Koesnaatjies vir die proe: speelse, spulse en stukkende verse

  • 0

Titel: Koesnaatjies vir die proe/Palindroom
Skrywer: Joan Hambidge
Uitgewer: Genugtig!
Prys: R139
ISBN-nommer: 9780980260649
Aantal bladsye: 250

Klik hier om die boek te bestel by kalahari.net.

? Mens kan nie help om te wonder hoe jy die nuwe Koesnaatjies vir die proe/Palindroom van Joan Hambidge op die rak moet sit nie: die omslag kondig voor en agter twee verskillende titels aan. Ook is daar voor en agter dieselfde ontwerp en dieselfde verklarende onderskrif: "Met hierdie teks word die Januskop van Joan Hambidge gedemonstreer: enersyds parodies soos in die bundel Koesnaatjies vir die proe en andersyds ernstig in ? roman soos Palindroom".

Vir diegene wat redelik bekend is met die werk van Hambidge, val die verwysing na die "Januskop" nie vreemd op nie. Reeds in Ruggespraak (2002:42) skryf sy: "die digter het ? Januskop: enersyds betrokke geliefde; andersyds verwyderde skriba"; en in die gedig "My ouers" (Lykdigte 2000:44; Dad 2006:15) sê die spreker: "die Januskop kyk terug na wat was; die ander sy vooruit na dit wat woorde kon vermag." Janus is die hekwagter of god van aankoms en vertrek in die Romeinse mitologie van wie se naam die naam van die maand Januarie vermoedelik afgelei is. Hy word gewoonlik met twee gesigte wat in teenoorgestelde rigtings kyk, uitgebeeld en simboliseer dikwels die oorgang van verlede na toekoms.

Aansluitend hierby is die titel Palindroom (wat ook gelees kan word as "pal in droom"), wat verwys na ? simmetriese sekwensie, dit wil sê, ? woord of sin wat van voor sowel as van agter gelees kan word. Wat Hambidge moontlik hiermee te kenne wil gee, is dat enige sy van die twee-in-een boek eerste benader kan word, omdat dit tog dieselfde resultate gaan oplewer. Ek fokus egter in dié resensie slegs op die bundel.

Die bundeltitel Koesnaatjies vir die proe speel kennelik in op Leipoldt, alias KAR Bonadie, se Polfyntjies vir die proe en is reeds ? aanduiding dat daar heelwat intertekste in die gedigte voorkom. ? Koesnaatjie is ? klein, hutvormige vetplant waarvan die vlesige blare eetbaar is. Die woord koesnaatjie word nie gereeld in die spreektaal gebruik nie en kan moontlik seksuele konnotasies vir sommige mense hê. Ter aansluiting hierby word die gedigte in die subtitel as "Speelse, spulse & stukkende verse" voorgehou. Dit word in die inhoudsopgawe ook "snitte" genoem, wat ? aanduiding kan wees dat Hambidge die leser daarop voorberei dat daar in hierdie bundel geslag en geproe of geëet sal word.

In die eerste gedig, "Eerste nag" (7), proe die spreker die "pedantiese tong" van "Mevrou Straight and Narrow". Dié gedig is die voorloper van heelparty ander gedigte in Koesnaatjies waarin die (vroulike) spreker, soos ook in baie van Hambidge se vroeër bundels, buite-egtelike verhoudings aanknoop. Die owerspelige, of owerspelerige, gedigte verteenwoordig die "speelse" verse waarvan daar in die subtitel melding gemaak word. Van hierdie tipe verhoudings sê die spreker in "The winner takes it all" (26): "Ek ken die spel." Soms word hierdie spel ook, aansluitend by die ontwerp van die omslag, gelykgestel aan ? kaartspel, en spesifiek aan "Strip poker" (38). Saam met die speelsheid wat daar egter heers tydens die aanvang van ? verhouding, is daar ook dikwels dinge wat reeds op die onvermydelike beëindiging daarvan dui. In "Eerste nag" is dit die verwysing na "whiskey-on-the-rocks". Vir die gereelde Hambidge-leser is dié verwysing ? aanduiding dat die vrede nie te vertrou is nie en die "jagsheid vir Mevrou Straight and Narrow" slegs tydelik is. So ? leser sal moontlik onthou van die verliefde paartjie in die bundel Geslote baan (1988:31) wat suig aan ? whiskey-on-the-rocks, "? voorspel tot die liefde se verloop: spel tot eindelose hel?", en die gedig "Love on the rocks" in Kriptonemie (1989:32). ? Gedig met dieselfde titel as laasgenoemde verskyn in Koesnaatjies ook in "Affaire: ? reeks" (65), waar die geliefde se man die spreker, en derde wiel aan die wa, se whiskey-rekening in die geliefde se handsak uitsnuffel en die ontdekte liefdesdriehoek stopgesit moet word.

