Koffer in Berlyn – Essays oor kabaret

  • 0

Titel: Koffer in Berlyn
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Uitgewers
ISBN: 9781869198305

 

 

Koop Koffer in Berlyn by Kalahari.com.

Hennie Aucamp is 'n uitnemende kenner van die kabaret en hy het wye ervaring binne die gebied, veral ook as die skrywer van kabaret- en verwante tekste. Inderdaad getuig hierdie samestelling van essays oortuigend van Aucamp se kennis en betrokkenheid.

Die bundel is saamgestel uit bydraes van Aucamp uit 'n groot verskeidenheid media en geleenthede: baie uit dagblaaie, uit tydskrifte soos De Kat en Insig, uit artikels op LitNet en uit toesprake en lesings voor groepe mense. Dadelik, en onvermydelik, 'n uiters hibridiese aanbod. Maar inderdaad vrygewig en gul, en nêrens probeer die skrywer 'n bepaalde gebied op die agtergrond skuif of uitsluit nie. Hy stel dit duidelik dat dit nie in die eerste plek 'n akademiese geskrif is nie, maar eintlik 'n gesprek met lesers wat 'n belangstelling het in kabaret, en vir kabaret-entoesiaste. Vir hierdie lesers is daar baie inligting en insigte, op 'n intelligente vlak aangebied, en só gelees, slaag die bundel voortreflik. Die leser wat 'n akademiese ondertoon soek, vind ook genoeg tot bevrediging, maar met sekere voorbehoude.

Die gebruik van die woord liedteks vir kabarettekste en ook vir die tekste van populêre liedere is 'n groot vonds – liedteks bedui dus 'n genre op sy eie. Die woord word egter ook 'n tweesnydende swaard, want dit verwyder die liedteks van die genre van digkuns, poësie. Aucamp trek hierdie onderskeiding nie sterk genoeg deur nie, en die leser staan dikwels effens verbaas oor wanneer 'n liedteks 'n liedteks is, of wanneer dit aspireer tot die titel van gedig. Laat ons maar die begrip poësie in hierdie bespreking buite rekening laat – dit word so maklik pretensieus.

Die deurlopende wins van hierdie versameling essays is die elegante taal en styl van Aucamp. Aucamp is van altyd af een van die fynste stiliste in Afrikaans. Hierdie kenmerk van die skrywer is net so sterk in hierdie essays soos dit in sy hoogstaande kortverhale is. Die ander deurlopende faktor is die persoon van Aucamp self. Enersyds kom dit na vore uit sy eie liedtekste wat aangehaal word; andersyds uit die aard van die essay as literêre soort wat inherent 'n ek-spreker met sy/haar eie opvattinge sentraal stel. Hierdie wesensaard van die essay as genre kan ook tweesnydend funksioneer: aan die positiewe kant bring dit eenheid in die aanbieding, aan die negatiewe kant bring dit oorbeligting van die skrywer.

Vanweë die lang tyd waarbinne die essays ontstaan het, en as gevolg van die verskeidenheid van media waaruit dit geneem is, toon die bundel weinig eenvormigheid of samehang. Dit bring ook mee dat daar 'n konstante sirkulering en hersirkulering van dieselfde verwysings en name uit die kabaretbedryf dwarsdeur die bundel loop. Dit is ook die geval met sirkulerende terme/begrippe soos flaneur, cruiser en voyeur wat geleidelik 'n dowwe dreun word met die moontlikheid dat dit selfs pretensieus kan aandoen. Die grootste struikelblok met so 'n diverse samestelling is egter dat baie verwysings en verduidelikings herhaal word. Dit is onvermydelik wanneer verskillende lesers en luisteraars telkens die "gehoor" vorm. Met 'n kenner soos Aucamp aan die woord is dit 'n groot jammerte dat hierdie bundel nie intensief geredigeer en tot 'n eenheid gebring is nie, en met so 'n dissipline sou die waarde van die bundel net soveel meer gewees het.

