Koffiemoer

  • 0

Koffiemoer

Opdrifsel chaos aan my koppiekant.
Pap, nat en aromaloos.
Moerkoffie oorskiet spatsels
voorspel van die lewe en die hel.

Ek staar na die brood in die oond.
Hoor dan jou voetstappe
en wag vir die deur  om toe te hel,
en die brood om plat te val.
Die spook van bygelowe
laat my armhare rys,
terwyl my moergolwe in my kop weergalm.

Tussen woedewalms deur vra ek
Waar was jy?

Uit gewoonte lig jy die koffiepot op.
Moerdreksels drup in jou bekken in.
Waar’s die koffie?

Dis met die dat ek nader loop,
jou moer optel en
dit met gekkewaan teen die muur slinger.
Glasskerwe, skokgolwe.
en die brood in die oond finaal dood.

Beide van ons staar
na die skrif aan die muur
Duidelik uitgespel.
In koue koffiemoer.

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top