Kobus en sy hippies

  • 0

Beste Kobus

Dankie vir die oulike stukkie oor die hippies. Ek het nie die gesprek tussen jou en Hans gevolg nie, maar ek het jou informasie leersaam gevind. Ek het die afgelope jare al na ’n paar dokumentêre oor die hippies gekyk, en ek vind veral die progressie in die hippies se religieuse uitkyk interessant.

Jy is reg dat die hippies besonder na aan die natuur geleef het en dan ook die natuurwette in ag geneem het. Dit was nie asof die hippies wegbeweeg het van spiritualiteit nie, maar eerder wegbeweeg het van georganiseerde godsdiens. In hierdie wegbeweeg aksie, was dit dalk van belang om op te merk dat verskillende godsdienste en geloofsvorme beproef is en dit is asof hierdie groepe naarstiglik opsoek was na ’n geloof of spirituele konsep wat vir hulle werk.

Baie Oosterse gelowe is nagevolg en ’n oulike staaltjie uit daardie tyd is natuurlik hoe die Beatles die hulp van ’n guru Mharishi Mahesh Yogi, ingeroep het. Die lede van die groep het natuurlik celebrity-status aan hierdie guru-praktyke verleen, en kort voor lank het dit gewemel van die guru's daar in Kalifornië! Tog het die Beatles gou ontnugter geraak met Guru Yogi en alle bande met hom verbreek. Verskeie mense meen dat dit juis Yogi is wat met die Beatles uitgeval het oor hul dwelmmisbruik, terwyl andere glo dat dit eerder die Beatles is wat nie meer die Guru se "transcendental meditation" tegnieke kon sluk nie.

Die LSD-kultuur het ook afgewater. LSD het volgens baie eintlik die oorspronklike idee van ’n onafhanklike "anti establishment"-tipe bestaan afgebreek en veroorsaak dat die hippie-kultuur in ’n sinnelose orgie van partytjies, dwelmmisbruik, prostitusie, armoede en algemene smerigheid ontaard het. George Harrison se ervaring in 1967 in San Francisco is die moeite werd om te bestudeer.

Hy merk die volgende op:

It certainly showed me what was really happening in the drug culture. It wasn't what I'd thought – spiritual awakenings and being artistic – it was like alcoholism, like any addiction. The kids at Haight-Ashbury had left school and dossed out there, and instead of drinking alcohol they were on all kinds of drugs.
That was the turning-point for me – that's when I went right off the whole drug cult and stopped taking the dreaded lysergic acid. I had some in a little bottle (it was liquid). I put it under a microscope, and it looked like bits of old rope. I thought that I couldn't put that into my brain any more.

Vandaar het baie hippies soos jy noem hulle wortels na die Christenskap herontdek, en alhoewel hulle dalk nie teruggekeer het na hoofstroom kerke nie, het hulle beslis ’n rol gehad in die totstandkoming van vele nuwe groepe, onder andere die Charismatiese kerke. Ek het gaan oplees oor die Jesus Movement, en die artikel kan dalk ander mense meer insig gee oor die beweging.

Ek wonder of daar nie ook tans in die Afrikaner-gemeenskap hierdie tipe van geloofsprogressie bestaan nie. Baie breek weg van die susterskerke, baie word ateïste of agnostici en baie ondersoek new-age gelowe. Tog wonder mens of hierdie nie ook die klimaat skep vir die vorming van ’n nuwe Christelike beweging, sodra die wroeging teenoor die bestaande kerklike strukture afgeskud is, en ons onsself uitgewoed het nie?

Groete

FB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top