Koffer in Berlyn bied 'n uiters ruim oorsig oor die aard van die liedteks, insluitend die kabaretteks, wat deel van die breër begrip vorm. Die geskiedenis van die kabaret word deeglik gedokumenteer, en met aanduidings van ander bronne bied dit uitstekende studiemateriaal. Dit lees gemaklik, en deur kundige hantering van tekste en inligting oor vertolkers kry die leser 'n insiggewende en eintlik verstommende beeld van hierdie besondere kultuurdomein. Aucamp bring die teks en die agtergrond, sowel as die omstandighede waarbinne kabaret gedy en funksioneer, tot 'n sinvolle simbiose. Belangrike historiese agtergronde, soos die Weimar-tydperk, die Holocaust en die Entartete Kunst (ontaarde kuns) word deel van die boeiende mosaïek van die kabaret-kultuur en -funksie. Uit die aard van kabaret word sterk klem gelê op die erotiese aspekte en die satiriese elemente, wat veral die politiek betrek. Die skrywer skep baie suksesvol die denkwêreld en die dekadente atmosfeer waarbinne kabaret geken en ervaar word. Ook politieke ondermyning is deel van die dekadensie, al is die doel daarvan, soos met alle satire, om ongerymdhede te ontbloot eerder as om in die skerp lig daarvan 'n dekadente politieke bestel wreed en ongenadig aan die kaak te stel. Die krag van kabaret lê uiteindelik in sy vermoë om die dekadente deur 'n eiesoortige dekadensie te ontluister. Hierdie bundel essays slaag volkome daarin om hierdie konsep duidelik te maak.

'n Vraag van meer akademiese aard is of hierdie essays nie te gulhartig is om vir 'n verskeidenheid van tekste 'n tuiste te bied nie. Kan 'n roman deel wees van die landskap van die kabaret, of kan populêre Afrikaanse sangers se liedtekste werklik 'n klassieke dimensie verkry? Die grense van die begrip kabaret kan nie aan al hierdie uitinge so 'n status toeken nie. Dit is hierdie aspek van die bundel wat uit balans val as liedteks en kabaret nie baie duidelik van mekaar onderskei word nie. Heelwat van die tekste van sangers soos Theunis Jordaan, om maar een te noem, is populêre of kwasifilosofie. Wat dit gemeen het met kabaret, is die clichés. Ook kabaret steun op clichés en ritmiese herhaling. Maar hierdie liedjies, soos ook die werk van Koos Kombuis en David Kramer, haal nie werklik die kategorie van kuns, of soos Aucamp suggereer, die aansien van gedig nie. Die bespreking van 'n liedteks van Deon Opperman in verhouding tot NP Van Wyk Louw se gedig “Die beiteltjie" maak dit duidelik dat die term gedig nie op albei van toepassing is nie. Opperman bly steek in die gewone; Louw bereik kosmiese moontlikhede. Die uitgangspunt dat "Die beiteltjie" primêr op die krag van die woord of die taal of die letterkunde dui, word in Louw se bundel Tristia ontken. In "Die beiteltjie" is die spel van die kind voorop; so ook in "Die wind in die baai het gaan lê" in Tristia. Dit sê nie dat 'n gedig een betekenis het nie; dit belig hoe prekêr dit is om tekste uit verskillende literêre sfere te vergelyk.

'n Ander akademiese vraag is onvermydelik: Kan 'n mens volledig oor liedtekste skryf sonder om ook die musiek wat daarmee saamgaan, te betrek? Die kabaretteks alleen is nie kabaret nie; eers binne die eenheid van teks en musiek is die werklike waarde te bereken.

Dit bring my terug by die aard van teksontleding, waar die akademiese invalshoek eintlik nie maklik ontbeer kan word nie. Maar die kabaret-entoesias sal hieroor geen hoofbrekens ervaar nie.