"? Skip is ? verhouding sinkend" (67), lewer die spreker kommentaar hierop. Soos in bykans al haar vorige bundels openbaar Hambidge in Koesnaatjies ? fassinasie met die verhouding as die Titanic waaroor "ysberge gevaarlik uittroon" (66). Soos in ? gedig in Donker labirint (1989:18), haal die spreker Paul Válery aan en word die verhouding gelykgestel aan die skryfproses: "‘You never finish a poem; you just abandon it'" (67).

Die aanvang en afloop van ? verhouding word ook vergelyk met ? film wat "geblik" (24) word, soos in Tachycardia (1990:44) se "It's canned". So sit "twee ou dykes" in "Bronx Blues" (9) met hul harte waar "verlore liefdes soos katakombes" bewaar word en kyk na die "draaiboek van [hul ...] teleurstelling". Ook kyk die spreker in ? ander gedig na die "sleg gerepeteerde film" van die liefde en vra: "Boots die lewe dalk die kuns na?" (54). Elf jaar vroeër besin Hambidge oor dieselfde vraagstuk in Ewebeeld (1997:42): "Die gedig kan soms die ervaring vooruit loop."

Die spreker se ervaring van die verhouding wat op die rotse loop, skipbreuk ly, eenvoudig agtergelaat of "geblik" word, word in "stukkende" verse uitgedruk. Soos reeds uit my bespreking afgelei kon word, skep die talle ooreenkomste in verskillende verse in Koesnaatjies en vroeër gedigte van Hambidge die indruk dat daar deurlopend ? gelyksoortige stem teenwoordig is. Soos wat die stemme van sprekers in verskillende gedigte dikwels dieselfde klink, klink die "stemme [van geliefdes] in afsegging eenders" (13). "Jy skryf my af, ek skryf jou uit" (51) is die spreker se verweer in "Die karnaval van die liefde". Hierdie woorde herinner sterk aan die gedig "Driepas" in Die verlore simbool (1991:29) waarin die spreker verklaar: "Eens het ek ons liefde opgeskryf toe jy my onverwags drie maal afskryf. En nou het ek jou drievoudig uitgeskryf."

"Die karnaval van die liefde" wat die spreker in Copocabana, Rio de Janeiro, meemaak, is terug te vind in "The girl from Ipanema" (16) waar ? vrou "met haar waatlemoenboude in ? tanga oor die Copocabana" stap, "? vrugteslaai van uitnodiging" wat die spreker met haar oë "eet".

Vroue word op ? soortgelyke wyse in ander gedigte in Koesnaatjies geobjektiveer en voyeuristies in die gym en in die kroeg dopgehou. Hierdie aktiwiteit blyk dieselfde verweer as die "uitskryf" van die geliefde teweeg te bring en word in "spulse" verse beskryf wat miskien nie die niegay persoon sal aanspreek nie. In "Hasta Manana Baby" (22) spreek sy haar slagoffer aan: "Ek slag jou af en jou lyf hang in die koelkas van my verbeelding." Wanneer Hambidge 23 jaar vroeër in haar debuut, Hartskrif (1985:63), oor Gerrit Achterberg se vermoorde geliefde skryf, hang dié interessant genoeg ook in ? slaghuis wanneer daar oor haar gedig word. Hierdie "slagting", wat as 't ware die skryf oor ? geliefde is, is vir die spreker kennelik iets van ? soort afrekening.

