Kobus en die Opgestanes

  • 0

Beste Kobus

Ek is werklik beïndruk met jou terugvoer oor die Opgestanes wat jy aan Oom Daan gerig het. Ons het vroeër ’n gesprek gehad rakende die Ark, en alhoewel my opinie was dat mens nie eers die moeite hoef te doen om God se Wonderwerke aan die ongelowiges te verduidelik nie, stem ek beslis met jou saam dat dit baie interessant is om bietjie verder te analiseer en die konteks van die Wonderwerke te openbaar.

Ek het toe self verder gaan ondersoek instel, na aanleiding van Oom Daan se bewerings, en dit was duidelik dat hy die kat aan die stert beet het, met sy verwysing na die Opgestanes as Zombies. Uiteraard is die Evangelie deurspek van God se Wonderwerke, en die onsinnigheid van Oom Daan om dit gelyk te stel aan Zombies, laat beslis ’n wrang smaak in die mond.

Ek het opgelees oor die Zombie-fenomeen, en dit is iets wat heeltemal vreemd en verwyderd is van die Christelike geloof. Dit blyk deel te wees van die Voodoo-praktyke van in eilande soos Haiti gepraktiseer word. ’n Zombie word deur middel van heksery uit die dood opgewek, en bewandel die aarde dan steeds as ’n dooie mens. Die persoon is dus geensins ’n opgestane nie. Die Opgestanes waarna in die Bybel verwys word, het ten volle na hulle liggaamlike toestand teruggekeer, nes hulle was voor hulle afsterwe. Hulle het hulle verstand behou en het normale lewens gelei, asof hulle geensins die tydige met die Ewige verwissel het nie.

Daarenteen, is die Zombies, waarna oom Daan verwys, monsteragtige kreature, wat rondloop in ’n dooie toestand. Hulle is heeltemal ontneem van verstand en menslikheid. Verder word die Zombie, deur die heks wat hom opgewek het beheer. Die Zombie, het dus geen beheer oor sy aksies nie, en word basies soos ’n marionet deur die heks bestuur. Sodanige aktiwiteit sou soos jy in jou brief noem, beslis deur die mense van daardie tyd raakgesien word, aangesien dit ’n aaklige, boosaardige en ongemaklike gesig sou wees om te aanskou. Die ware Opgestanes, soos beskryf in die Bybel, was so normaal soos voorheen, en daar was geen gruwelike ongemak te bespeur by hulle opstanding nie.

Ek is uiters ongemaklik oor die feit dat mense poog om God te speel, en ander uit die dood op te wek, soos wat ons in die Voodoo-praktyke sien. Natuurlik lei dit tot ’n fatale gemors en ek is oortuig dat dit gelyk gestel kan word aan duiwelaanbiddery. Ek weet nie of jy gehoor het van hierdie arme meisie wat hier in Johannesburg onlangs aan die brand gesteek is, toe sy ’n satanistiese ritueel bygewoon het nie? Dit wys jou net die gevolge wat dit vir ’n persoon kan inhou, indien jy hierdie praktyke beoefen en direk in stryd met God se Woord optree.

Ek hoop maar dat diegene wat die Woord en God se Wonderwerke so ligtelik opneem, ag slaan op die waarskuwings wat so gereeld aan ons gestuur word. Mens wil nie he dat hulle in hierdie bose slaggate trap nie, en ek hoop hulle sien gou die Lig!

Groete

Tant Alie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top