Op die gevaar af om te veel op dieselfde aambeeld te slaan, is dit tog nodig om sekere uitsprake van nader te bekyk. Op bl 42 staan daar: "Kabaret kan laat lag en huil, maar bowenal leer dit die mens wat 'n belangrike oorlewingstrategie 'n eie ironiese lewensruimte is." 'n Goeie uitspraak, wat egter verder strek as die medium van kabaret, maar vra dit tog hoe 'n "eie ironiese lewensruimte" verkry word? Beteken dit volledige assosiasie en instemming met die liedteks? Beteken dit distansiëring waartoe die teks die hoorder lei? En dan sou 'n verdere vraag wees: Hoe kan die kabaret wat "seks as skering en inslag" het, hierdie distansie meebring?

Daar is verskeie stellings op sekere plekke in die bundel wat op ander plekke eintlik weerspreek word. Weer is dit die gevolg van losstaande essays wat binne een konteks en ongeredigeerd gebundel word. In dié verband het die volgende stelling (109) vreemde konsekwensies: "Koos Kombuis word met Raka – die roman die Etienne Leroux van sy geslag, en sekerlik is hy die eweknie van Leroux in die groot apokaliptiese tonele." Die deurlopende kwelvraag bly: Waar lê die grens tussen 'n liedteks of 'n kabaretroman en groot letterkunde? Dit sal maar onbeantwoord moet bly, want die kabaret-entoesias en die literêre wetenskaplike sal hieroor steeds anders dink. Dus: "Laat ons leer ironies leef, en die liefde hou."

Die bundel lewer verskeie juweel-essays op. Die essay oor Lili Marleen is uiters insiggewend en vee wanopvattings uit die weg. Nog 'n pragtige essay is die titel-essay "Koffer in Berlyn". Met hierdie soort essays is die kenner Aucamp op sy veiligste terrein. Die vergelyking tussen die twee musicals Cabaret en Chicago is 'n uitstekende uiteensetting. In hierdie essay kom die verskil tussen kabaret en populêre liedjie in goeie reliëf. Die “Raka-diskoers” is interessant, maar as literêre essay het dit groter uitbreiding nodig om die tema werklik tot sy reg te laat kom. 'n Belangrike essay, op die rand van die kabaret-tema, is "In 'n ander sleutel: Die Gay liedteks in kabaretverband". Dit is 'n goedgefundeerde artikel, nie soseer 'n essay nie, en stel die vraag of die gay-publiek werklik 'n gay-kabaret sal wil hê. Aucamp reken dat kabaret reeds "die idiosinkrasieë van 'n derde bewussynstroom (absorbeer)". Dit is 'n vraag vir verdere ondersoek, aangesien die siening van gay-wees beduidend verander het in die jongste tye. Die vraag is of baie gay mense hulle nog sou wou verbind met wat Aucamp beskryf as "die erotiese ambivalensies en ironieë wat die gay-publiek so na aan die hart lê". Met sosiale verandering en verandering van gay-leefstyle kan die milieu van "subkultuur" wat deur die kabaret onderskraag word, nuwe denke inlui.

Wat sterk opval in die bundel, is die onderliggende salon-atmosfeer. Dit word 'n weergawe van liedtekste, erotiek, randgevalle wat dobber tussen populêr en kuns, en 'n wêreld in die skadukant van letterkunde. Ingeslote in hierdie sfeer is ook skilderye en beeldhouwerk wat hierby inpas en wat naaktheid vooropstel. Hierdie waarneming wil geensins die bundel se doel verminder of waardebepalend wees nie. Trouens, dit is 'n uiters welkome toevoeging tot literatuur oor die liedteks en die kabaret, en met Hennie Aucamp wat sy uitgebreide kennis oor hierdie en verwante onderwerpe so stylvol met sy lesers deel, is dit ook 'n besonderse leeservaring. Ook laat dit ruimte vir verdere navorsing.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top