In ? vroeër bundel sê die spreker aan haar geliefde: "Met jou word alle liefdesbeelde uit Hooglied nuut" (Ruggespraak 2002:19), maar wanneer die spreker in Koesnaatjies die "gewillige girlfriend" van haar vriend wil afvry, kan sy nie die wyshede van Salomo korrek aanhaal nie: "(jou borste is soos twee hanslammers of so iets?)" (38). Laasgenoemde woorde gee te kenne dat die "spulse" of lyflike nou die spreker se gevoelslewe oorheers. Tekenend hiervan is die gedigtitel "Alle paaie lei na drome" (45), wat natuurlik inspeel op die gesegde "alle paaie lei na Rome", en later in die bundel katabaties verander word na "alle paaie wys na genot" (60). Dit is asof daar by die ouer wordende spreker/digter iets van ? sinisme ingetree het as dit by liefde kom. ? Ander sterk voorbeeld hiervan is die verdraaiing van Peter Blum se "Ballade van die getroude bemindes": "Na bykans twee dekades - sonder skuldgevoel of verdriet - wonder ek met vertedering: O, wat het geword van Elmarie of Isabeau of Antoinette of Eunice en Beatrice? Sou hulle weet alle paaie ly uiteindelik hiernatoe?" (45, my kursivering). "[V]an ware liefde weet ek als," sê die spreker sarkasties in "Take a chance on me" (29).

Soos miskien reeds afgelei kon word uit enkele gedigtitels wat hier aangehaal is, is daar verskeie verwysings na musiek, en veral na die musiek van die popgroep ABBA. Dié titels funksioneer as ? klankbaan vir die gedigte en versterk die parodiërende uitwerking daarvan. Saam met die vele intertekste, verwysings na "whiskey-on-the-rocks", die verhouding as die Titanic of ? film en ander ooreenkomste met vroeër bundels, bou die "klankbaan" verskillende lae in die teks in wat die speurende leser baie plesier kan verskaf.

Wat vir my as beskeie Hambidge-leser egter ietwat teleurstellend van Koesnaatjies vir die proe was, is die feit dat nege van die 42 "snitte" reeds in En skielik is dit aand (2005) verskyn het. Baie van dié verse is ook van die sterkeres in die bundel as ? geheel en word vermoedelik om daardie rede aan die einde geplaas.

Die beskrywing van die gedigte as "Speelse, spulse & stukkende verse", is uiters gepas. Soms is die herhaaldelike klem op ekstase in die "speelse" en "spulse" verse, soos "e-k-s-t-a-s-e" (16) en "ekstasssssssssse" (51), en die verwysings na die spreker se vele one-night stands irriterend. ? Mens wonder ook soms of party van die "stukkende" verse nie maar in ? dagboek van Hambidge kon gebly het nie. Nogtans is dit ? interessante bundel; ? voortsetting van die (soms) "fraaie cunnilingus op Afrikaans" waaroor sy in Interne verhuising (1995:33) skryf.

In Ruggespraak (2002:17) sê die spreker: "Ek is Isis, soekend na jou, Osiris." In En skielik is dit aand (2005:69) sê sy: "Ek is Osiris wagtend, wagtend op Isis." In Koesnaatjies vir die proe (69): "ek, ? latter-day Osiris. Op ? tyd sou jy Isis wees [...] Ek glo nie meer aan die pot goud of die reënboog nie." Dit wil voorkom asof dit nie net die boek Koesnaatjies vir die proe/Palindroom is wat op die rak gaan sit nie, omgevalle boekekas of te not.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top