Kobus en die Katolieke

  • 0

Beste Kobus

Ek hoop dit gaan goed. Ek het maar ’n moeilike tyd agter die rug, maar ons kan net aanhou Glo en vertrou dat dinge vir die beste sal uitwerk, want soos almal van ons kan getuig, is daar ’n plan met alles, en laat God nooit Sy kinders in die steek nie.

Daar is heelwat interessante dinge wat jy in hierdie brief uitwys.

Die ding wat vir my uitstaan is waar jy skrywe oor Luther en Franciscus. Jy noem: "Dus, hulle persoonlike belewenis van God is opreg en in skrille kontras met die beleid van die Katolieke kerk."

Dit is presies wat ek vir Oom Daan ook wou noem. Die Kerkverband van ’n persoon maak hom nie meerderwaardig of minderwaardig teenoor enige ander Christen nie. Dit is hier waar God intree en die persoon toelaat om ’n persoonlike verhouding met Hom te hê. Persoonlik en opreg.

Ek ken nie baie Katolieke nie, en het nog nie met ander Katolieke, behalwe Cornelius oor Geloof gepraat nie. Ek is wel seker dat daar wel baie Katolieke is wat so ’n inspirerende persoonlike belewenis met God ervaar, en glad nie deur die beleid van die Katolieke Kerk beïnvloed word nie.

Die probleem met die Katolieke Kerk het jy al vir ’n lank ruk hier uitgewys, maar ek dink die belangrikste element wat vir my uitstaan is dat dit eerder ’n organisasie is wat gedien en aanbid word, en dat God heeltemal uit die prentjie gelaat is.

Ek is baie tuis in my Gemeente, soos ek al genoem het. Dit kwel my tog dat soveel mense steeds onder die indruk is dat jy slegs God kan ontmoet deur ’n spesifieke kerk te besoek of ’n spesifieke Kerk se leringe aan te hang. Ek dink dat die Kerk daar staan om mense te lei en ’n Gemeenskap van Gelowiges op te bou, maar die persoonlike ervaring van God is nie, en word nie bepaal deur ’n Gemeente nie.

Ek weet nie wat jou siening hieroor is nie, maar ek is oortuig dat selfs iemand wat geensins betrokke is by die Kerk nie, tog die geleentheid verkry om daardie spesiale verhouding met ons Verlosser aan te knoop!

Groete

Tant Alie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top