Beste Kobus
Baie dankie vir jou brief van so week of wat gelede! Ek is nou weer ’n ruk lank in die duister gewees, as gevolg van ’n probleem met ons internettoegang. Jammer dat ek dus nou eers die tyd kry om te reageer.
Ek hoor wat jy sê oor Cornelius, en ek het besef toe ek sy briewe lees, dat dit nie eers meer enigsins saak maak wat ons vir hom vertel nie. Hy is so koppig, dat hy maar sy eie kop hard moet stamp. Ek het eintlik nog maar altyd gehoop dat hy weldra die lig sal begin sien, aangesien hy ten minste nog op ’n manier glo. Tog het die manier hoe hy allerlei vreemde gelowe in sy uitkyk betrek, my tot die konklusie laat kom dat hy eintlik maar net soos die ateïste is. Hulle wil maar net nie die lig sien nie! Ek kry hom intens jammer, en ek bid vir beterskap, maar verder kan ons seker nie veel doen nie. Dit is net jammer om sy spirituele verval so te aanskou met tye.
Ek stem baie saam met Erika oor die Ark. Ek sien glad nie die punt in om te staan en redeneer met Cornelius en al die ateïste oor hoe God hierdie Wonderwerk laat plaasvind het nie. Vir God is niks onmoontlik nie, en ons kan maar net aanvaar dat God se Woord duidelik is oor die gebeure rondom die Ark. Eendag sal hulle oë oopgaan, en ek hoop dit is gou, want ons beweeg in ’n donker tydperk in, en Geloof is nou belangriker as ooit!
Groete
Tant Alie

