Koerante as geskiedenis vir Wouter

  • 0

Dagsê Wouter

Lyk my jy heg waarde aan daardie absurde stelling “vandag se nuus is more se geskiedenis”. Ek ys as ek dink dat ’n verslaggewer, maak nie saak hoe goed hy is nie, die geskiedenis moet opteken. Jy wéét mos elke koerant het ’n sekere, noem dit maar aanslag, wat die politiek betref en die joernalis kleur sy storie soos die magte die sy voorskryf, hetsy die redakteur, die koerantmagnaat of die partyleier.

Dink jy nou werklik dat die koerant wat, sê Mugabe, goedgesind is sal ’n getroue weergawe van die toestande en gebeure in Zimbabwe wees? Wat dink jy byvoorbeeld van Amerikaanse beriggewing voor hulle Koeweit gaan “red” het? Hulle moes die publiek en die kongres se goedkeuring kry en die publiek was so opgesweep hulle sou persoonlik die eerste en naaste Arabier verwurg het.

In die fliek The Best Little Whorehouse in Texas spog die joernalis op ’n stadium “I can make the mayor's own kids throw him with stones.” ’n Bekende rugbyspeler het op ’n kol vir my gesê dat ’n koerant jou uit die span kan skryf. Ek het een keer geluister na ’n onderhoud wat Chris Louw met die destydse redakteur van die Volksblad gevoer het en, ek weet nie of die redakteur sy mond verbygepraat het nie, maar hy het erken hulle (die redakteurs van daardie koerantgroep) is aangesê om die Ja-stem te stoot. ’n Vriend van my wat ’n wêreldklasbokser afgerig het, het geweier om met die koerante te praat nadat ’n sportjoernalis hulle aspris verkeerd aangehaal het.

Nee Wouter, koerante is nie objektief nie. ’n Berig in die Wall Street Journal sal ’n ander aanslag ten opsigte van ’n politieke gebeurtenis hê as die New York Times, so ook met byvoorbeeld die Guardian aan die een kant en die Daily Telegraph aan die ander kant in die VK, of Beeld teenoor Die Transvaler (goed, ek weet hy bestaan nie meer nie) hier. Die goed is meningvormers en nuusverspreiders Wouter, dis al.

Terloops, jy moet my nog vertel wat die New York Times se argiewe sê oor die Rooihuide, hulle agteruitgang ens. En nee, mens dink of droom nie in ’n taal nie.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top