende gebrul van die kragfiets.
Wanneer haar oë eindelik syne ontmoet sê haar lippe: “Dankie, dit sal vriendelik wees”, maar haar gewete gil: “Hoe durf jy? Nee!”
Hy sluit die bakkie vir haar toe, loop om, pas die helmet op haar kop, laggend oor die klein koppie wat wegraak in die groot stuk veselglas. Sy voel hoe hy vir ’n oomblik verstyf wanneer haar skraal arms om sy lyf vat.
Hy ry soos sy beduie het en hou voor die gekraakte sinkdakhuis stil. Skielik lyk die reënverbleikte agterdeur vir haar nóg mankolieker, die lendelam sitkamerstoel nóg lendelammer, maar hy nooi homself vir koffie.
Die koffiedrink word twee ure … die twee ure halsoorkopverliefdheid … Hy het net daardie manier om dinge uit haar te trek en dit waaroor sy vir jare skaam was, na ’n lewensprestasie te laat voel. Sy voel veilig by hom en angsbevange om van sy warm, hartlike gesels afskeid te neem … en daardie blou oë wat met sy sagte kyk so aan haar siel raak!
Tanya, Wanja, julle ma sal maar altyd op die paadjie met die vervaldatums bly. Dit is in haar bloed, in haar familie, in haar menswees. Sy kan nie anders nie. Ek is jammer, ek wou so graag vir julle ’n beter lewe bied – julle sal nooit weet hóé graag nie. Maar ek kan nie. Na vandag weet ek dit is my ewige lot. ’n Brandarm biker, met laggende oë, sit hier voor my en al wat ek van hom weet is dat sy naam Michael is en dat hy nie oor homself praat nie, dat hy ontsettend aantreklik is, dat hy baie van my hou en soos elke tipiese swerwer my netnou gaan omhels en soen … dat ek gaan toegee … en dat die hadida met sy luide koggelnoot my vervaldatumbestaan weer gaan uitlag …
Sy bloos wanneer sy agterkom dat hy haar ’n vraag vra en dat haar gedagtes elders was en dat sy nie weet wat om terug te antwoord nie. Sy oë volg haar tydelik-verwarde gesigsuitdrukking geamuseerd. “Vroumens van alle vroumense!” dink hy, maar herhaal sy vraag: “Mag ek asseblief jou foon gebruik?”
Tipies. So tipies van die swerwers – wil altyd jou foon gebruik; maar nogtans is sy verleë as sy erken dat sy nie ’n foon het nie.
“Ek is net bang my pa raak bekommerd oor jou as jy nie teruggaan apteek toe nie. Ry gou saam met my dat ons aan hom gaan verduidelik …”
Sy hoor niks verder nie. Michael Van Rensburg! Oom Mike se seun, die nuwe dominee van die dorp!
Haar oë beweeg verby sy sy verduidelikende lippe, verby die blommetjiesgordyne, na Langkop, waar die hadida nou-nou gaan skree. Dominee Van Rensburg!
Sy voel skielik lus om uit te hardloop en uit haar maag uit, sonder een keer se ophou, vóór Hadida dit kan doen, oor die plot en aangrensende plase en koppies met ’n alleroorheersende noot te gil: “Hierdie een het nie ’n vervaldatum nie!”
Maar sy voel sy sagte aanraking aan haar elmboog …
Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.

